Follow the best medical aid in the industry on facebook

Verkoue of griep? Ken die verskil

  •   by Medihelp
  •   24 Mei 2016
  •   615 view(s)
Die winter is hier en so ook die verkoue-en-griepseisoen. Die meeste van ons sal begin snuif en hoes, en sal sommer net aaklig voel. Dit sal waarskynlik net ’n gewone verkoue wees, maar hoe weet jy of dit nie dalk die gevreesde griep is nie?

Hier is ’n paar basiese riglyne en behandelingswenke.

Wat is ’n verkoue?
’n Verkoue word veroorsaak deur enige van meer as 200 verskillende soorte virusse. Sodra jy verkoue kry, sal die simptome binne een tot vyf dae verskyn. Die eerste teken is gewoonlik ’n irritasie in die neus of ’n krapperige gevoel in die keel, met ’n waterige neusafskeiding en nies wat binne ure daarna volg.

Die verkoue behoort binne sewe dae vanself op te klaar, met enkele simptome soos ’n hoes wat vir nog ’n week of so kan voortduur.

Wat is die simptome van ’n verkoue?
• ’n Loopneus of ’n toe neus
• ’n Seer keel
• Nies
• Geringe tot matige koors
• Hoes
• Hoofpyn of lyfseer
• Effense moegheid

Sluit by Medihelp Mediese Skema aan ter wille van jou gesin se gesondheid
Medihelp bied tien verskeie opsies om jou gesin se mediese behoeftes te pas. Om jou te help om die regte opsie vir jou gesin te kies, gesels gerus met ʼn Medihelp-adviseur deur hier te klik en die vorm in te vul.


Hoe word ’n verkoue behandel?
’n Verkoue is vir die eerste twee tot drie dae aansteeklik, dus moet jy tuis bly en rus. Omdat dit ’n virusinfeksie is, sal behandeling met antibiotika nie doeltreffend wees nie. Medisyne wat jy sonder voorskrif kan koop, soos ontstuwingsmiddels en anti-inflammatoriese medisyne, kan egter help om simptome soos kongestie en koors te verlig. Drink baie water om dehidrasie te voorkom.

’n Verkoue sal binne ’n paar dae opklaar, maar jy moet ’n dokter raadpleeg indien daar na ’n week nog geen verbetering is nie of as jy ’n ernstige of voortdurende koors ontwikkel. Dit kan ’n teken wees dat jy ’n sekondêre bakteriële infeksie (soos sinusitis of streptokokkusinfeksie) ontwikkel het wat antibiotika vereis. ’n Aanhoudende gehoes kan ook ’n teken van asma of brongitis wees.

Hoe voorkom ek ’n verkoue?
Hier is ’n paar maniere hoe jy dié minder ernstige maar irriterende aandoening kan keer:

Vermyding
Omdat verkoues so maklik versprei, is vermyding die beste voorkomingsmaatreël. Bly weg van siek mense en moet nie eetgerei of ander persoonlike items soos ’n tandeborsel of handdoek met ander deel nie.

Goeie higiëne
Pas goeie higiëne toe. Was jou hande gereeld met warm water en seep om ontslae te raak van enige kieme waaraan jy moontlik deur die dag blootgestel is, of gebruik ’n handreiniger met ’n alkoholbasis. Moet nie met ongewaste hande aan jou neus, oë en mond vat nie. Bedek jou mond en neus as jy hoes of nies, en was altyd jou hande na die tyd.

Wat is seisoenale griep?
Griep word veroorsaak deur een groep virusse – die influensavirusse. Griep slaan gewoonlik vinnig toe, met ’n koors, lyfseer en merkbare gebrek aan energie wat dadelik voorkom. Die koors sal gewoonlik vir ’n dag of twee duur, alhoewel dit tot vyf dae lank kan aanhou.

Tussen dag twee en dag vier van die siekte sal die respiratoriese simptome begin toeneem. Verkouesimptome kan ook voorkom.

Griep sal by die meeste mense vanself opklaar, maar soms is mediese behandeling nodig.

Wat is die simptome van griep?
• ’n Droë hoes
• Matige tot hoë koors
• ’n Seer keel
• Kouekoors
• Erge spier- of lyfpyn
• Hoofpyn
• ’n Toe of loopneus
• Moegheid (wat tot twee weke kan duur)
• Sommige mense kan ook naarheid en braking ervaar, maar dis meer algemeen by kinders

Hoe word griep behandel?
Die beste behandeling in die meeste gevalle is om baie vloeistowwe te drink en te rus. Ontstuwingsmiddels en pynstillers wat jy sonder ’n voorskrif kan koop, kan help om die simptome te verlig en kan jou beter laat voel. Onthou om nooit aspirien vir kinders te gee nie. Drink baie vloeistowwe om ontwatering te verhoed.

Jou dokter kan moontlik antivirale medisyne voorskryf as behandeling van griep. Hierdie medisyne kan die duur van die siekte verkort en komplikasies soos longontsteking verhoed, maar jy moet dit neem binne die eerste 48 uur nadat jy siek geword het.

Wanneer moet ek ’n dokter gaan sien?
Raadpleeg jou dokter indien jy ’n risiko vir griepkomplikasies het. Die volgende persone het ’n risiko om komplikasies te ontwikkel:

• Mense ouer as 50
• Swanger vroue
• Kinders jonger as twee jaar
• Mense met verswakte immuunstelsels weens MIV/vigs, steroïedbehandeling of chemoterapie
• Persone met chroniese long- of hartsiektes
• Mense met metaboliese afwykings soos diabetes, anemie of niersiektes
• Mense wat permanent in sorgfasiliteite soos versorgingstehuise woon

Kontak jou dokter dadelik indien die simptome vererger of indien jy tekens van longontsteking ontwikkel, soos die volgende:

• Sukkel om asem te haal
• ’n Baie seer keel
• ’n Hoes wat groen mukus voortbring
• Hoë, aanhoudende koors
• ’n Toe bors

Hou kinders fyn dop en kry dadelik mediese behandeling indien hulle die volgende simptome ontwikkel:

• Haal swaar asem
• Geïrriteerd
• Slaperig
• Wil nie eet of drink nie
• Sukkel om wakker te word of te reageer

Hoe kan ek griep voorkom?
Die beste manier om griep te voorkom, is om daarteen ingeënt te word. Dokters beveel gewoonlik aan dat jy aan die begin van die griepseisoen in April/Mei ’n griepinenting kry.

Voorkom dat jy die griepvirus kry deur jou hande gereeld met warm water en seep te was, of gebruik ’n handreiniger met ’n alkoholbasis. Moenie met jou hande aan jou neus, oë en mond raak nie, en vermy mense wat griep of griepsimptome het.

Dis belangrik om gesonde gewoontes aan te kweek om verkoue- en griepkieme af te weer. Kry genoeg slaap, eet baie vars vrugte en groente, oefen gereeld, en bestuur jou stresvlak tydens die verkoue-en-griepseisoen en daarna.

Moet nie hierdie winter met die snuffels winter gevang word nie!
Medihelp se voorkomende sorg voordele sluit in 'n griep inenting per bevoordeelde per jaar op die meeste opsies. B's en V's geld.

Verwante artikels:
Laat jou voordele vanjaar langer hou

Outomatiese hospitaalgoedkeuring via die beveiligde webblad vir lede

Gereelde ondersoeke is noodsaaklik vir goeie gesondheid

Bronne: www.healthline.com, www.webmd.com, www.drgreene.com
Load more comments
Thank you for the comment! Your comment will be displayed to others, once it has been approved.
New code
comment-avatar

 

speak to an accredited adviser

Please complete the fields below and we will phone you back with accredited advice

GO