Borskanker is die algemeenste soort kanker by vroue en het ’n leeftydrisiko van 1 uit 25 in Suid-Afrika.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie het vroeër vanjaar aangekondig dat borskanker nou selfs meer algemeen as longkanker gediagnoseer word.
Daar is geen statistiek geredelik beskikbaar oor die aantal mense in Suid-Afrika wat met borskanker leef nie.
Volgens Gerda Strauss, KANSA se hoof van dienslewering, is vroeë bespeuring van deurslaggewende belang, aangesien dit vroue se kans op oorlewing dramaties verhoog omdat behandeling dadelik kan begin.
Risikofaktore vir borskankerDie kans om borskanker te kry, verhoog namate ’n mens ouer word en die meeste vroue is ouer as 50 wanneer hulle die eerste keer gediagnoseer word. Jonger vroue word egter ook al hoe meer met borskanker gediagnoseer. Die risiko vir borskanker is hoër indien ’n familielid borskanker gehad het, aangesien daar ’n abnormale geen teenwoordig kan wees wat met ’n hoë risiko vir borskanker geassosieer word.
Indien jy ’n geskiedenis van kanker het en daarvoor behandel is, kan dit beteken dat jy ’n hoër risiko het om later in jou lewe borskanker te kry. Digte borsweefsel kan ook ’n vrou se risiko vir borskanker verhoog en maak dit moeiliker om kanker op ’n mammogram te bespeur. Vroue wat nooit geboorte geskenk het nie of eers na 30 hulle eerste baba gehad het, se risiko vir borskanker is effe hoër, aangesien swangerskap ’n vrou se totale getal menstruasiesiklusse verminder.
Die gebruik van orale voorbehoedmiddels kan ook die risiko vir borskanker effens verhoog, en postmenopousale vroue wat kombinasiehormoonvervangingsterapie (estrogeen en progesteroon) gebruik, het ook ’n hoër risiko vir borskanker.
Alkoholverbruik kan die risiko vir borskanker verhoog en navorsing het bewys dat ’n onaktiewe leefstyl ook ’n mens se kankerrisiko kan verhoog.
Simptome en tekensStrauss benadruk dat dit belangrik is vir vroue om maandeliks self hulle borste te ondersoek, aangesien dit kan help om abnormaliteite vroegtydig te bespeur.
Een van die algemeenste simptome of tekens van borskanker is ’n knop in die bors of armholte, maar daar is ook ander waarskuwingstekens soos ’n ongewone swelsel in die armholte of veranderings in die tekstuur van die vel op en rondom die bors. Enige veranderings wat op die vel rondom die tepel opgemerk word, tepelafskeiding asook ’n tepel wat ingeduik is of terugtrek, is ook waarskuwingstekens. Ander fisieke tekens soos ongewone borsvergroting of een van die borste wat abnormaal laer as die ander een is met die tepels op verskillende hoogtes, kan ook rede tot kommer wees.
Volgens Strauss hoef jy nie paniekerig te raak indien jy ’n knop voel nie, aangesien die meeste knoppe nie kwaadaardig is nie. Dit beteken egter nie dat jy dit kan ignoreer nie en dit is belangrik dat jy jou dokter raadpleeg vir ’n behoorlike ondersoek.
MammogrammeVroulike Medihelp-lede het toegang tot voordele vir voorkomende sorg soos mammogramme. Vroue wat 40 jaar en ouer is, word aangeraai om jaarliks ’n mammogram te laat doen, aangesien dit as doeltreffend bewys is in die vroeë bespeuring van kanker. Al Medihelp se planne bied voordele vir ’n mammogram vir vroue van 40 en ouer elke twee jaar, indien deur ’n dokter versoek.
’n Mammogram is ’n X-straal van die bors wat gebruik word om borsweefsel te ondersoek deur die bors liggies tussen ’n plaat en ’n X-straalbuis saam te pers. Dit help om veranderings in die borsweefsel en abnormaliteite te onthul wat nie tydens ’n selfondersoek deur die pasiënt of deur ’n dokter bespeur kon word nie.
Daar is vele wanopvattings oor borskanker, selfs al is dit een van die meer bekende soorte kanker. Onderskei só tussen feite en fiksie:
Fiksie: Slegs ouer vroue word met borskanker gediagnoseer.
Feit: Vroue jonger as 40 kan ook borskanker kry en word gereeld daarmee gediagnoseer.
Fiksie: Slegs vroue met ’n familiegeskiedenis van borskanker word geraak.
Feit: Alle vroue het ’n risiko vir borskanker en die meeste vroue wat gediagnoseer word, het geen bekende familiegeskiedenis daarvan nie.
Fiksie: Borskanker kom altyd voor as ’n knop in die bors.
Feit: Borskanker sal nie altyd aan die begin ’n knop veroorsaak nie
Fiksie: Ek kan nie borskanker kry nie want ek het nooit kinders gehad nie.
Feit: Vroue wat nie kinders gehad het nie of wat eers na 30 hulle eerste baba gehad het, se risiko vir borskanker is effe hoër.
Fiksie: As ek gesond leef, sal ek nie borskanker kry nie.
Feit: ’n Gesonde leefstyl kan help om die risiko vir borskanker te verlaag, maar kan dit nie uitskakel nie.
https://cansa.org.za/womens-health
https://www.scp.co.za/procedures/mammography
https://www.cancer.org/cancer/breast-cancer/screening-tests-and-early-detection/mammograms/mammograms-what-to-know-before-you-go.html
https://www.surgeon.co.za/patients-corner/types-of-operations/mastectomy-or-lumpectomy-for-breast-cancer-or-breast-biopsy-for-lumps-or-abnormal-mammograms
https://www.mybreast.org.za/breast-health/breast-cancer/can-breast-cancer-be-treated
https://www.cancer.net/cancer-types/breast-cancer/diagnosis
https://www.cancer.net/cancer-types/breast-cancer/types-treatment
https://www.cancer.org/cancer/breast-cancer/treatment.html