Back 16 Jan, 2024 - Floreer!

Back

Wat is lewendebloedanalise (LBA)?

Wat is lewendebloedanalise (LBA)?

Lokteks #2: Wat is lewendebloedanalise (LBA)? LBA gee jou ’n kykie in hoe jou liggaam inwendig werk. Dit behels ’n druppel van jou bloed intyds onder ’n sterk mikroskoop waarneem om insigte oor jou gesondheid te kry.
Read more

Die laaste paar jaar begin al hoe meer mense in alternatiewe gesondheidspraktyke belangstel. Een só ’n metode wat die aandag trek, is lewendebloedanalise (LBA).

LBA gee jou ’n kykie in hoe jou liggaam inwendig werk. Anders as ander bloedtoetse, waar ’n vaste (dooie) monster ontleed word, word ’n druppel van jou bloed intyds onder ’n sterk mikroskoop waargeneem. Dit word “lewend” genoem, want jy kan die beweging en interaksie van jou bloedselle daar en dan sien.

Dié tegniek, wat geprys word vir die potensiaal om waardevolle insigte oor jou gesondheid te gee, is aansienlik anders as gewone bloedtoetse. Dr Annelise Bunce, ’n homeopatiese dokter van Linden in Johannesburg, glo dat LBA ’n nuttige instrument in haar praktyk is. Sy verduidelik: “Terwyl bloedtoetse probeer om ’n siekte te diagnoseer, soek LBA na wanbalanse wat herstel kan word as die pasiënt hul gewoontes verander.”

LBA kan jou help om verskillende bekommernisse oor jou gesondheid beter te verstaan. Dit word gereeld gebruik om voedingstekorte te identifiseer, die immuunstelsel te assesseer en vele meer. Party praktisyns neem selfs LBA in ag wanneer hulle persoonlike gesondheidsplanne opstel.

“Ons gebruik nie LBA vir diagnose nie, maar eerder om ’n pasiënt te motiveer om hul gewoontes te verander. Deesdae is mense baie visueel. So wanneer jy vir hulle die bloed op die skerm wys, verduidelik hoe gesonde bloed moet lyk en vir hulle strategieë gee vir genesing, is hulle baie gemotiveer om dit te doen. Hulle kom ’n week later terug en sien die verskil in die bloedmonster,” sê Annelise.

Die skeptici sê hul sê

Al word LBA gewilder, is daar teenstand van die gevestigde mediese gemeenskap. Party stry dat tradisionele bloedtoetse wetenskaplik gestaaf kan word. Hulle sê verder dat interpretasies baie van praktisyn tot praktisyn kan verskil, wat tot teenstrydige uitslae kan lei.

Nóg ’n twispunt is die moontlikheid dat die uitslag verkeerd vertolk kan word. Aangesien LBA ’n visuele ontleding is, kan dit subjektief geïnterpreteer word. Dit beteken dat verskillende praktisyns dalk tot verskillende gevolgtrekkings kan kom al kyk hulle na dieselfde monster.

Nie ’n vinnige oplossing nie

“Mense soek deesdae na ’n vinnige, maklike oplossing. Hulle wil een ding hê wat vir hulle energie gaan gee en oombliklik gaan genees, maar dis nie hoe LBA werk nie,” verduidelik Annelise. “Ons kyk na verskeie faktore in die bloed om wanbalanse te vind en maak ’n plan om dit aan te spreek met leefstylveranderinge wat op die lang termyn iemand se gesondheid kan verbeter.”

LBA is soos om in die voorste ry van jou gesondheid te sit. Dis ’n interessante tegniek wat waardevolle insigte oor jou welstand kan gee. Maar net soos enige hulpmiddel, is dit nie sonder beperkings nie. As jy LBA oorweeg, onthou dat dit net een stukkie van die legkaart is om jou algehele gesondheid te verstaan. Raadpleeg altyd jou gesondheidsorgverskaffer vir ’n deeglike ondersoek.


Share this on: