Raketsporte soos tennis en padel is glad nie so eksklusief as wat mense dalk dink nie. Enigiemand, ongeag ouderdom of fiksheidsvlak, kan dit probeer en vinnig goed speel. Hierdie sporte help ons, ons ouers – en ons grootouers – om aktief, fiks en energiek te bly, selfs op ’n gevorderde ouderdom. Lees verder om te sien wat ons uit die raketsporte kan leer.
Die gevare van eensaamheid
’n Onlangse artikel in die Harvard Gazette het bevind dat sosiale isolasie en eensaamheid ’n mens se lewe aansienlik kan verkort. Volwassenes wat eensaam is, het ’n ongeveer 40% groter kans om binne vier jaar te sterf, terwyl dié wat nie gereeld mense sien nie, ’n 75% hoër risiko het om te sterf as ander met ’n aktiewe sosiale lewe.
Hoewel hierdie statistieke negatief klink, is daar goeie nuus. Deelname aan ’n matige sportsoort soos padel of tennis is nie net goed vir jou liggaam nie, maar bied ook ’n wye reeks sosiale en gemeenskapverwante voordele.
“’n Matige sportsoort soos padel is nie net goed vir jou liggaam nie, maar bied ook ’n wye reeks sosiale en gemeenskapverwante voordele.”
Kuier asof jou lewe daarvan afhang
Die Poolse sportinfrastruktuurverskaffer Polska Fabryka Sportow lys die belangrikste sosiale voordele van raketsporte:
- Sosiale interaksie
Of dit nou in pare of dubbels gespeel word, spelers kry die geleentheid om verhoudings te bou en vriendskappe te versterk, op en langs die baan.
- Inklusiwiteit
Deelname koester ’n gevoel van samehorigheid en gemeenskap wanneer mense uit verskillende agtergronde bymekaar kom.
- Spanwerk en kommunikasie
Spelers moet saamwerk en strategieë ontwikkel om doeltreffend te speel. Dit bou vertroue en kameraadskap.
- Gemeenskapsbou
Raketsporte bring mense saam vir kuier, gesonde kompetisie en pret.
Beter vir jou hart, bene en balans
Die gesondheidspan by Conservatory Senior Living, ’n organisasie met verskeie aftreeoorde, beklemtoon dat die fisieke voordele van raketsporte vir spesifiek afgetredenes veel verder strek as net ontspanning.
In teenstelling met ander strawwe oefenvorme, vereis padel en tennis vinnige, herhalende bewegings wat hartsiektes voorkom en bloeddruk verlaag sonder die gewrigspanning van langafstanddraf, hoë-impak-aërobiese-oefening of oefen met gewigte. Mobiliteit, soepelheid en spiertonus word ook beter omdat jy gereeld van rigting verander.
Boonop help die gewigdraende aard van raketsporte om ouderdomsverwante beenverlies en toestande soos osteoporose te voorkom en beveg. Die sterker liggaamstruktuur wat dié sportsoorte bou, verbeter ook postuur en stabiliteit.
Nog ’n belangrike aspek is die hand-oog-koördinasie wat met hierdie sportsoorte ontwikkel. Dit help met balans en verhoog selfvertroue in daaglikse aktiwiteite, wat weer die kans van beserings weens valle verminder.
|
Sonlig en jou daaglikse dosis vitamien D Volgens die McMaster Optimal Aging-blog is die sonskynvitamien (vitamien D) veral belangrik vir ouer volwassenes, aangesien dit die opneem van kalsium en fosfor bevorder. Hierdie minerale is noodsaaklik vir beengesondheid. Vitamien D ondersteun ook die immuunstelsel, bevorder spierkrag en koördinasie en dra by tot kardiovaskulêre gesondheid. Dit beklemtoon verder die gesondheidsvoordele van padel en tennis in die buitelug, mits jy sonbeskerming gebruik (’n keps, sonbril en sonskerm met ’n hoë beskermingsfaktor). |
Voordele vir geestesgesondheid
Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê dit die beste : “Raketsporte vereis baie fokus en konsentrasie. Dit verminder stres en angs. Boonop skep dit ’n gevoel van prestasie en selfvertroue, iets wat oor die algemeen ’n positiewe invloed op ’n speler se gemoedstoestand en welstand het.”
Dat padel so vinnig gewild geword het, is beslis deels te danke aan die laer toegangsvereistes in vergelyking met ander raketsporte. Dit kombineer elemente van tennis en muurbal, so dis vir voormalige spelers van albei sporte aantreklik.
Sluit aan by die raketsportstel
Wat kan gesondheidsbewuste individue – van alle ouderdomme en sportvoorkeure – by die raketsportstel leer? Jy hoef nie noodwendig jouself in die gimnasium uit te put of ’n driekamp te voltooi om die voordele van fisieke aktiwiteit te ervaar nie. Volgens TennisCT word tennis en padel “die toppunt van lewensverbeterende sporte” genoem – en met goeie rede!
So, trek jou gemaklike tekkies aan, sluit aan by ’n gemeenskap van mense wat daarvan hou om balle te slaan en geniet ’n langer, gesonder lewe. Soos die pro’s by die groot kompetisies sê: “Kiss my ace!”
Geskryf vir Medihelp deur Vanessa Rogers