Kortisol is ’n gewilde gonswoord in die welstandsbedryf – met goeie rede. Hierdie hormoon beïnvloed byna elke orgaan in die liggaam en ons het dit bitter nodig om normaal te funksioneer en stres behoorlik te hanteer. Maar wat weet ons regtig van kortisol? En hoekom word dit as ons liggaam se geheime superheld beskou?
Het jy al die een van die leeu gehoor?
Dit gaan só: Jy is op ’n staproete en skielik – ’n leeu. In ’n desperate poging om nie die Koning van die Oerwoud se volgende maaltyd te wees nie, maak jy reg om die dier met jou karatevaardighede af te weer óf om te hardloop vir jou lewe. In kort: veg of vlug.
Dis hoe ons gewoonlik kortisol se funksie eenvoudig verduidelik. Die leeu verteenwoordig emosionele en fisieke stressors in die lewe, en kortisol is die hormoon wat jou in staat stel om te reageer.
Wat is kortisol eintlik?
Uit die storie van die leeu kan jy aflei dat kortisol iets met stres te doen het. En aangesien stres gewoonlik as sleg beskou word, moet kortisol seker ook sleg wees, nè? Nee!
Kortisol is wel ’n steroïedhormoon wat in die byniere geproduseer word om ons stres- en gevaarreaksies te bestuur. Maar dit beïnvloed ook bykans elke ander orgaan in die liggaam. Dis dus noodsaaklik vir ons algehele gesondheid.
Dr Andrew Huberman, ’n neurowetenskaplike en medeprofessor aan Stanford se mediese fakulteit, beskryf kortisol as ’n energiehormoon eerder as ’n streshormoon. Dit help ons inderdaad om van die leeu te ontsnap (letterlik en figuurlik), maar dit beheer ook metabolisme, versterk die immuunstelsel, het anti-inflammatoriese eienskappe en help om infeksies te beveg. En dis nie al nie.
Kortisol:
- verbeter kognitiewe funksie,
- speel ’n rol in geheuevorming,
- beheer bloeddruk, en
- beskerm teen diabetes.
Kortisol en sy neef adrenalien is nie vyande nie. Hulle is bondgenote en beskermers wat jou die energie gee om fisieke en emosionele uitdagings aan te pak.
Te min of te veel?
Jy hoef gewoonlik nie bekommerd te wees oor jou liggaam se “alarmstelsel” nie, aangesien dit self weet wanneer en hoeveel kortisol om vry te stel. Langdurige, abnormale spanning kan egter die stelsel ontwrig.
Een van kortisol se belangrikste funksies is om te help om ’n gesonde slaap-waak-siklus te behou. Wanneer dit sinchroniseer met jou sirkadiese ritme, styg kortisolvlakke soggens om jou wakker en energiek te laat voel en daal dit saans vir herstellende slaap. Maar chroniese spanning kan vlakke hoog hou. Hierdie hoë kortisolvlakke maak dit moeilik om “af te skakel” en regtig te rus.
In uiterste gevalle kan aanhoudende stres én slaaptekort tot kortisoluitputting en Addison se siekte lei, ’n lewensgevaarlike toestand wat velverdonkering, erge uitputting en dehidrasie veroorsaak.
Te veel kortisol kan weer tot Cushing se siekte lei. Hierdie sindroom gaan gepaard met vinnige gewigstoename, maklik kneus, spierverlies, lae libido, hoë bloeddruk, beenverlies en tipe 2-diabetes.
Simptome van ’n tekort aan kortisol
- Uiterste moegheid
- Gewigsverlies en verminderde eetlus
- Lae bloeddruk
- Soutlus
- Hipoglukemie (lae bloedsuiker)
- Naarheid, diarree of braking
- Buikpyn
- Spier- of gewrigspyn
- Prikkelbaarheid en depressie
Simptome van te veel kortisol
- Gewigstoename, veral om die maag en gesig
- Velveranderings (kneusplekke, pers rekmerke)
- Spierverlies
- Gemoedswisselings, angs en depressie
- Meer dors en urinering
- Hoë bloeddruk
Wenke om stres en kortisol te bestuur
Sommige leefstylkeuses kan help om gesonde kortisolvlakke te behou.
- Slaap: Kry genoeg rus, want slaaptekort beïnvloed kortisolvlakke.
- Dieët: Vermy skommeling in bloedsuikervlakke en oormatige kafeïen.
- Oefening: Gereelde fisieke aktiwiteit help die liggaam om stres te hanteer.
- Aanvullings: Oorweeg ashwagandha, omega-3-vetsure, vitamien C, Rhodiola en magnesium. Raadpleeg jou dokter voor jy aanvullings gebruik.
Deur kortisol se rol in jou liggaam te verstaan en jou stresvlakke te bestuur, kan jy op ’n volhoubare manier gesonder leef – selfs wanneer die leeu opdaag!
Geskryf vir Medihelp deur Maritha Broschk