Back 14 Mei, 2024 - Floreer!

Back

Vyf prettige maniere om hoë bloeddruk te klop

Vyf prettige maniere om hoë bloeddruk te klop

Oefen en gesond eet is die beste maniere om jou bloeddruk te verlaag, maar daar is ook ander prettige dinge wat jy kan doen om hipertensie te klop.
Read more

Een uit elke drie Suid-Afrikaners ly aan hoë bloeddruk (hipertensie). Dit verhoog hulle risiko vir ernstige siektes soos beroertes, hartsiektes en nierversaking. Een soort medikasie is dikwels ook nie genoeg om bloeddruk te laat daal nie. Dit is dus raadsaam om hoë bloeddruk onder beheer te kry voordat medisyne nodig is.

Om gesond te eet en gereeld te oefen is die beste manier om hipertensie te bekamp. En hoewel dit ʼn goeie riglyn is, is daar vyf minder bekende maniere om jou bloeddruk te laat sak.

Sit vir klein rukkies in die son

Onlangse navorsing het bevind dat ʼn tekort aan vitamien D tot hoë bloeddruk en diabetes kan lei. Deur tyd in die son te spandeer, gee jy jou vitamien D-vlakke ʼn hupstoot, wat help om jou bloeddrukvlakke te verlaag. Sonlig help ook om die nitrate wat in jou vel gestoor is, in  stikstofoksied te omskep. Stikstofoksied is ʼn chemiese verbinding wat help om jou bloedvate groter oop te maak en só bloeddruk verlaag.

Spandeer tyd saam met diere

ʼn Studie in Japan het bevind dat besoekers aan ʼn dieretuin se bloeddruk met tussen 6% en 8% gedaal het nadat hulle die diere dopgehou het. Dit is omdat jou parasimpatiese senuweestelsel, wat daarvoor verantwoordelik is om jou senuwees te laat bedaar, opgewek word wanneer jy diere dophou.

Indien jy nie by die dieretuin kan uitkom nie, kan jou eie troeteldiere of selfs die voëls in die buurt afleiding bied. Verder laat dit ʼn mens ontspan om aandag aan jou troeteldiere te gee, wat ook help om bloeddruk te verlaag.

Lag ʼn slag hardop

Om te lag het ʼn soortgelyke invloed op jou liggaam as oefen. Lag veroorsaak dat die binneste voering van jou bloedvate uitsit. Só verbeter bloedsomloop en bloeddruk daal.

Doen statiese oefeninge

Statiese oefeninge, oftewel isometriese oefening, is ʼn soort oefening wat slegs ʼn klein hoeveelheid spiere betrek. Vir hoë bloeddruk word daar dikwels gefokus op isometriese handgreepoefeninge waar die spiere in die hand met ʼn spesiale apparaat (wat met weerstand werk) geoefen word. Gereelde handgreepoefening vir minstens 15 minute, vyf dae ʼn week, kan tot laer bloeddruk lei. Ander bekende statiese oefeninge wat blyk om bloeddruk te verlaag is muur-Pilates en plankoefeninge.

Sit musiek aan

Musiek kan baie help om hoë bloeddruk te verlaag. Wanneer jy vir 30 minute na musiek met ʼn gelykmatige tempo luister, kan jy die voering van jou bloedvate met 26% vergroot. Sing saam of doen strekoefeninge terwyl jy luister en jy kan jou bloeddruk selfs meer laat daal. Die geheim is om na musiek te luister waarvan jy hou, aangesien die vrystelling van dopamien wat daarmee gepaard gaan, bydra tot verlaagde bloeddrukvlakke.

Dit is belangrik om te onthou dat hierdie alternatiewe benaderings nie ʼn plaasvervanger vir professionele mediese raad is nie, maar eerder ʼn aanvulling daarvoor. Deur ʼn verskeidenheid metodes te gebruik, kan jy die stryd teen hoë bloeddruk op ʼn meer omvattende, prettige en doeltreffende manier voer.

Het jy geweet?

Jy kan jou bloeddruk gratis laat toets as deel van Medihelp se bykomende versekerde voordele. Die kombinasietoets sluit bloedglukose, cholesterol, bloeddruk en liggaamsmassa-indeks (LMI) in en kan jou help om risikofaktore betyds te bespeur om hipertensie te voorkom. Lees meer oor die kombinasietoets hier.

Leer nog oor hoë bloeddruk:


Share this on: