Back 19 Apr, 2022 - Gesondheidsbewustheid

Medihelp

By Medihelp

Back

Hand-voet-en-mondsiekte

Hand-voet-en-mondsiekte

Lees meer oor die voordele wat Medihelp bied en wat ouers van hierdie hoogs aansteeklike siekte moet weet
Read more

Wat ouers van hierdie hoogs aansteeklike siekte moet weet

Ons weet dat diere bek-en-klouseer kry, maar dit is minder bekend dat mense ook hand-voet-en-mondsiekte (HVMS) kan opdoen. Die voorkoms van hierdie redelik algemene en uiters aansteeklike virusinfeksie wat meesal kleuters en kinders affekteer, is vir vele ouers ’n bron van kommer.

Die siekte word veroorsaak deur enterovirusse, insluitend Coxsackie-virusse, en sal gewoonlik gedurende die herfs (April en Mei) en in die somermaande uitbreek by plekke waar kinders versorg word, soos kleuterskole, dagsorgsentrums en preprimêre skole. Volwassenes kan ook die siekte opdoen, maar toon normaalweg geen simptome nie.

Hoe versprei dit?
Kleuters en kinders jonger as tien jaar het die grootste risiko vir infeksie, wat plaasvind deur direkte fisieke kontak tussen mense. Dit kan ook versprei word deur kinders wat besmette voorwerpe soos speelgoed of skryfbehoeftes deel.

Volgens dr Maretha Combrink, ’n pediater wat by Mediclinic Kloof praktiseer, word die virus oorgedra deur liggaamsvloeistowwe soos speeksel en neusafskeidings asook ontlasting en selfs die vloeistof afkomstig van gebarste blasies op die vel van pasiënte met HVMS.

Ernstige komplikasies van HVMS, soos virusmeningitis en vinger- en toonnaels wat afval, kom egter nie algemeen voor nie.

Wat is die simptome van HVMS?
Die algemeenste tekens en simptome van HVMS sluit in –

  • koors,
  • seer keel,
  • moegheid,
  • ·verlies aan eetlus, en
  • klein blasies in die mond, aan weerskante van die tong, op die handpalms en die voetsole.

Simptome verskyn gewoonlik drie tot sewe dae ná infeksie.

“Dit is meesal ’n eenvoudige virusinfeksie wat binne sewe tot tien dae opklaar, selfs sonder enige behandeling. Siek kinders moet egter vir ten minste sewe dae kontak met ander kinders vermy,” volgens Combrink.

Hoe word dit behandel?
Die infeksie is dikwels gering, wat beteken die simptome kan tuis behandel word met koorsmedisyne en pynstillers wat jy sonder ’n voorskrif kan koop. “Hidrasie is ook baie belangrik, en kinders moet tuis gehou word totdat die letsels droog is,” sê Combrink.

Daar is egter gevalle waar ’n gesondheidsorgverskaffer gekontak moet word. “Dit sluit in babas jonger as ses maande wat besmet is en kinders wat sukkel om te eet of drink weens letsels in die mond, wat gevaar loop om te ontwater.”

Kinders wat weens ander onderliggende siektes immuunonderdruk is, moet ook deur ’n gesondheidsorgverskaffer behandel word. “Dieselfde geld vir kinders met ernstige simptome soos veelvuldige letsels oor ’n groot oppervlak of op die hande, voete, mond, doekarea en dye. As jou kind se simptome nie binne sewe dae verbeter nie, moet jy jou gesondheidsorgverskaffer raadpleeg.”

Medihelp se voordele
Jou kind se gesondheid is vir Medihelp belangrik en daarom bied ons omvattende mediesefondsvoordele asook die HealthPrint-Swangerskap-en-babaprogram wat jou help om na hulle om te sien.

Medihelp bied die volgende voordele op tien van ons produkte:

  • Twee bykomende besoeke by ’n algemene praktisyn, pediater of oor-neus-en-keelspesialis vir babas jonger as twee jaar;
  • Griepinenting vir kinders by netwerkapteekklinieke; en
  • Die volledige skedule standaardinentings vir kinders jonger as sewe jaar by netwerkapteekklinieke.

Die behandeling van HMVS word uit lede se dag-tot-dag-voordele of spaarrekening betaal. Sou jy of jou kind gehospitaliseer moet word, is julle verseker van onbeperkte dekking vir privaat hospitalisasie.

Lede kan hier vir ’n netwerkdiensverskaffer soek.

HealthPrint is Medihelp se gratis aanlyn gesondheid-en-welstandsprogram en bied aan lede ’n Swangerskap-en-babaprogram met hulpbronne en bystand deur middel van video’s, nuusbriewe, artikels en ons HealthyInfo-biblioteek. Lede het ook toegang op hulle gesondheidsrekords, wat hulle kan aflaai en met dokters kan deel. Klik hier vir meer inligting .

Bronne:
https://www.nicd.ac.za/assets/files/HFMDFAQ_20161031.pdf
https://www.cdc.gov/hand-foot-mouth/
https://www.mediclinic.co.za/en/corporate/doctors/6/dr-maretha-combrink.html


Share this on: