Follow the best medical aid in the industry on facebook

7 wenke wat jou sal help om die Medihelp Monster te oorwin

  •   by Medihelp
  •   18 Februarie 2016
  •   425 view(s)
Is jy dapper genoeg vir vanjaar se Medihelp Sunrise Monster?
Ons het sewe wenke saamgestel wat jou sal help om hierdie monster van ’n wedloop, wat bekend staan as een van die beste voorbereidingswedlope vir die Comrades Marathon, te oorwin:

1. Eet die regte aandete
Dis ’n wanopvatting dat jy voor ’n groot wedloop baie pasta vir aandete moet eet om jou koolhidraatinname te verhoog. Eet liewer die soort aandete wat jy normaalweg voor ’n lang drafsessie sou eet. As jy ’n dag voor die wedloop skielik jou dieet verander, kan jy opgeblase en winderig voel – en dis nie die beste manier om die Monster aan te pak nie!

2. Moenie te veel drink nie
Drink wanneer jy dors is, maar vermy baie vloeistowwe net voor die wedloop sodat jy nie gereeld ’n draai hoef te loop nie. Dis algemene praktyk om twee uur voor die wedloop 150–300 ml vloeistof te drink. Daar is dan genoeg tyd om dit uit jou sisteem te kry voordat die wedloop begin. As jy vir ’n paar uur lank nie water of ’n energiedrankie gedrink het nie, drink dan elke uur ’n halwe tot ’n hele koppie vol. Oefen jou drinkroetine voor en tydens lang drafsessies en pas op die dag van die Monster die metode toe wat die beste vir jou werk.

3. Moenie oor slaap bekommer nie
Jy mag dalk voor die wedloop lekker slaap, of jy mag dalk nie. Moet jou nie daaroor bekommer as jy glad nie aan die slaap kan raak nie. Menige atleet sukkel om voor ’n groot wedloop te slaap, maar het die volgende dag steeds die beste wedloop van hul lewens.

4. Trek aandag
Die Medihelp Sunrise Monster se Gaan Groen-kompetisie is nou reeds ’n gevestigde tradisie en die organiseerders het al amper alles gesien, van groen feetjies tot atlete in ’n Sarel Seemonster-mondering. Die moontlikhede is oneindig! Jy staan boonop die kans om een van twee R1 000-pryse in ’n gelukkige trekking te wen as jy iets groen aantrek en op die dag van die wedloop raakgesien word!

5. Handhaf ’n egalige tempo
Met al die opwinding by die wegspringarea is dit maklik vir die adrenalien om oor te neem en om te vinnig te begin. Probeer om die wedloop 10 sekondes per kilometer stadiger as jou doelwittempo te begin. As jy te vinnig wegspring, sal jy dit later berou. Vermy die gevreesde “muur”, draf stadiger en spaar jou energie vir die laaste paar myle wanneer jy dit regtig nodig het.

6. Breek die afstand op in seksies
’n Langafstandwedloop kan intimiderend wees, dus moet jy die totale afstand opbreek in dele om jou geestelik te help om die wedloop baas te raak. Kies ’n metode wat vir jou werk: volgens afstande, volgens paaie, heuwels of die verste punt vanaf die wegspring sodat die res net “afdraande pad” is.

7. Geniet dit!
Jy het hard gewerk om vir die wedloop voor te berei – jou Saterdagoggende opgeoffer om lang drafsessies te oefen; vroeg opgestaan om voor werk nog gou te gaan draf; met al die pyne en skete saamgeleef – dus verdien jy om op die groot dag ’n bietjie pret te hê. Onthou dus om die wedloop te geniet en om jou prestasies te vier.

Aanlyn inskrywings vir die Medihelp Sunrise Monster is nou oop
Jy kan nou aanlyn inskryf vir die Medihelp Sunrise Monster wat op Saterdag 5 Maart 2016 by die Harlequin-klub in Totiusstraat, Groenkloof, Pretoria gehou word.

Klik hier
vir inligting oor die wedloop.

 Om vir die Sunrise Monster in te skryf, klik hier.
Load more comments
Thank you for the comment! Your comment will be displayed to others, once it has been approved.
New code
comment-avatar

 

speak to an accredited adviser

Please complete the fields below and we will phone you back with accredited advice

GO