Back 16 Jan, 2024 - Floreer!

Back

Dis gevaarlik om jou mediese simptome te google

Dis gevaarlik om jou mediese simptome te google

As jy al ooit oormatige of herhaaldelike aanlyn soektogte vir gesondheidsinligting gedoen het omdat jy benoud is oor jou gesondheid, ly jy dalk aan kuberchondrie.
Read more

Dit was ’n gewone aand. My man was besig om ons oudste seun in die bed te sit terwyl ek in ons kamer na ons eenjarige omsien. Skielik het die baba in my arms erg begin opgooi. Ek het my man geroep, my seun vir hom gegee om vas te hou en gedoen wat baie ouers deesdae doen: My foon gegryp en sy simptome gegoogle in die hoop dat ek die oorsaak sou kry.

Die resultate het my gerusgestel én ontstel. Volgens Google kon die simptome bloot die gevolg wees van ’n kosallergie of melkweerstandigheid, maar dit kon ook blindederm-, long- of selfs breinvliesontsteking wees.

Ná ’n slapelose nag van waghou oor my kind, het die dokter ons die volgende dag verseker dat dit net ’n ligte maagvirus is. Ons het rustig geraak. Maar vir mense met kuberchondrie eindig dit nie altyd daar nie, sê Theresa Haarhoff-Petersen, ’n sielkundige by Beethoven Recovery Centre in Hartbeespoort.

Wat is kuberchondrie?

Kuberchondrie is woordspeling met die mediese term hipochondrie. Mense met dié toestand is oortuig dat hulle aan ’n siekte ly wat hulle nie het nie. Oxford Academic beskryf kuberchondrie as oormatige of herhaaldelike aanlyn soektogte na gesondheidsverwante inligting, gedryf deur nood of angs oor gesondheid.

Hoekom kan dit gevaarlik wees om jou mediese simptome te google?

Volgens Theresa kan mense dikwels nie hul simptome met matigheid voor oë google nie. “Mense kan hulleself ‘oordiagnoseer’ of verkeerd diagnoseer en hulleself dan volgens hierdie verkeerde diagnose probeer behandel sonder om na ’n dokter toe te gaan. Dit kan moontlik die simptome en die siekte vererger,” sê sy.

Wat is die onderliggende mediese oorsaak?

Kuberchondrie het sy oorsprong in angsversteurings soos algemene angsversteuring en obsessief-kompulsiewe versteuring, sê Dr Marlene Viljoen, ’n psigiater in Hartbeespoort. “Mense met een of meer van dié versteurings kan reeds obsessief daaroor wees om hul simptome te google en hulleself te diagnoseer. Dit maak hulle meer angstig; hulle verwag die ergste en het skrikwekkende gedagtes.

“As dit nie behandel word nie, kan dit angs-depressiewe simptome vererger en lewensgehalte negatief beïnvloed.”

Hoekom doen mense dit?

Baie mense wil ’n sosiaal aanvaarbare naam gee vir iets wat hulle beleef, sê Theresa. “Met geestelike gesondheid, voel mense baie keer pyn wat hulle nie buite kan wys nie. Sodra hulle die blaam op ’n fisiese toestand kan sit – soos diabetes of ’n hartsiekte – voel hulle beter, want hierdie siektes is aanvaarbaar vir die samelewing. Hulle kan dan die stigma wat gepaardgaan met geestesongesteldheid vermy.”

Hoe algemeen is dit om jou simptome te google?

Daar is nog geen noemenswaardige studies in Suid-Afrika gedoen nie, maar navorsing in 2015 het bevind dat 90% van mense in die Verenigde State van Amerika (VSA) al die internet gebruik het om vir inligting oor gesondheid te soek. ’n Studie wat in 2013 gedoen is, meld dat een in drie Amerikaanse volwassenes al probeer het om ’n mediese toestand aanlyn te diagnoseer.

Theresa dink dit gaan al hoe meer gebeur. “Hoe meer spanning mense ervaar, hoe meer vrae het hulle en hoe meer gaan hulle soek na antwoorde.”

Hoe kan iemand kuberchondrie bestuur?

Behandel die onderliggende angsversteuring, sê Marlene. Die kombinasie van medikasie en kognitiewe gedragsterapie (’n praatterapie wat kan help om probleme aan te pak deur denke en gedrag te verander) kan die beste manier wees om die toestand te beheer.

As jy vermoed dat jy ’n kuberchondriese aanval het, moet nie die fout maak om onophoudelik aanlyn te soek nie. Gaan sien eerder ’n gesondheidsorgpraktisyn wat die regte diagnose kan maak. Húlle moet gesaghebbend wees oor die saak – nie ‘Dr Google’ nie.


Share this on: