Back 16 Jan, 2024 - Floreer!

Back

Hoekom dit noodsaaklik is om mooi na melktande te kyk

Hoekom dit noodsaaklik is om mooi na melktande te kyk

Om jou kind te leer om na hul mond- en tandgesondheid om te sien, is ’n belegging in hul welstand en ontwikkeling vir die toekoms.
Read more

Om ’n kleuter se tande te probeer borsel is soos om met ’n volgroeide luislang te stoei. Dis waarom soveel ouers hierdie byna onmoontlike taak uiteindelik laat vaar. Maar as jy nie ’n gereelde borselroetine met jou kleintjies volg nie, kan gaatjies en spraak- en spysverteringsprobleme kop uitsteek.

Volgens dr Wilmari Kruger by The Gentle Dentist in Pretoria is dit ’n belegging in hul toekomstige gesondheid en ontwikkeling as kinders geleer word om hul mond en tande gesond te hou.

“Ouers onderskat dikwels hoe belangrik dit is om na melktande om te sien. Hulle is ook nie noodwendig bewus daarvan dat dié tandjies verskeie noodsaaklike funksies vervul nie. Babatande is byvoorbeeld plekhouers vir permanente tande. As hierdie tandjies getrek moet word omdat hulle gaatjies het, veroorsaak die gapings dat die tande skuif en nie in lyn is nie. Wanneer dit gebeur, moet die kinders ortodontiese behandeling ontvang sodra hul permanente tande uitkom.”

Babatande help kinders ook om klanke reg uit te spreek en behoorlike spraak te ontwikkel. Gapings beïnvloed hoe hulle praat en kan later tot probleme met taalontwikkeling lei en spraakterapie noodsaak.

Om kos behoorlik te kou help met die vertering en absorpsie van voedingstowwe. “Wanneer kinders tandprobleme het wat hulle vermoë om te kou beïnvloed, kan dit ook hulle spysverteringsgesondheid beïnvloed,” sê Wilmari.

Wat kan ouers doen om die daaglikse gestoei wanneer dit tyd dis om tande te borsel, te wen? Hier is ’n paar wenke:

  • Maak jou baba se mondjie ná elke voeding met ’n skoon, klam waslap skoon. Sodra die eerste tandjie verskyn, kan jy begin om twee keer ’n dag vir twee minute lank met ’n klein bietjie tandepasta – omtrent so groot soos ’n ertjie – te borsel.
  • Gebruik ’n ouderdomsgepaste tandepasta met fluoried, soos aangedui op die buisie, en voeg ’n mondspoelmiddel wat fluoried bevat by sodra jou kind ses word.
  • Maak dit pret om tande te borsel. Julle kan ’n spesiale liedjie opmaak, jy kan jou kleuter ’n oulike tandeborsel laat kies, of julle kan ’n snaakse dansie doen elke keer wanneer die tandjies klaar geborsel is. Jy kan ook ’n weeklikse tandeborselkaart maak, ’n sterretjie gee vir elke borselsessie wat sonder trane verloop en ’n klein beloning uitdink soos om ’n prettige aktiwiteit aan die einde van die week te doen.
  • Help kleiner kindertjies. Kinders wat nog nie oud genoeg is om self hulle skoenveters vas te maak nie, sal ook hulp nodig hê om hul tande te borsel. Hierdie video wys hoe om jou kind se tande reg te borsel.
  • Begin daagliks van twee- tot driejarige ouderdom af of sodra jou kind twee tande langs mekaar het, om te vlos.
  • Suiker dra by tot tandbederf, so beperk soetgoed, vrugtesappe en gaskoeldrank.
  • Moedig ’n voedsame dieet aan met kalsiumryke kosse soos suiwelprodukte en blaargroente. Kalsium beskerm en versterk tandoppervlaktes.
  • Leer jou kind om genoeg water te drink. Dit help om die mond uit te spoel en speeksel te maak, wat suur neutraliseer en ’n droë mond voorkom.

Skeduleer elke ses maande ’n besoek aan die tandarts vir voorkomende sorg soos fissuurseëls, polering en fluoriedbehandeling, en om enige potensiële probleme te identifiseer. Só kan jy seker maak jou kind se tande bly sterk, en lê jy ’n stewige grondslag vir goeie gesondheid.

Risikofaktore vir gaatjies

  • Onvoldoende mondhigiëne en te min fluoried.
  • Gereeld peusel.
  • Suiker- en styselagtige kosse.
  • Droë mond.
  •  Voeding net voor slaaptyd, en om jou baba met ’n bottel in die mond aan die slaap te laat raak.
  • Sistemiese toestande soos gastroësofageale refluks en diabetes.

Vinnige feite oor fluoried

Fluoried is ’n mineraal wat tandemalje versterk en dus gaatjies voorkom. Twee keer ’n dag met ’n ouderdomsgeskikte fluoriedtandepasta tande borsel en ’n professionele fluoriedbehandeling met elke sesmaandelikse tandartsbesoek sal genoeg fluoried verskaf om jou kind se tande te beskerm.

Bronne:   The Gentle Dentist
                 Healthychildren.org
                 Mayo Clinic

 



Share this on: