Motorneuronsiekte (MNS) is ’n seldsame, progressiewe toestand wat die senuwees aantas wat spierbeweging beheer. Dit beïnvloed hoe ’n persoon loop, praat, sluk en uiteindelik asemhaal. MNS is ’n ongeneeslike siekte, maar vroeë ondersteuning en ’n geïntegreerde sorgbenadering kan die lewensgehalte van iemand met MNS verbeter.
In Suid-Afrika verskil toegang tot sorg afhangend van waar iemand woon en wat die persoon se mediese fonds dek. Maar met tydige beplanning en die regte span, kan mense met MNS langer onafhanklik bly en beter voorbereid wees op die pad vorentoe.
Wat is motorneuronsiekte?
MNS verwys na ’n groep siektes wat die motorneurone – die senuweeselle wat seine van die brein na die spiere stuur – beskadig. Met verloop van tyd hou hierdie neurone op werk, wat lei tot spiere wat verswak en wegteer.
Daar is verskillende soorte MNS, insluitend amiotrofiese laterale sklerose (ALS), progressiewe spieratrofie, progressiewe bulbêre verlamming en primêre laterale sklerose. Simptome is dikwels aan die begin amper nie merkbaar nie en verskil van persoon tot persoon. Dit kan vroeë diagnose bemoeilik.
Hoewel MNS nog nie heeltemal verstaan word nie, met beide genetiese en omgewingsfaktore as oorsake, werk navorsingspanne regoor die wêreld daaraan om hierdie siektes beter te verstaan en te behandel.
Die drie fases van MNS
MNS het gewoonlik drie fases, elk met sy eie uitdagings. In die vroeë stadium kan ’n persoon spierswakheid, -krampe of -trekkings opmerk – dikwels in die arms, bene of gesig. Handgreep, balans of spraak kan aangetas wees, maar dié tekens word dikwels verkeerdelik aan ander toestande toegeskryf.
Simptome raak meer opvallend in die middelste fase. Spiere kan swakker word en styfheid in die gewrigte kan dit moeilik maak om rond te beweeg. Party mense ervaar persoonlikheidsveranderinge of emosionele skommelinge, en asemhaling kan moeiliker raak.
Slukprobleme kan ook ontwikkel, wat die inset van ’n spraak-en-taal terapeut sal vereis.
In die gevorderde stadium raak beweeglikheid dikwels ernstig ingeperk en verlamming kan voorkom. Hulptoestelle word dan noodsaaklik – soos kommunikasiehulpmiddels, voedingsbuise of nie- indringende ventilasie. ’n Rolstoel en omgewingsaanpassings by die huis (soos hystoestelle of opritte) kan daaglikse versorging vergemaklik.
Hoe vinnig die siekte vererger, verskil van persoon tot persoon, maar die gemiddelde lewensverwagting ná diagnose is twee tot vyf jaar. Vroeë, gekoördineerde sorg is dus uiters belangrik.
Hoekom vroeë ondersteuning belangrik is
Vroeë ondersteuning help mense met MNS om simptome te bestuur, vooruit te beplan en spanning te verminder. Om ’n diagnose van MNS te ontvang, kan oorweldigend wees. Maar as ’n ondersteuningstelsel met toegang tot beskikbare hulpbronne onmiddellik opgebou word, kan dit die persoon se lewensgehalte vorentoe verbeter.
Hierdie ondersteuning sluit dikwels in:
- Fisioterapie om krag en mobiliteit te behou
- Spraak- en taalterapie vir kommunikasie en sluk
- Arbeidsterapie vir aanpassings tuis en daaglikse roetine-aktiwiteite
- Emosionele en sielkundige ondersteuning vir die persoon en sy of haar ondersteuningsnetwerk
- Beplanning rondom mediesefondsdekking, insluitend voordele vir toerusting, tuisversorging en terapie
Hoewel party mense gevreesdesiekte- of ongeskiktheidsvoordele het, is daar baie wat dit nie het nie. Plaaslike organisasies soos die Vereniging vir Motorneuronsiekte van Suid-Afrika (MNDA SA) help om hierdie gapings te vul deur berading en ondersteuningsgroepe te bied en mediese toerusting uit te leen.
Hoekom ’n geïntegreerde benadering werk
Motorneuronsiekte raak nie net die liggaam nie – dit raak elke aspek van ’n persoon se lewe. Daarom is sorg deur ’n multidissiplinêre span so belangrik. ’n Geïntegreerde benadering beteken dat verskillende gesondheidsorgkundiges saamwerk om die persoon holisties te ondersteun, eerder as om individuele simptome afsonderlik te behandel.
Die span kan uit ’n huisdokter, neuroloog, fisioterapeut, spraakterapeut, dieetkundige, berader, maatskaplike werker, versorgers en familielede bestaan. Gekoördineerde sorg verminder hospitalisasie en afhanklikheid van versorgers, verbeter alledaagse funksionering, en help almal om veranderinge oor die verloop van die siekte beter te verstaan en te hanteer.
Die Britse neuroloog professor Pietro Fratta en sy span se werk fokus op die buitengewone kompleksiteit van motorneurone – van die mees ingewikkelde selle in die menslike liggaam – te verstaan. Hulle navorsing beklemtoon die belangrikheid van samewerking en ’n holistiese benadering om die siekte se verloop te vertraag en simptome te verlig.
Navorsing bied hoop
Hoewel MNS moeilik bly om te behandel, vorder internasionale navorsing. Einde 2023 het die University College London (UCL) ’n dokumentêr genaamd Turning the Tide uitgereik. Daarin deel hulle ’n ontdekking oor ’n spesifieke proteïen, TDP-43, wat by mense met MNS uit die selkern van motorneurone verlore gaan.
Hierdie verlies blyk die produksie van ’n ander proteïen-enkoderende geen, UNC13A, te ontwrig – wat moontlik tot die siekte lei. Fratta se span glo dat die senuweeskade moontlik vertraag of selfs voorkom kan word deur hierdie proses in die laboratorium en daarna in kliniese proewe te teiken.
Hoewel behandelings nog ontwikkel word, bied die navorsing hoop. En dit beklemtoon die belangrikheid van volgehoue belegging in ’n siekte wat dikwels as ’n “verlore saak” beskou word.
Ondersteuning wat in Suid-Afrika beskikbaar is
Hoewel MNS tans nie as ’n voorgeskrewe minimumvoordeel (VMV) erken word nie, kan sekere aspekte van sorg – soos gesondheidsorgdienste, medikasie en hulptoestelle – moontlik deur ’n omvattende mediesefondsplan gedek word. Dit is belangrik vir lede met MNS om seker te maak van hulle voordele en met die mediese skema te praat oor wat beskikbaar is.
Die MNDA SA bied ondersteuning aan mense met MNS deur:
- Telefoon- en tuisgebaseerde berading
- Inligting en hulpbronne (ondersteuningsgroepe) vir mense met MNS en hul gesinne
- Uitleen van toerusting (byvoorbeeld, rolstoele en hystoestelle)
- Bewusmaking en voorspraak
As jy ’n Medihelp-lid is, kan jy op die Member Zone sien watter voordele jou plan bied en hoe om aansoek te doen vir bykomende ondersteuning of dienste.
Lede van MedPlus en MedElite kan moontlik vir dekking vir nie-VMV chroniesemedikasie vir MNS in aanmerking kom, onderhewig aan voorafgoedkeuring en befondsingsriglyne. Ander ondersteuning, soos konsultasies of bystand, kan uit jou plan se mediese spaarrekening gedek word.
Ten slotte
Om met MNS saam te leef, is sonder twyfel uitdagend – maar vroeë diagnose, proaktiewe ondersteuning en ’n multidissiplinêre sorgspan kan die pad effens makliker maak. In Suid-Afrika word MNS dikwels ondergediagnoseer, wat vroeë opsporing en bewusmaking soveel belangriker maak. Inisiatiewe soos die J9-stigting, wat deur die oorlede rugbyheld Joost van der Westhuizen begin is, het gehelp met bewusmaking en om spesialis-MNS-klinieke in party staats- en akademiese hospitale tot stand te bring. Die klinieke bied gekoördineerde sorg en ondersteuning aan gesinne wat die kompleksiteit van die toestand moet hanteer.
As jy of ’n geliefde met MNS saamleef, moenie wag om jou ondersteuningstelsel te bou nie. Vind uit watter hulpbronne beskikbaar is, praat met jou dokter oor spesialisklinieke en tree in verbinding met plaaslike organisasies. Want vroeë ondersteuning is noodsaaklik.
Verdere leesstof
Message banking* bring hoop vir mense met MNS. Dis ’n fassinerende plaaslike projek van die Universiteit van Pretoria wat mense met MNS in staat stel om hulle eie stem en kommunikasiestyl te bewaar voordat hulle spraak agteruitgaan. [Lees verder]
(*Message banking is ’n navorsingsgebaseerde inisiatief. Hoewel dit nog nie wyd beskikbaar is nie, is dit ’n aanduiding van die soort innoverende benaderings wat in Suid-Afrika na vore kom.)