Back 13 Feb, 2024 - Floreer!

Back

Kan op ʼn mini-trampolien spring kanker genees?

Kan op ʼn mini-trampolien spring kanker genees?

Trampolienspring (“rebounding”) is een van die veiligste en mees doeltreffende oefeninge vir mense wat kankerbehandeling ondergaan. Dit dra ook tot beendigtheid by en is veilig vir die hart.
Read more

Spring en word gesond
Kan spring op ʼn trampolien kanker genees? Dis wat blogger Chris Wark beweer het toe hy in 2003 met kolonkanker gediagnoseer is en besluit het om nie chemoterapie en radiasie te ondergaan ná sy operasie nie. Sy arsenaal het bestaan uit ʼn dieet van slegs vars, organiese produkte en spring op ʼn mini-trampolien vir 20 minute op ʼn slag, drie keer per dag. Hy spring steeds en nou spog hy met ʼn kankervrye liggaam. Party mense sê dis die operasie wat Chris van kanker genees het, en onkoloë waarsku dat daar geen bewyse bestaan dat kankerpasiënte moet afsien van standaardbehandeling en Russiese roulette met hulle gesondheid moet speel nie. Hulle ondersteun egter die idee dat oefening veral belangrik is vir iemand wat teen kanker veg. Hulle moedig ook ʼn oefenprogram ná behandeling aan om algemene welstand en weerstand te bevorder.

 

Die ideale oefening vir mense met kanker
Het jy geweet dat jy fikser kan word en meer gewig kan verloor met “rebounding” (om op ʼn mini-trampolien te spring) as met fietsry, draf en hardloop? En dat die kans op beserings heelwat minder is? Trampolienspring oefen die hele liggaam, is sag op gewrigte, dra by tot beendigtheid en is goed vir die hart. Trouens, party studies toon dat 20 minute se spring gelykstaande aan ʼn uur se draf is.

Lees dit weer.

Al hierdie faktore maak spring een van die veiligste en doeltreffendste oefeninge vir mense wat kankerbehandeling ondergaan.

Spring om die vrugte te pluk
Een van die maniere om kanker te behandel is immunoterapie. Daar is verskeie soorte, maar dit kom daarop neer dat jou immuunstelsel gebruik word om kankeragtige selle te identifiseer, aan te val en te vernietig. Studies toon dat twee minute se spring die aantal witbloedselle in jou liggaam verdriedubbel. Dis hoekom dokters pasiënte aanmoedig om liggies te spring vir twee minute elke uur, indien moontlik. Laeintensiteitspring sluit in spring sonder om jou voete op te tel of selfs net sit op die trampolien as jy nie kan staan en spring nie.

Interessante feit
Limfatiese vloei kan slegs deur spierbeweging geaktiveer word. Dis bewys dat spring een van die beste maniere is as om dit te doen. Sodoende help dit jou immuunstelsel om gifstowwe en ander skadelike stowwe meer effektief te filtreer en jou immuniteit te verbeter.

Aangesien dit onnodige druk op gewrigte verminder, kan jy ook langer oefen as in die geval van ander kardiovaskulêre oefeninge.

Die belangrikste: dis pret! Speel jou gunsteling musiek, kyk Netflix of praat op die foon (my een vriend doen dit graag) terwyl jy spring, en jy sal verbaas wees hoe tyd vlieg. Begin geleidelik en sien of jy by 20 minute op ʼn slag, vyf keer ʼn week kan uitkom. As jy nie tyd het daarvoor nie, kan jy dit opbreek in kleiner sessies. Onthou, selfs ʼn paar minute is goed vir jou.

Waarvoor wag jy?
Die lank en die kort: soos met enige oefening, raadpleeg jou dokter voordat jy wegspring. Maar as jou geneesheer die groen lig gee, kan spring vir seker vir jou ʼn nuwe huppel in jou stap gee omdat dit jou immuniteit te versterk, limfdreinering bevorder en jou sterker en fikser maak in jou strewe na gesondheid. Lekker spring!

Bronne:
Brooks, Linda. 2003. ‘Rebounding and Your Immune System.’ Vitally Yours Press. 96 pages.
https://www.live5news.com/story/25531711/blogger-claims-he-beat-cancer-by-jumping-on-a-trampoline/
https://my.clevelandclinic.org/health/treatments/11582-immunotherapy
https://www.kenhub.com/en/library/anatomy/lymphatic-system
https://www.orientalremediesgroup.com/exercises-for-cancer-patients-its-more-important-than-you-think/


Share this on: