Ons almal het dit al ervaar – jy voel hoe jou bloeddruk styg wanneer jy in ’n stresvolle situasie verkeer. Waarom gebeur dit en is dit potensieel skadelik vir ons gesondheid?
Die liggaam en die brein is konstant in tweerigtingkommunikasie betrokke en wanneer die liggaam dus ’n stresvolle gebeurtenis beleef, reageer die brein deur jou bloeddruk te verhoog. Net so kan hoë bloeddruk jou gestres laat voel. Volgens gesondheidsopnames ervaar pasiënte met hoë bloeddruk meer dikwels stres en angs as dié sonder hipertensie.
Hoe weet jy dat jy gestres is?
Jou brein en liggaam het maniere om jou te laat weet wanneer stres onhanteerbaar word. Stres kan jou liggaam, emosies en gedrag affekteer.
Emosionele simptome sluit in –
- voel omgekrap en huilerig;
- voel bang, angstig, paniekerig of bekommerd;
- raak maklik kwaad en is kort van draad;
- swak eetlus of troos-eet; en
- voel afgestomp met geen belangstelling in die lewe nie.
Fisieke simptome sluit in –
- ’n verhoogde hartklop (palpitasies);
- droë mond;
- hoofpyn, vreemde pyne, voel duiselig of siek;
- moegheid of sukkel om te slaap;
- swak eetlus of troos-eet; en
- skielike gewigsverlies of -toename.
Gedragsimptome sluit in –
- krap aan die vel; en
- byt naels.
Wat gebeur wanneer jy gestres is?
Buiten die emosionele ongemak wat ons in ’n stresvolle situasie ervaar, reageer ons liggame deur die streshormone adrenalien en kortisol in die bloed vry te stel. Dié hormone berei die liggaam voor vir die “veg-of-vlugrespons” deur die hart vinniger te laat klop en die bloedvate te vernou sodat meer bloed na die kern van die liggaam vloei pleks van na die ledemate.
Die veg-of-vlugrespons is waardevol wanneer ons in lewensbedreigende gevaar verkeer, maar vir die meeste stresvolle gebeure in die moderne wêreld sal nie een van hierdie opsies werk nie. Chroniese (konstante) stres veroorsaak dat ons liggame vir dae of weke aaneen met reëlmaat in die hoogste versnelling funksioneer. Dit het onvermydelike fluktuasies in bloeddruk tot gevolg. Dit is problematies omdat selfs tydelike gereelde bloeddrukstygings die are, hart en niere op dieselfde manier kan beskadig as langdurige hoë bloeddruk.
Watter sielkundige en leefstylfaktore word met hipertensie verbind?
Dit is nie verrassend nie dat stresvolle werk verbind word met hoë bloeddruk by die kantoor, tuis en terwyl jy slaap. Te veel verpligtinge en ’n wanbalans tussen werk wat gedoen word en die beloning wat daarvoor ontvang word, hou ook verband met hoë bloeddruk, binne en buite die werksomgewing.
Mans is in die algemeen meer geneig om die uitwerking van werkstres op hoë bloeddruk te voel as vroue. In navorsing wat byna 2 000 werkers met hoë bloeddruk vir byna 18 jaar lank bestudeer het, was mense met ’n stresvolle werk en wat sleg geslaap het, drie keer meer geneig om aan hartsiekte te sterf as dié wat goed geslaap het en nie ’n veeleisende werk gehad het nie.
In ander navorsing is bevind dat mans en vroue wat in ’n liefdevolle, ondersteunende verhouding was, laer bloeddruk by die werk en tuis aangeteken het vergeleke met dié in wisselvallige of slegte verhoudings, asook mense wat geen verhoudings gehad het nie.
Daar is ook ’n verband tussen ’n afname in inkomste en hipertensie. Boonop word ’n gebrek aan beskikbare gesonde kos, veiligheid en sosiale kohesie ook met ’n groter geneigdheid tot hipertensie verbind.
Geestesgesondheid en hipertensie hou ook met mekaar verband. Studies het bewys dat depressie die belangrikste sielkundige veranderlike is wat bepaal of ’n persoon langdurige hipertensie of normale bloeddruk het.
Angstigheid veroorsaak voorts dat streshormone in die liggaam vrygestel word. Dié hormone laat die hart vinniger klop en vernou die are, wat die bloeddruk laat styg, soms skerp. Bloeddrukstygings wat deur angstigheid veroorsaak word, is tydelik en sal verdwyn sodra die angstigheid bedaar, maar die skade wat hoë angsvlakke in die liggaam aanrig, is net so erg soos dit wat deur langtermynhipertensie veroorsaak word.
Jou bloeddruk sal grootliks beïnvloed word deur die manier waarop jy op stres reageer. Dit is welbekend dat rook, te veel alkohol en ’n ongesonde dieet ’n negatiewe uitwerking op bloeddruk het en die risiko vir hipertensie verhoog. Indien jy bekommerd is oor jou bloeddruk is dit raadsaam dat jy ophou rook, jou alkoholinname beperk en gesonde eetgewoontes aanleer.The way you respond to stress can greatly influence your blood pressure. Smoking, drinking too much alcohol, and eating unhealthy foods are all known to have a negative impact on blood pressure and increase the risk of hypertension. If you’re worried about your blood pressure, it’s wise to quit smoking, limit your alcohol intake and adopt healthy eating habits.
Stres en dieet
Wat betref dieetaanpassings wat nodig is om stresvlakke te reguleer, is bloedsuikerbalans van sleutelbelang. Dit beteken dat jou maaltye genoeg proteïen en vet moet bevat om die koolhidraatinname te balanseer. Pleks van net ’n bord hawermoutpap (’n maaltyd ryk aan koolhidrate) vir ontbyt te eet, kan jy byvoorbeeld amandels of selfs ’n eetlepel gesonde proteïenpoeier daarby voeg.
Stres is ook geneig om ons lus te maak vir soet kosse wat baie suiker bevat. Suiker verhoog egter die liggaam se insulienvlak, wat op sy beurt die simpatiese senuweestelsel aktiveer en ’n verhoogde hartklop en bloeddruk tot gevolg het. Dit is waarom dit so belangrik is om ’n gesonde dieet te volg wanneer jy gestres voel.
Een manier om hipertensie te verminder, is deur die DASH-dieet (Dietary Approaches to Stop Hypertension) te volg. Die DASH-dieetpatroon, wat op vrugte, groente, vetvrye/laevetsuiwel, volgraankosse, neute en peulgewasse fokus en versadigde vette, cholesterol, rooi- en verwerkte vleis, lekkergoed, kosse met ekstra suiker, sout en versoete drankies beperk, word algemeen aanbeveel in dieetriglyne wat deur internasionale diabetes- en hartverenigings opgestel is. Die DASH-dieetplan is ontwikkel om bloeddruk te verlaag sonder dat medisyne gebruik word.
Deur ’n gesonde dieet te kombineer met oefening drie tot vyf keer per week vir 30 minute lank, kan jy jou stresvlakke verlaag. As jy aktiwiteite doen wat jou stres help bestuur en jou gesondheid verbeter, kan jy in die langtermyn ’n verskil maak om jou bloeddruk te verlaag.
Ter opsomming: Deur stres te beheer, kan jy hoë bloeddruk help bestuur. Indien jy hipertensie het of ’n verhoogde risiko om dit te ontwikkel, kan jy jou bloeddruk verlaag deur veranderings aan te bring wat stres beperk sodat dit makliker beheerbaar is. Chroniese stres en veral nie-aanpasbare reaksies op stres is meer geneig om langdurige hoë bloeddruk te veroorsaak. Onbeheerde hoë bloeddruk kan sonder dat jy dit besef vir jare lank skade aan jou liggaam veroorsaak voordat simptome begin wys.