In sy hartverskeurende gedig “Funeral Blues” vergelyk WH Auden die onmeetlike verdriet van die verlies van 'n geliefde met 'n nuwe werklikheid waar "niks goeds nou ooit weer sal gebeur nie”. Verlies is inderdaad die universele gelykmaker – 'n onvermydelike deel van die lewe wat niemand kan ontsnap nie. Dit konfronteer ons in verskeie vorme: die dood van 'n geliefde, egskeiding, afdanking, die einde van 'n vriendskap of 'n ernstige siekte.
Verdriet volg verlies. Dit is 'n diep persoonlike en emosionele reaksie sonder 'n vasgestelde tydlyn. Party sê dit is die prys wat ons vir liefde betaal: hoe sterker ons verbinding met die persoon of dit wat ons verloor het, hoe dieper ons verdriet. Verdriet verander hoe ons die wêreld en ons plek daarin sien en kan ons uiteindelik só ernstig raak dat ons nie meer normaal kan funksioneer nie.
Maar wat word as “normaal” beskou wanneer jy rou? Watter emosies kan ons verwag? Wanneer moet ons vra vir hulp en hoe begin ons om die stukke op te tel en aan te beweeg?
Stadiums van rou
Einde-van-lewe-doula en Medihelper met ’n groot hart, Alida Pretorius, wat geestelik, emosioneel en prakties mense in die laaste stadium van die lewe en hulle families lei en ondersteun, beskryf verdriet as “’n natuurlike proses waardeur jou hele wese – liggaam, verstand en siel – gaan ná 'n beduidende verlies”. Vir haar beteken verdriet ontwrigting, aangesien dit jou lewe in wanorde dompel en jou roetine, denkpatrone, persoonlikheidstrekke en oortuigings onderstebo keer.
Verdriet kan, in wese, jou laat voel asof alles verander het. Dit laat jou voel of jy geen idee het hoe om hierdie nuwe werklikheid te aanvaar en na 'n plek van aanvaarding te beweeg nie. Jy weet nie hoe om weer vreugde te voel nie.
Switsers-Amerikaanse psigiater Elisabeth Kübler-Ross, skrywer van die bekende boek On Death and Dying (1969), het baanbrekersnavorsing gedoen oor nabydood-ervarings, palliatiewe sorg en die proses van dood en sterwe in die algemeen.
Tot vandag toe bly haar vyfstadiummodel van verdriet (ook bekend as die Kübler-Ross- model) een van die gewildste raamwerke om die rouproses te verstaan. Verliesberader Anouka Haese-Petr van Brooklyn, Pretoria, het nog nie 'n kliënt teëgekom wat nie deur hierdie stadiums gegaan het nie. Die stadiums is: ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en aanvaarding.
Sy glo hierdie model is van onskatbare waarde vir die verstaan van jou emosies wanneer jy verlies verwerk, aangesien die sleutel tot die geneesproses daarin lê om jouself oor te gee en te verbind tot hierdie stadiums. “Ek staan 'n hele sessie af aan die stadiums van verdriet. Die kliënt leer en verstaan hoe dit werk, wat hulle kan verwag en hoe om daardeur te werk,” verduidelik sy. “Dit verlig baie druk, aangesien hulle hulself en hul emosies beter verstaan.”
Wanneer verdriet ingewikkeld raak
Baie terapeute beklemtoon dat daar geen “regte” manier is om te rou nie en dat jy nie noodwendig al die genoemde stadiums sal ervaar of selfs in enige bepaalde volgorde sal ervaar nie. Maar die pyn van 'n beduidende verlies behoort met tyd te verminder hoe nader jy aan aanvaarding beweeg. Wanneer jy egter vasgevang raak in 'n langtermyndepressie wat jou verhinder om jou daaglikse lewe en verhoudings te hervat, kan dit 'n teken van ingewikkelde verdriet wees. Dit is 'n toestand waar jou verlies onopgelos bly, selfs tot op die punt waar jy voel die lewe is nie meer die moeite werd nie.
Om die verskil tussen 'n sogenaamde normale en gevaarlike toestand van depressie te herken, voel op sigself ingewikkeld. Alida verduidelik dat daar dae sal wees wanneer alles sinloos lyk en jy nie eens die krag sal hê om uit die bed te klim nie. Anouka stem saam en sê dit is “baie normaal” om vir 'n ruk ná 'n verlies depressie te ervaar en skynbaar nie beter te word nie.
Vir haar lê die werklike gevaar daarin om nie die verlies te hanteer of nie deur die rouproses te gaan nie. Ontkenning en hoop alles sal vinnig net beter word, is ook 'n probleem.
Anouka glo jy moet so gou as moontlik hulp en ondersteuning soek. “Hoe gouer jy die genesingsproses begin, hoe gouer sal jy genees.” Of dit nou terapie of medikasie soos antidepressante is, dit bly noodsaaklik om professionele hulp te soek wanneer depressie jou tot só 'n mate verswak dat jy nie in staat is om in jou daaglikse lewe te funksioneer nie.
Hoe hanteer ons verdriet?
Deur te rou, sê Anouka. Sy moedig diegene wat met verlies worstel aan om berading te soek. Praat dit deur en neem tyd om die volle spektrum emosies te beleef. Maar dit is uiters belangrik om sag met jouself te wees. “Verlaag jou verwagtinge. Gee jouself die ruimte om daardeur te werk,” moedig sy aan. “Spandeer tyd met goeie vriende as jy eensaam raak, en oorweeg 'n kreatiewe tydverdryf of stokperdjie, soos verf of tuinmaak – aktiwiteite wat diep terapeuties kan wees.”
“Om na aanvaarding te beweeg, hou jou aan die gang,” sluit Alida af. Soos die proses van verdriet ’n pad na genesing word, word jy nie net aan jou broosheid herinner nie maar ook aan jou innerlike krag en veerkragtigheid.
Jy besef dat jy nie gedefinieer word deur die dinge wat jy verloor het nie. Jy word verryk deur die ondersteuning van diegene wat jou bystaan om jou lewe weer te bou. Deur jouself toestemming te gee om ten volle te rou, die proses te verstaan en te herken wanneer hulp nodig is, sal jy die moed vind om weer 'n vervullende, betekenisvolle en vreugdevolle lewe te leef.
Geskryf vir Medihelp deur Maritha Broschk