COVID-19 het ’n uitwerking op verskeie aspekte van ons lewens, insluitend ons geestesgesondheid. Indien jy die laaste ruk depressief of angstig gevoel het, is jy beslis nie alleen nie. Navorsing toon dat die voorkoms van depressie ongeveer vier keer hoër is as dieselfde tyd verlede jaar. ’n Nuwe navorsingsveld genaamd voedingpsigiatrie het bevind dat mense se koskeuses hulle gemoed affekteer. As ’n mens in ag neem watter twyfelagtige koskeuses baie van ons tydens die inperking gemaak het, is dit moontlik dat ons dieet ’n impak op meer as net ons middellyf gemaak het.
Die brein is ’n merkwaardige fabriek wat deurgaans neuro-oordragstowwe soos serotonien, dopamien, noradrenalien en ander breinchemikalieë vervaardig. Die enigste rou materiale vir hierdie prosesse is voedingstowwe, naamlik aminosure, vitamiene en minerale, wat alles verkry word van die kos wat ons eet. Indien die brein weens ’n ongesonde dieet die verkeerde hoeveelhede van hierdie voedingstowwe ontvang, sal dit die vervaardiging van neuro-oordragstowwe negatief raak. Eenvoudig gestel beteken dit dat wat jy eet, ’n direkte impak op die struktuur en funksie van jou brein en uiteindelik jou gemoed het. Indien stowwe uit verwerkte of verfynde kosse die brein bereik, word dit negatief beïnvloed. ’n Dieet wat baie verfynde suiker bevat, verhoog nie net die risiko van insulienweerstandigheid nie, maar bevorder ook inflammasie en oksidatiewe stres. Verskeie studies het ’n verband gevind tussen ’n dieet ryk aan verfynde suiker en verswakte breinfunksie, en selfs dat simptome van gemoedsteurings soos depressie vererger.
Voedingpsigiatrie fokus ook op die verband tussen gemoed en gastro-intestinale (derm)gesondheid. Serotonien is ’n neuro-oordragstof wat help om slaap en eetlus te reguleer, gemoed te balanseer en pyn te verminder. Sowat 95% van serotonien word in die derm vervaardig. Aangesien die derm miljoene senuweeselle, of neurone, bevat, maak dit sin dat die spysverteringstelsel nie net help om kos te verteer nie, maar ook ’n impak op gemoed het. Boonop word die funksie van hierdie neurone, en die vervaardiging van neuro-oordragstowwe soos serotonien, beïnvloed deur die biljoene voordelige bakterieë wat die derm-mikrobioom vorm. Hierdie bakterieë speel ’n noodsaaklike rol in gesondheid. Dit beskerm die ingewandsvlies om te keer dat gifstowwe en patogeniese bakterieë dit binnedring. Dit beperk ook inflammasie, verbeter die absorpsie van voedingstowwe en aktiveer neurale bane wat direk tussen die derm en die brein beweeg.
Vergelyk jy mense wat ’n laegehaltedieet, of Westerse dieet, volg met dié wat ’n dieet van ’n hoër gehalte ryk aan onverwerkte kosse volg, sal jy vind dat die risiko van depressie by die eerste groep aansienlik kan toeneem. Die Westerse dieet staan ook bekend as SAD (standaard- Amerikaanse dieet). Die SAD word gekenmerk deur groot hoeveelhede suiker, verfynde koolhidrate, versadigde vette en transvette, en is die hoofoorsaak van vetsug en diabetes.
Nog ’n aspek waarop navorsing fokus, is die verhouding tussen vetsug en geestesgesondheid. Vetsugtige mense kan ’n hoër risiko hê om depressie te ontwikkel, terwyl mense met depressie ’n verhoogde risiko kan hê om vetsugtig te word. Vetsug veroorsaak dat die liggaam in ’n pro-inflammatoriese staat verkeer en inflammasie hou verband met depressie. Boonop neem depressiewe mense dikwels swak voedselkeuses, soos kosse wat baie suiker bevat, wat inflammasie verhoog en depressie vererger.
Dr Uma Naido is ’n voedingpsigiater en skrywer van die nuwe boek This is your brain on food: An indispensable guide to the surprising foods that fight depression, PTSD, ADHD, anxiety, OCD and more. Sy gebruik die mnemoniese rympie, BRAIN FOODS, om mense te help onthou wat om te eet om goeie gemoed te bevorder:
- B is vir bessies, wat vesel en antioksidante verskaf.
- R is vir die reënboog van kleure in vrugte en groente, wat ’n verskeidenheid van vesel en voedingstowwe verskaf.
- A is vir antioksidante, wat ontslae raak van skadelike verbindings wat in die liggaam vervaardig word.
- I is vir insluit – onthou om maer proteïene in te sluit.
- N is vir neute, ’n goeie bron van voedingstowwe.
- F is vir die fermentering van kos, wat saam met veselryke kosse help om goeie dermbakterieë te voed.
- O is vir gesonde olies, soos olyfolie, wat antioksidante en anti-inflammatoriese eienskappe het.
- O is vir omega-3-vetsuurryke voedsel, soos olierige vis, wat ook ’n anti-inflammatoriese effek het.
- D is vir droë speserye, aangesien sekere speserye soos borrie uitstekende voordele vir die brein het.
- S is vir suiwel, wat goeie bakterieë in die derm bevorder.
’n Gesonde dieet kan breinontwikkeling ’n hupstoot gee en proteïene en ensieme in die brein verander om meer verbindings tussen breinselle te vorm. Deur goeie dermbakterieë te verhoog, bevorder ’n gesonde dieet ook ’n gesonde dermbioom, wat inflammasie verminder.
Daar is ’n magdom bewyse van die voordele van ’n gesonde dieet en leefstyl. Jare se navorsing dui aan dat dit noodsaaklik is om kardiovaskulêre siektes, kanker, demensie en geestesgesondheidsteurings soos depressie en angs te voorkom. As jy swaarmoedig voel, dink ’n bietjie aan wat jy eet en watter effek dit moontlik op jou het. Dit mag dalk tyd wees om ’n dieetkundige bo en behalwe jou psigiater te raadpleeg.