As ons die woord ‘terapie’ hoor, sien baie mense ʼn ernstige oom met ʼn bril op en geklee in ʼn tweedbaadjie in hul geestesoog. Hy loer oor sy notaboekie en vra die een na die ander vraag oor ons kindertyd. Die toneeltjie speel hom gewoonlik af in ’n vertrek met ’n rusbank waar die pasiënt rustig in ʼn knus kombers toegevou is.
Ongelukkig skrik dié geykte idee dikwels ouers af wat psigoterapie vir hulle kinders oorweeg. Vandag se terapie vir kinders is allesbehalwe die stereotipe en terapeute gebruik dikwels speel in hul sessies.
Wat is speelterapie?Louise Henderson, ʼn berader wat by die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe geregistreer is en in sandspeel en speelterapie spesialiseer, verduidelik: “Speel is ʼn noodsaaklike deel van kinderjare. Dis hoe ons onsself natuurlik uitdruk en die wêreld verken. Speel is ʼn natuurlike manier om te genees en emosionele uitdagings aan te pak. Speelterapie is dus ʼn doeltreffende terapeutiese benadering.
“Trouens, dis ʼn gespesialiseerde vorm van psigoterapie. Vir kinders is tradisionele praatterapie dikwels moeilik. Hulle gebruik eerder speel as hul taal. Wanneer hulle speel, wys hulle hul innerlike gedagtes en emosies. Dis ʼn bekende en gemaklike medium.”
Waar ‘speel’ kinders?
Die speelterapiekamer word met sorg ontwerp. In die vertrek is daar verskeie speelgoed, kunsmateriale en ander dekoritems. Die terapeut skep ʼn atmosfeer van veiligheid, aanvaarding en empatie. Sodoende kan kinders hulleself sonder om geoordeel en geëvalueer te word in hulle eie tyd uitdruk. Hulle leer hoe om beheer oor hulleself en die wêreld om hulle uit te oefen. Kinders bou ook vertrouensverhouding met die terapeut.
Terapeutiese tegnieke
Speelterapie kan ongestruktureerde spel of meer gerigte spel wees. Die terapeut gebruik verskeie tegnieke. Een só ʼn tegniek is simboliese spel: speelgoed en ander voorwerpe word ingespan om die kind te help om hulle emosies uit te druk. Poppe (soos handpoppe) word ook gebruik. Dit laat kinders toe om hulle emosies deur rolspel en fantasie uit te leef. Só leer kinders gedrag en vaardighede aan en hoe om die emosies wat hulle ontdek te hanteer.
Nog ʼn noemenswaardige tegniek is kunsterapie. Kinders gebruik teken, verf en ander kreatiewe aktiwiteite om hulleself uit te druk. Die proses van kuns ‘doen’ eksternaliseer ongemaklike emosies. Deur waarneming kry ’n mens dikwels ʼn waardevolle blik op die kind se innerlike wêreld.
Biblioterapie is nog ʼn tegniek. Volgens Louise word die vertel, skryf en lees van stories die spreekbuis van terapie. Dit bevorder ook die proses van genesing
Voordele van speelterapie
- Emosionele uitdrukking Speelterapie bied ʼn veilige plek vir kinders om hulle gevoelens uit te druk, selfs vir gevoelens wat hulle dalk nie verstaan of kan verwoord nie. Kinders kan uiting gee aan hul emosies en angs en frustrasie word bestuur.
- Kweek empatie Die kind leer hoe dit voel om in iemand anders se skoene te wees. So het hulle meer deernis met hulself en ander. Die kind leer ook om hulleself en ander te respekteer.
- Probleemoplossing Speel help om probleme en konflik te verwerk. Rolspel en speelgoed word gebruik om situasies in die regte lewe voor te stel. Dit help met probleemoplossing en om maniere te vind om moeilike situasies te hanteer.
- Selfbewussyn en insig Kinders ontwikkel ʼn dieper begrip van hulleself en hulle emosies. Die terapeut help die kind om insig in hul gedrag en gevoelens te kry. Hulle leer die kind om verantwoordelik te wees vir hulle gedrag. Dit help om meer suksesvolle strategieë vir die daaglikse lewe te ontwikkel.
- Verbeter kommunikasie Kinders wat sukkel om hulleself met woorde uit te druk vind speelterapie waardevol. Dit help om hulle sosiale en kommunikasievaardighede te verbeter. “Soos wat hulle meer gemaklik raak met die terapeut, begin kinders praat,” sê Louise.
- Bou uithouvermoë Uitdagende emosies en ondervindings kan in ʼn veilige, ondersteunende omgewing verwerk word. Kinders ontwikkel beter uithouvermoë en aanpasbare metodes om uitdagings te oorkom.
- Vaardigheid Die kind ontwikkel nuwe vaardighede wat hulle in hul lewe buite die speelkamer kan gebruik. Hulle begin hul eie vermoë al hoe meer vertrou en hulle eiewaarde en selfvertroue neem toe.
Elke element wat ʼn vaardige speelterapeut gebruik, is ʼn garingdraadjie wat in die materiaal van die kind se emosionele welstand geweef word. Dit help hulle om fier en regop te loop, hulle uniekheid te aanvaar en te besef hoeveel potensiaal hulle het. Dié terapeutiese benadering bemagtig kinders om uithouvermoë en kommunikasievaardighede te ontwikkel. En die groter emosionele intelligensie help om ʼn goeie grondslag vir hulle toekomstige welstand te lê.