Back 16 Jan, 2024 - Floreer!

Back

Wat maak ’n dokter ’n goeie dokter?

Wat maak ’n dokter ’n goeie dokter?

As jy al ooit by ’n dokter uitgestap en gevoel het jou bekommernisse is nie ernstig opgeneem nie, weet jy hoekom dit belangrik is om ’n goeie een op te spoor. Maar wat presies maak een dokter beter as ’n ander?
Read more

As jy al ooit by ’n dokter se spreekkamer uitgestap en gevoel het jou bekommernisse is nie ernstig opgeneem nie, weet jy hoekom dit belangrik is om ’n goeie gesondheidspraktisyn op te spoor. Maar wat presies maak een dokter beter as ’n ander?

Dis ’n moeilike vraag, volgens Dr Karin van der Merwe, ’n algemene praktisyn in Craighall, Johannesburg, want ’n ‘goeie’ dokter het meer as net uitstekende vermoë om ’n diagnose te maak. "Terselfdertyd kan ’n huisdokter egter nie bloot op dokterstakt staatmaak nie. Jou dokter het beslis tegniese én interpersoonlike vaardighede nodig,” sê Karin.

Tegnies gesproke

Enige mediese praktisyn moet voldoen aan die tegniese vereistes van die werk: van simptome assesseer tot laboratoriumuitslae interpreteer en behandelings toedien volgens hul spesialiteit. Maar Karin wys daarop dat, aangesien die mediese veld so vinnig verander, dit heeltemal aanvaarbaar is vir jou dokter om te erken dat hulle meer tyd nodig het om seker te wees oor ’n diagnose.

“Die meeste dokters werk hard om op hoogte te bly van die jongste verwikkelinge. Maar ’n dokter wat hul pasiënt se beste belange op die hart dra, sal dalk meer spesifieke navorsing wil doen oor die pasiënt se probleem as hulle nog vrae het, eerder as om oorhaastig ’n diagnose te maak. Ek huiwer nie om soms, as ek voel dis nodig, vir my pasiënte meer tyd te vra sodat ek hul simptome deeglik kan navors nie. Partykeer gee my bestaande kennis en my nuwe navorsing vir my meer insig oor die probleem,” sê Karin.

’n Passie vir mense

Buiten die vermoë om diagnoses te maak, sê Karin dat luister een van die belangrikste vaardighede is wat ’n dokter kan hê. Jou dokter moet dit nie laat voel of hulle jou aanjaag nie; inteendeel, jy moet voel asof hulle vir jou die tyd gee om jou bekommernisse te verduidelik sonder om jou in die rede te val of hul eie mening af te dwing. Hulle moet ook jou simptome in konteks oorweeg. “Ek probeer om ’n holistiese idee van my pasiënte te kry. Ek kyk nie net na hul fisiese ervaring nie – ek vra ook wat anders in hul lewe aangaan,” verduidelik Karin.

Wat hiermee gepaardgaan is die vermoë om inligting te verduidelik op ’n manier wat aanklank by die pasiënt vind. Party pasiënte waardeer ’n bietjie humor, maar ander verkies eerder ’n formele benadering, en ’n dokter moet mense kan lees en bepaal wat die beste manier is om met hulle te kommunikeer. Maar dit maak nie saak hoe vriendelik jou dokter is nie, hulle moet altyd professioneel bly. Dit sluit in respek hê vir jou as mens, jou kulturele agtergrond en om op te tree met integriteit.

Karin merk op een van die moeilikste dele van ’n dokter se werk is om slegte nuus oor te dra. Maar, sê sy, dis ook ’n voorreg. “Jy het die geleentheid om in daardie oomblik ’n verskil te maak deur jou pasiënt met waardigheid en deernis te behandel.” Hierdie eienskappe moet deel uitmaak van ’n dokter, tesame met empatie.

Die belangrikste vaardigheid, sê Karin, is een wat nie geleer kan word nie: ’n ware liefde vir mense. “Om opreg oor jou pasiënte om te gee maak die verskil,” sluit sy af.

Wat dink jy maak 'n goeie dokter? Stem hier.

 


Share this on: