Om ’n kind te kry is opwindend. Maar dis ook duur. Ons het gaan kyk hoe nuwe ouers neig om anders te begin dink oor hul spanderingsgewoontes.
Die lewe voor kinders
Sonder kinders gaan jy waarskynlik taamlik gemaklik om met geld. Solank jou maandelikse verband of huur getrou betaal word en jy brandstof, kos en ander benodigdhede kan bekostig, het ’n bietjie bederf af en toe nie juis te veel van ’n negatiewe finansiële impak nie.
Dis nie ongewoon om selfs effens spandabelrig te wees nie. Andrea Desfarges spesialiseer in openbare betrekkinge en bemarking en het ’n agtergrond in finansies. Sy verduidelik dat baie van ons dit regverdig om iets te koop wat ons weet nie sin maak nie, soos ’n duur bykomstigheid. “Hierdie klein bederfies is soms ’n manier om onsself te troos vir die uitdagings wat ons as volwassenes verduur.”
’n Verskuiwing in prioriteite
Dit verander egter aansienlik wanneer mens ’n kind het. Desfarges sê in plaas daarvan om geld op vermaak te spandeer, verskuif dit na onderwys, kos, behuising en dikwels gesondheidsuitgawes. Trouens, 2023-navorsing deur MiWayLife het aan die lig gebring dat ouers sowat R100 000 per jaar per kind moet begroot, wat uiteraard heelwat minder ruimte laat vir luukshede.
Onderwys
Onderwys is vir ouers een van die grootste bekommernisse. Met die onsekerheid oor tradisionele skoolmodelle se vermoë om ons kinders toe te rus vir ’n wêreld wat so vinnig verander, is dit nie verbasend dat ouers baie in onderwys belê nie. Gegewe die verskil tussen die onderwysprysindeks en die verbruikersprysindeks, is private onderwys ongelukkig vir baie ouers buite hul bereik.
En dis nie net klasgeld nie, sê Desfarges. Buitemuurse aktiwiteite, skoolklere en skryfbehoeftes vat ook ’n groot hap uit jou begroting. “Boonop is dit belangrik om te spaar vir alles wat ná skool volg. In ons moderne wêreld hoef dit nie noodwendig universiteitsopleiding te wees nie; dit kan spaarkapitaal wees wat in ’n beginneronderneming belê kan word.”
Ouers moet ook nie die belang van hul eie onderrig miskyk nie. Hulpbronne soos Parent Sense maak jou raaiwerk minder met betroubare raad en ondersteuning van kundiges. Medihelp-ouers kry hierdie hulpbron gratis as deel van hul voordele.
Kos
Kos is nog iets waaraan nuwe ouers meer aandag skenk. Alhoewel kos dalk reeds ’n groot deel van jou begroting is, sou dit voorheen heel moontlik vir restaurant- of wegneemetes wees. Maar sodra jou nuwe baba vaste kos begin eet, is daar nóg ’n mond om te voed. Ouers is ook baiemaal bereid om ’n bietjie meer op organiese vrugte en groente of plaasvleis en -hoender te spandeer.
“Namate kinders ouer word, raak die lewe as ouer besiger soos jy probeer om balans te vind tussen jou werksverpligtinge en jou kinders se aktiwiteite. Dis hier waar gerief meer begin tel as gehalte – maar dit kom steeds teen ’n prys. Baie ouers gee nie om om ’n bietjie meer vir bevrore of voorafgemaakte maaltye te betaal as dit kosbare ure spaar wat liewer in gesinstyd belê kan word nie,” sê Desfarges.
Behuising
Ouers wil hulle kinders in ’n veilige omgewing grootmaak, en daarom word behuising ’n groot uitgawe. Dit kan beteken om na ’n groter huis, ’n beter woonbuurt of nader aan ’n skool te trek, wat hoër koste meebring.
Gesondheidsverwante uitgawes
Jou kind se veiligheid en sekuriteit word ’n groot motivering in jou lewe. Dit maak dit dus noodsaaklik om jou kleinding as ’n afhanklike van jou mediese fonds by te voeg of selfs na ’n hoë plan te verander wat omvattender dekking bied.
Aanpas van persoonlike besteding
Baie ouers doen moeite om behoorlik vir kos te begroot. Hulle beplan dikwels hul etes vir die week om vermorsing te verminder, sê Desfarges.
“Hoewel kinders vinnig uit hul klere groei en maklik elke paar maande ’n nuwe klerekas nodig het, is ouers minder geneig om vir hulleself nuwe klere aan te skaf. Ons raak gewoond daaraan om minder aan onsself te spandeer en om daardie geld eerder te gebruik vir dit wat vir ons kinders noodsaaklik is. As ons egter ’n item sien wat waarskynlik ’n paar seisoene sal hou en op die lange duur geld sal spaar, betaal ons gewillig die hoër prys wat met gehalte gepaard gaan,” sê sy.
“Die verandering in bestedingsgewoontes verander mens se verhouding met geld, gewoonlik ten goede en wat ons hopelik aan ons kinders sal oordra. As hulle sien ons dink mooi oor waar en hoe ons ons geld uitgee, staan die kanse goed dat hulle dieselfde sal doen,” sluit Desfarges af.