Die Departement van Gesondheid het onlangs enkele nuwe gevalle van a-pokke (mpox), voorheen as aappokke* of “monkeypox” bekend, aangemeld. Hoewel a-pokke ’n seldsame virusinfeksie is wat gewoonlik slegs met ligte simptome gepaardgaan, kan dit wel ernstige gesondheidsgevare inhou. Hier is wat jy moet weet.
Waar kom a-pokke vandaan?
A-pokke is deel van die Poxviridae-familie van virusse genaamd Orthopoxvirus. Pokke en koeipokke vorm deel van dié familie.Die aanvanklike benaming aappokke het sy oorsprong in die eerste opgetekende gevalle van dié siekte in 1958 toe twee uitbrekings plaasgevind het by ape wat vir navorsing aangehou is. Ape is egter nie die vernaamste draers van dié virus nie.
Wetenskaplikes vermoed dit word deur klein knaagdiere en eekhorings in die reënwoude van Afrika versprei. Daar is twee soorte (stamme) a-pokke: Sentraal-Afrika en Wes-Afrika. Eersgenoemde lei tot erger infeksies en is meer geneig om sterftes te veroorsaak.
Hoe word dit oorgedra?
Die eerste bevestigde menslike geval is in 1970 aangemeld toe a-pokke by ’n kind, wat vermoedelik pokke gehad het, in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) geïdentifiseer is.Die eerste gevalle buite Afrika is in 2003 in die Verenigde State van Amerika (VSA) aangemeld. ’n Besending besmette knaagdiere uit Ghana het die virus aan honde in Texas oorgedra, wat 47 mense besmet het.
In 2021 is a-pokke by ’n Amerikaanse burger gevind wat van Nigerië na die VSA gereis het. Sedert Mei 2022 is nagenoeg 90 000 gevalle in meer as 100 lande aangemeld.
A-pokke word oorgedra deur kontak met ’n besmette persoon of dier of besmette oppervlaktes. Dit dring die liggaam binne deur ’n seer- of stukkende plek op die vel, inaseming, of die slymvliese in die oë, neus of mond.Navorsers glo dat mens-tot-mens-oordrag meestal deur die inaseming van groot respiratoriese druppels plaasvind eerder as direkte kontak met liggaamsvloeistowwe of indirekte kontak deur klere. Mens-tot-mens-oordragsyfers is gering.
Wees op die uitkyk vir dié simptome
Nadat die virus die liggaam binnegedring het, begin dit vinnig verdubbel en via die bloedstroom deur die liggaam versprei. Simptome verskyn gewoonlik eers een tot twee weke ná infeksie.Griepagtige simptome kom voor en wissel van koors tot hoofpyn, spierpyn, rugpyn, kortasem, moegheid, kouekoors en geswelde limfkliere. Een tot tien dae later kan ’n uitslag op die arms, bene, kop of bolyf verskyn wat uiteindelik in blase verander wat met etter gevul is. Die simptome duur normaalweg vir twee tot vier weke, terwyl die veluitslag binne 14 tot 21 dae rofies vorm.
Hoewel enigiemand a-pokke kan kry, is dit meer algemeen by kinders en mense wat nie kleintyd teen pokke ingeënt is nie. A-pokke kan in tot 10% van gevalle dodelik wees.
Diagnose en behandeling
Omdat a-pokke seldsaam is, kan dit maklik met ander siektes – wat ook met ’n uitslag gepaardgaan – verwar word, byvoorbeeld masels, waterpokkies, of selfs pokke. Geswelde limfkliere is een leidraad dat dit moontlik a-pokke is.
Om a-pokke te diagnoseer, kan ’n weefselmonster geneem en met ’n mikroskoop ondersoek word. ’n Bloedmonster kan ook die teenwoordigheid van dié virus of teenliggaampies wat jou immuunstelsel maak, aantoon.
Daar is tans geen bewese behandeling vir a-pokke nie. ’n Gesondheidsorgverskaffer sal die pasiënt se toestand monitor en probeer om die simptome te verlig. Die meeste mense word egter sonder behandeling beter.
*Die Wêreldgesondheidsorganisasie het einde 2022 besluit om die naam aappokke oor ’n tydperk van ’n jaar na a-pokke te verander ná hewige kritiek dat dié term aanstoot kan gee.
Bronne: The Lancet; Maroela Media; Cleveland Clinic; CDC; Scientific American; Live Science en MedicineNet.