Die gevare van ’n sittende leefstyl kan nie genoeg beklemtoon word nie. Vetsug, hoë bloeddruk, hoë cholesterol, osteoporose, en selfs depressie en angs is van die gesondheidsrisiko's wat met ’n onaktiewe leefstyl gepaardgaan. Daarom is dit só belangrik om jou liggaam aan die beweeg te kry.
Vir die meeste mense beteken dit om te draf of by ’n gym te oefen. Dit is egter nie die enigste maniere om meer aktief te wees nie. En vir baie mense is dit nie altyd ’n opsie nie – moontlik as gevolg van beserings of omdat hul leefstyl dit nie toelaat nie, of bloot omdat draf te veel na straf klink. Ons het by Karen Joubert, ’n fiksheidsinstrukteur van Pretoria en Medihelp se interne instrukteur, aangeklop vir raad oor hoe mens oefen pret kan maak.
Hoekom is dit belangrik om te beweeg?
Gereelde beweging is van kardinale belang vir jou liggaam en gees. Liggaamlik versterk dit jou hart, dit bou spiere, help om gewig te beheer, en versterk immuniteit. Geestelik stel dit endorfiene vry (goedvoel-chemikalieë), dit lig jou gemoed, laat jou brein skerper voel, reguleer slaap en gee jou ’n energiehupstoot. Dis ook ’n heerlike manier om sosiaal te verkeer. Om meer te beweeg maak ’n beduidende verskil aan jou algehele welstand. Dis ’n holistiese benadering tot gesondheid wat beide die liggaam en die gees positief beïnvloed.
Moet mens noodwendig by ’n gimnasium oefen of draf om aktief te bly?
Nee. Alhoewel gestruktureerde oefeninge by die gimnasium of buitelugaktiwiteite soos draf uitstekende maniere is om fiks te bly, is daar baie ander lekker maniere om aan die beweeg te bly. Kry iets waarvan jy hou, want dan is jy meer geneig om daarmee aan te hou. Bly beweeg op ’n manier wat vir jou werk. Om aktief te bly, moet deel wees van jou daaglikse roetine sonder om soos werk of straf te voel.
Is daar ander dinge wat mens kan doen om soortgelyke gesondheidsvoordele te kry as om te gym of te draf?
Baie alternatiewe en onkonvensionele aktiwiteite kan jou gesondheid op soortgelyke wyse bevoordeel. Loop, fietsry, dans en tuinmaak is net so goed. Sport wat jy vir ontspanning doen of oefen by die huis – dit alles bevorder fiksheid. Jy kan joga doen, op ’n staptog gaan of swem. Selfs om huis skoon te maak dra daartoe by om fisiek aktief te bly.
Jy kan begin deur net een gewoonte te verander. Neem byvoorbeeld die trappe in plaas van die hysbak. Dié een verandering kan die skuif wees wat jou motiveer om ’n meer aktiewe leefstyl te lei. Afgesien van die fisiese skuif, is dit in ’n groot mate ook ’n kopskuif, want jy druk jouself verby die maklike alternatiewe.
Hoe kan mens meer beweeg in jou daaglikse lewe, veral as jy ’n vol dagboek het of jou werk van so ’n aard is dat jy heeldag sit?
Dis eintlik maklik om meer te beweeg, al is jou dag hóé besig. Breek gereeld vir kort rukkies om te strek of vinnig te gaan stap. Of doen ’n paar oefeninge by jou lessenaar sonder om jou werk te onderbreek. Loop en gesels in plaas daarvan om gewone vergaderings te hou, en gaan stap tydens middagete bietjie in die vars buitelug rond. As jou tyd beperk is, doen sommer vinnige oefeninge by die huis. Naweke is wonderlik vir pret aktiwiteite saam met familie of vriende. Stel aanvanklik vir jouself haalbare doelwitte, en doen dan geleidelik meer soos jou skedule dit toelaat en jy fikser word. Die geheim is om beweging natuurlik deel van jou dag en ’n gereelde deel van jou lewe te maak.
Nog interessante maniere om aktief te bly
Wil jy graag aan die beweeg kom? Hier is nog meer onkonvensionele, anderse maniere om aktief te raak:
- Dansterapie
- Rotsklim
- Trampolienparke en “rebounding” (op ’n mini-trampolien spring)
- Perdry
- “Geocaching” (skattejag met GPS-koördinate) en fiksheidspeletjies
- Boogskiet
- Stap in ’n winkelsentrum
- Minigholf/Putt-Putt
- Rolbal
- Boks en gevegskuns
- “Roller derby” (’n kontaksport op rolskaatse)
- Middeleeuse swaardgevegte en skermsport