“Ons lewensmaats, mans, pa’s, seuns en broers is in krisis."
Die stille epidemie
November is Movember – ’n waardige inisiatief waar mans, as deel van ’n wêreldwye bewusmakingsveldtog, snorre kweek om gesprekke oor mans se gesondheidskwessies aan te moedig. Hierdie inisiatief fokus op beide fisiese gesondheid (met die klem op kankers en ander siektes wat mans raak) en geesteslike welstand.
Siektes wat geestelike gesondheid raak word dikwels as die “stille epidemie” onder die Suid-Afrikaanse manlike bevolking beskryf. Die statistieke is verstommend: die Wêreldgesondheidsorganisasie plaas Suid-Afrika agtste onder lande met die hoogste gevalle van selfmoord.
En in 2022 alleen is 10 861 van die 13 776 gerapporteerde selfmoorde in Suid-Afrika deur mans gepleeg.
Maar ten spyte van die feit dat hulle ’n aansienlik hoër risiko as vroue loop, word mans baie minder dikwels met depressie gediagnoseer of daarvoor behandel.
Gevaarlike stereotipes
Van die hoofredes waarom mans huiwer om uit te praat, is gewortel in die samelewing se verwagtinge en vasgestelde idees oor manlike identiteit en manlikheid. Seuns word grootgemaak om “nie te huil of soos meisies op te tree nie” (wat op sigself ’n skadelike stereotipe vir beide mans en vroue is).
Die uitdrukking van emosies soos hartseer, wanhoop en gedagtes van selfbesering word, veral in meer konserwatiewe en tradisionele gemeenskappe, verkeerdelik as tekens van swakheid beskou. “Regte” mans is veronderstel om “sterk” te wees – die onverstoorbare, betroubare beskermer en voorsiener van dié wat as fisies en emosioneel swakker beskou word.
Die werklikheid is, soos die statistieke duidelik toon, ons lewensmaats, mans, pa’s, seuns en broers is in krisis. Maar hoe kan ons hulle help om weg te breek van hierdie lewensbedreigende siklus van selfsorgverwaarlosing en stilswyende lyding? Hier is ’n paar wenke.
Herken die tekens
Leon de Beer, Adjunk-direkteur van die South African Federation for Mental Health, verduidelik in sy artikel “Big boys do in fact also cry” dat “depressie by mans kan lyk soos die teenoorgestelde van dit wat ons tradisioneel as simptome van depressie beskou.” De Beer wys op rusteloosheid, skielike woede-uitbarstings en prikkelbaarheid. Emosionele onrus kan ook as fisiese ongemak, soos benoudheid, spysverteringsprobleme, verlies aan libido, hoofpyne, moegheid en spierpyn aan die dag lê.
Sommige mans neig om meer roekeloos op te tree en wend hulself tot ongesonde hanteringsmeganismes soos dwelmmisbruik, wat op sy beurt kan vererger tot risikonemende, selfvernietigende aksies en, in sommige gevalle, selfs geweld teenoor ander.
De Beer dring daarop aan dat vroue die mans in hul lewens moet dophou om aanhoudende gedragsveranderinge, soos gereelde uitbarstings of oormatige drinkery, te kan herken.
Ander simptome sluit in konsentrasieprobleme, geheueprobleme, obsessief-kompulsiewe denkpatrone, rusteloosheid en slaapprobleme. Emosionele onttrekking van familie en vriende, asook ’n verlies aan belangstelling in stokperdjies en werk, is ook belangrike waarskuwingstekens.
Hoe jy ondersteuning kan bied
- Begin gesprekke oor geestesgesondheid. Maak tyd om by mekaar in te loer. Wees geduldig, want dit mag ’n rukkie neem voordat hy erken dat hy sukkel.
- Luister aandagtig deur weg te beweeg van jou eie ervarings en te reageer op sy menings en insette.
- Wees ’n voorbeeld. As jy tans in terapie is, vra hom om een van jou sessies as waarnemer by te woon. Om te sien hoe professionele hulp jou baat, kan die proses in ’n meer positiewe lig plaas, belangstelling wek en minder intimiderend laat lyk.
- Stel stresverligtende aktiwiteite voor vir julle albei, soos herstellende joga of boksklasse (’n wonderlike manier om woede en frustrasie uit te laat).
- Om bewustheid in jou daaglikse roetine in te sluit, is ’n gesonde en nie-veroordelende manier om gevoelens en gedagtes te erken.
- Moedig hom aan om gesond te eet en te oefen (verkieslik buite in die oggendson om die bui vinnig op te kikker), aangesien ’n gesonde liggaam noodsaaklik is vir ’n gesonde verstand.
- Spoor hom aan om in aanraking te bly en tyd te spandeer met naby familie en vriende. Talle studies toon dat sterker sosiale bande die erns van depressie verminder en tot vinniger herstel lei. Selfs sosiale sportsoorte soos padel of ander groepaktiwiteite is bewese maniere om geestesgesondheid te verbeter.
- Kies ’n mediese fonds met voldoende dekking vir terapie en psigiatriese medisyne. Medihelp bied uitgebreide dekking (selfs op hospitaalplanne) vir meer as 250 spesifieke toestande, insluitend ernstige affektiewe siektes (soos bipolêre depressie), rehabilitasieprogramme vir dwelmmisbruik en akute angs-, gemoed- en persoonlikheidsversteurings. Kies ’n plan wat voldoende dekking vir jou individuele behoeftes bied.
Veranderende persepsies
Vandag word geestesgesondheid meer openlik as ooit tevore bespreek. Dit is deels te danke aan dokumentêre films met manlike beroemdes soos Robbie Williams en Nick Cave, waar hulle dapper die kollig op hul eie persoonlike stryd laat val.
Ten spyte hiervan, en gegewe dat mans ’n oorweldigende meerderheid van selfmoorde wêreldwyd uitmaak, bly dit duidelik dat sienings oor geestesgesondheid drasties hersien moet word.
Hier speel vroue – as moeders – ook ’n beduidende rol om verandering teweeg te bring. Om ons seuns te leer dat die herkenning en uitdrukking van emosie (veral hartseer) normaal en gesond is, is van kardinale belang. Uiteindelik mag die grootmaak van emosionele intelligente en veerkragtige seuns dalk die beste voorkomende stap van almal wees.
Geskryf vir Medihelp deur Maritha Broschk