Follow the best medical aid in the industry on facebook

Wenke vir ’n vinnige herstel na ’n keisersneegeboorte

  •   by Medihelp
  •   18 Oktober 2016
  •   1605 view(s)

Die geboorte van ’n baba is ’n opwindende tyd: Jy kan uiteindelik die klein mensie ontmoet wat vir die laaste nege maande binne jou gegroei het. Maar om geboorte te gee, kan veeleisend vir jou liggaam wees, veral as jy ’n keisersnee gehad het. Jy het dan meer tyd nodig om te herstel as in die geval van ’n vaginale geboorte.

Hier is vyf voorstelle van Healthline.com vir ’n vinniger herstel sodat jy minder tyd seer en moeg deurbring en meer tyd het om ’n band met jou nuwe baba te vorm.

1. Kry genoeg rus
’n Keisersnee is ’n groot operasie. Nes met enige ander chirurgie het jou liggaam daarna tyd nodig om te herstel. Jy kan verwag om vir drie tot vier dae na die geboorte in die hospitaal te bly (langer indien daar komplikasies was) en jy moet jou liggaam tot ses weke kans gee om ten volle te herstel.

Dis natuurlik makliker gesê as gedaan. As jy ’n baba het wat al jou aandag verg, kan jy beswaarlik terugkruip onder die kombers en vir ure lank slaap. ’n Handige wenk is om te probeer slaap wanneer jou baba slaap. Vra jou vriende en familie om te help met die huiswerk of om vir die baba ’n droë doek aan te sit sodat jy kan gaan lê wanneer moontlik. Selfs net ’n paar minute se rus af en toe deur die dag kan help.

2. Wees lief vir jou lyf
Wees ekstra versigtig wanneer jy rondbeweeg terwyl jy genees. Probeer om so min as moontlik trappe te klim. Hou alles wat jy benodig, soos skoon doeke en kos, byderhand sodat jy nie so dikwels hoef op te staan nie. Moenie enigiets optel wat swaarder as jou baba is nie. Vra jou man of ’n vriend of familielid om jou te help. Indien jy moet nies of hoes, hou jou maag vas om die insnyding te beskerm.

Vermy inspannende oefening, maar gaan stap gerus rustig buite wanneer jy kan. Deur rond te beweeg, help jy jou liggaam om te genees en verhoed jy hardlywigheid en bloedklonte. Stap bied jou ook ’n goeie geleentheid om jou baba aan die wêreld bekend te stel.

Dis belangrik om nie net na jou liggaamlike gesondheid om te sien nie maar ook vir jou emosionele welstand te sorg. Om geboorte te gee, kan onverwagte gevoelens by jou laat opvlam. Indien jy afgemat, hartseer of teleurgesteld voel, moet nie dié gevoelens ignoreer nie. Praat met ’n vriend, jou wederhelf, jou dokter of ’n voorligter oor jou emosies.

3. Kry verligting vir die pyn
Vra jou dokter watter pynmedikasie jy mag neem, veral indien jy borsvoed. Afhangende van jou vlak van ongemak kan die dokter ’n pynstiller voorskryf of jou aanraai om ’n niesteroïdale anti-inflammatoriese middel of parasetamol sonder ’n voorskrif te neem. Buiten pynmedikasie kan jy ook ’n warmsak gebruik om die gevoel van ongemak by die wond te verlig.

4. Fokus daarop op gesond te eet
’n Gesonde dieet is net so belangrik in die maande na die geboorte as wat dit tydens jou swangerskap was. Indien jy borsvoed, is jy steeds die baba se primêre bron van voeding. Deur ’n verskeidenheid kossoorte te eet, hou jy jou baba gesond en help jy jou liggaam om sterker te word. Navorsing het bewys dat borsvoedende ma’s wat groente eet, se melk na die groente smaak en dat hul kinders dit geniet om dié groentesoorte te eet wanneer hulle later groot is!

Drink ook baie vloeistowwe, veral water. Jy het ekstra vloeistowwe nodig om melkproduksie te verhoog en om hardlywigheid te verhoed.

Wanneer jy die dokter moet bel

Die wond sal heel moontlik seer voel en jy kan vir tot ses weke na die keisersnee bloeding of afskeidings ervaar. Dis normaal, maar die volgende simptome kan dui op infeksie en jy behoort jou dokter te raadpleeg indien dit verskyn:
  • Rooiheid, swelling of etter wat uit die wond dreineer
  • Pyn om die insnyding
  • Koors hoër as 37,8 grade Celsius
  • ’n Slegte reuk afkomstig van die vagina
  • Swaar vaginale bloeding
  • Rooi of geswelde bene
  • Sukkel met asemhaling
  • Borspyn
  • Pynlike borste.

Gesels ook met jou dokter indien jy hartseer voel en dit nie lyk of jou gemoedstoestand verbeter nie, veral indien jy nie kans sien om vir jou baba te sorg nie.

Ten slotte, indien ’n vriendin of familielid ook ’n keisersnee gehad het, moet nie jou situasie met hulle s’n vergelyk nie. Elke vrou se ervaring van dié chirurgie is anders. Fokus op jou unieke geneesproses en gee jou liggaam kans om weer na normaal terug te keer.

Medihelp se lede het gratis toegang tot Medihelp se baba-program.  Sluit aan by HealthPrint vir meer inligting.  Dit is ook belangrik om eers aansoek te doen vir hospitaalmagtiging voordat lede opgeneem word.  Besoek die lede se webtuiste of die lede-app om aanlyn aansoek te doen vir magtiging.  Klik hier vir meer inligting.

Bron: www.healthline.com
Load more comments
Thank you for the comment! Your comment will be displayed to others, once it has been approved.
New code
comment-avatar

 

speak to an accredited adviser

Please complete the fields below and we will phone you back with accredited advice

GO