Follow the best medical aid in the industry on facebook

Die risiko van te veel sout inneem

  •   by Medihelp
  •   08 Maart 2016
  •   1830 view(s)
Sout in jou dieet verskaf sodium aan jou liggaam, ‘n lewensnoodsaaklike mineraal. Hoewel inname van die regte hoeveelhede sodium essensieel is, kan ‘n hoë verbruik hiervan ernstige wanbalanse in jou liggaam veroorsaak, en jou risiko verhoog om verskeie potensieel ernstige mediese probleme op te doen. 

Studies het onlangs bevind dat die brein soortgelyk reageer op sodium as op substansies soos heroïen, kokaïen en nikotien. Dit mag verklaar hoekom ‘n mens so maklik te veel voedsel met ‘n hoë sodiuminhoud inneem. Ongelukkig kan te veel van ‘n goeie ding in dié geval fataal wees.

Só kan sodium jou gesondheid raak:

Niere
Sodium speel ‘n sleutelrol in die balansering van die vloeistofvlakke in ons liggame deur aan die niere te sein wanneer water behou moet word en wanneer dit uitgeskei moet word. ‘n Hoë-sodium dieet kan inmeng met hierdie delikate proses en nierfunksie laat afneem. Die gevolg is dat minder water deur die liggaam afgeskei word, en dit mag lei tot hoër bloeddruk. Hierdie vermeerderde druk op die niere kan lei tot niersiekte of nierprobleme vererger by diegene wat reeds aan dié toestand ly.

Hoë-sodium diëte mag ook jou risiko verhoog om nierstene te ontwikkel. Die hoofoorsaak van nierstene is urinêre kalsium, ‘n mineraal wat merkbaar toeneem in diegene met ‘n hoë soutinname. 

Bene
Kenners meen dat oormatige uitskeiding van kalsium in die urine jou risiko verhoog om beendigtheid te verloor. Volgens kenners word hierdie oormatige verlies aan kalsium oor ‘n lang tydperk veral by  post-menopousale vroue geassosieer met osteoporose.

Hart
Weens die uitwerking van sout op vloeistofretensie, kan te veel sout in die dieet van sommige mense lei tot hoë bloeddruk. Hoë bloeddruk is die krag waarmee bloed teen die wande van jou arteries of slagare druk wanneer die hart bloed pomp. Hoë bloeddruk kan lei tot ernstige toestande, soos beroerte of hartversaking. Hoewel bloeddruk natuurlikerwys met ouderdom verhoog, kan ‘n laer soutverbruik help voorkom dat jou bloeddruk te veel styg.

Vel
Oormatige sout in jou dieet kan ‘n simptoom genaamd edeem veroorsaak. Edeem word gekenmerk deur swelsel, veral sigbaar in die hande, arms, enkels, bene en voete, wat deur vloeistofterughouding gekenmerk word. Uitermate soutverbruik veroorsaak dikwels edeem, hoewel dit ook ‘n simptoom kan wees van ‘n verskeidenheid ander gesondheidprobleme wat strek van menstruasie tot ‘n genetiese predisposisie. Edeem is nie lewensbedreigend nie en is ‘n simptoom van ‘n ander onderliggende gesondheidstoestand, eerder as ‘n toestand op sy eie.

Maag
In 1996 het ‘n studie bevind dat maagkanker wat gelei het tot die dood van beide mans en vrouens, verbind kon woord aan soutverbruik. Hoë soutinname word ook geassosieer met maagsere. Die rede hiervoor is nog nie heeltemal duidelik nie, maar een studie teoretiseer dat sout ‘n negatiewe uitwerking kan hê op die slymvliese van die maagwand, wat daartoe kan lei dat die maagweefsel abnormaal en ongesond kan raak.

Jy kan jou soutinname so beperk:
• Moenie sout by tuisgemaakte disse voeg nie
• Geur jou kos met speserye en kruie in plaas van sout
• Lees die etikette van voorbereide en verpakte voedselsoorte en koop dit wat die minste of geen sout bevat nie
• Eet meer vars voedsel
• Kies ongesoute neute of sade, droë bone, ertjies en lensies
• Spoel blikkiesgroente onder water af voor gebruik
• Beperk die hoeveelheid southappies wat jy eet, soos aartappelskyfies en pretzels
• Wanneer jy uiteet kan jy vra dat jou gereg sonder ekstra sout voorberei moet word

Sluit vandag nog aan by Medihelp!
Neem beheer van jou gesondheid deur by Medihelp mediese skema aan te sluit, waar ons voordele vir voorkomende sorg bied soos gesondheidstoetse om jou bloedglukose, cholesterol en bloeddruk te meet.
Load more comments
Thank you for the comment! Your comment will be displayed to others, once it has been approved.
New code
comment-avatar

 

speak to an accredited adviser

Please complete the fields below and we will phone you back with accredited advice

GO