Bekamp bedrog

Bedrog is ’n doelbewuste en onwettige wanvoorstelling wat ’n ander party benadeel of potensieel kan benadeel; met ander woorde, iemand lieg doelbewus om ’n onwettige voorsprong te kry en die slagoffer (in hierdie geval Medihelp en jy as Medihelp-lid) ly skade as gevolg van dié leuen.

Hoe raak medieseskemabedrog my?

Bedrog wat met mediese skemas verband hou, raak ongelukkig ook mediese skemas se lede deurdat hul -

  • premies hoër moet styg, en
  • voordele afgeskaal moet word.

Lede van mediese skemas sowel as mediese praktisyns kan bedrog pleeg. Bedrieglike aktiwiteite deur lede sluit die volgende in:

  • Laat belangrike inligting op hul aansoekvorms uit, bv. bestaande mediese toestande en vorige lidmaatskap van ander mediese skemas.
  • Laat ongeregistreerde familie of vriende toe om dokters te besoek en voor te gee dat hulle die lid se geregistreerde afhanklikes is.
  • Heul saam met mediese praktisyns deur omkoopgeld te ontvang in ruil daarvoor dat die mediese praktisyn vals eise by die mediese skema indien.

Bedrieglike aktiwiteite deur mediese praktisyns sluit die volgende in:

  • Dien eise in vir die behandeling van ’n bevoordeelde (of bevoordeeldes) terwyl daar nie werklik mediese dienste aan hulle gelewer word nie.
  • Dien eise in vir dienste wat nooit gelewer is nie, nadat die lid omgekoop is om die dokter toe te laat om sy lidmaatskap van die mediese skema te misbruik.
  • Wysig behandelingsdatums op rekenings wat geweier is vir betaling omdat dit na die indieningstydperk ontvang is, sodat dit wel voordele kan ontvang.
  • Lewer onnodige dienste, soos om medisyne voor te skryf of toetse te laat doen wat nie regtig nodig is nie.
  • Eis vir prosedures wat ingevolge Medihelp se Reëls vir voordele kwalifiseer maar voer dan in werklikheid ’n ander prosedure uit wat uitgesluit is van voordele, bv. ’n breukoperasie word geëis maar ’n maagverkleining word uitgevoer.

Rapporteer bedrog

Indien ons saamwerk, kan ons medieseskemabedrog hokslaan! Dis hoe Medihelp die uitdaging aanpak:

  • Ons het ’n span forensiese ondersoekers wat daarop toegespits is om beweerde bedrog te ondersoek.
  • Elke rand wat gespaar of teruggevorder word deur bedrog te bespeur of voorkom, is tot voordeel van jou as Medihelp-lid, deurdat dit help om mediese inflasie so laag as moontlik te hou.

Jy kan help deur bedrog te rapporteer op een van hierdie wyses:

Jou besonderhede en enige inligting wat met jou verband hou, sal vertroulik hanteer word. Jy kan ook kies om anoniem te bly.