Jou tiener storm die huis in, slaan deure toe en weier om te kom vir aandete. Dis mos niks ongewoon nie? So jy rol jou oë, oorweeg dit om al die deure te verwyder en bêre teen jou sin ʼn bord kos vir hulle om laataand te verorber.
Jy weet dinge sal môre beter gaan en jou tiener weer in ʼn mens verander. Maar wat doen jy wanneer dinge nie beter raak nie? As dit verder gaan as gewone tienergedrag en eintlik ʼn teken van angs is? Wat doen jy wanneer angs jou kind se vermoë om die daaglikse lewe aan te pak nadelig raak?
Tieners se uitdagings
Tieners moet die moeilike balans tussen onbeperkte potensiaal en diepgaande kwesbaarheid handhaaf. En hoewel hulle meer toegang tot hulpbronne en keuses as ooit tevore het, is die druk ook erger as voorheen.
Tieners moet inpas maar uitstaan; hulle moet goed lyk maar nie te hard probeer nie; hulle moet gewild wees maar akademies presteer; en die lys van teenstrydighede stop nie daar nie. Dis geen wonder tieners beleef soveel angs nie. Dis ook nie ʼn verrassing dat Disney en Pixar besluit het om die fliek Inside Out 2 vry te stel om hierdie ingewikkelde emosie aan te spreek nie.
Maar hoe help jy jou tiener om angs te oorkom? En hoe doen jy dit sonder om self in ʼn angstige wrak te verander? Hulp is byderhand.
Skep ʼn veilige hawe
Op enige ouderdom gaan ouerskap daaroor om gesinswaardes te versterk, oop kommunikasie aan te moedig en om ʼn veilige hawe te skep waar die hele gesin kan ontspan en vra vir hulp, sê Sue Botha, ʼn sielkundige van Pretoria met 23 jaar ervaring in haar eie praktyk.
Sy glo die waardes wat jy vasstel wanneer jou kinders nog klein is (soos eerlikheid, verantwoordelikheid, liefde en respek), tesame met oop, gesonde kommunikasie, lê die grondslag om die angs in tienerjare te oorwin. Sue verduidelik: “Angs is ʼn normale emosie en jy kan jou tiener help deur jou verhouding te koester en ʼn veilige hawe te skep waar hulle kan ontspan.”
“Prakties beteken dit om eenvoudige maar doeltreffende kommunikasietegnieke te gebruik en hulle te ondersteun terwyl aanspreeklikheid vir hul gedrag aan hulle oorgelaat word,” sê sy.
Twee nuttige kommunikasietegnieke
1. Konfrontasie, maar nie op die manier wat jy verwag nie
Die beste soort konfrontasie is nie konfronterend nie. Dit berus op “ek”-boodskappe in ʼn eenvoudige formule wat uit vier dele bestaan. Kom ons kyk na ʼn voorbeeld:
- Begin met ʼn eenvoudige “ek/my”-stelling: “Wanneer mense skielik op my skree...”
- Verduidelik hoe dit jou laat voel: “...voel ek deurmekaar...”
- Gee die implikasie: “...en dan kan ek nie my gedagtes agter mekaar kry om hulle te help om die probleem op te los nie.”
- Skep ʼn verwagting: “Ek hou daarvan wanneer mense vir my sê wat die probleem is sodat ek hulle kan help om dinge beter te maak.”
Hou jou taal neutraal en gebruik algemene terme soos “mense” in plaas van “jy” om te keer dat jy aanvallend klink. Dit leer jou kind ook hoe om hulle emosies op ʼn gesonde manier uit te druk.
2. Luister en bevestig
Luister aandagtig na jou kind en bevestig dan wat jy waarneem. Gebruik stellings soos “ek sien/hoor” of “dit lyk/klink of”. Hou dit eenvoudig en stel wat jy waarneem op ʼn neutrale manier.
Jy kan byvoorbeeld sê: “Dit lyk of jou dag nie lekker was nie.” Dit bevestig vir jou kind dat jy oplet en omgee vir hulle. Hulle het nou die geleentheid om te reageer. Dit gaan dalk nie onmiddellik gebeur nie, maar wanneer hulle wel reageer, luister aandagtig en hou aan om wat jy hoor te herhaal.
Sodra jou kind oor die probleem gepraat het, vra hulle hoe hulle dink die probleem aangepak kan word. Dit leer hulle om te bedaar, logies te dink, en verantwoordelikheid te neem vir hulle eie gedrag.
Wanneer jy hierdie proses deurgaans herhaal, bemagtig jy jou tiener om sterk emosies en moeilike situasies in die vervolg self te hanteer. Dit stel hulle ook gerus dat jy altyd daar sal wees as ʼn klankbord.
Koester jou verhouding en versterk jou waardes
Om die verbintenis met jou kind te bou is ʼn daaglikse ding; dis nie net iets vir daardie krisisoomblikke nie. Gebruik jou kommunikasievaardighede om positiewe situasies ook te “konfronteer” en te bevestig, byvoorbeeld: “Ek kan sien jou dag was fantasies! Vertel my daarvan.” Hou aan om terug te speel of te herhaal wat jy hoor en sien en gee positiewe terugvoer wat jou gesinswaardes versterk: “Ek is so trots op hoe verantwoordelik jy was” of “Ek weet dit was moeilik om eerlik te wees in daardie situasie, maar jy het dit in elk geval gedoen. Jy is fantasties!”
Wanneer jy hierdie tegnieke daagliks beoefen, sal dit jou help om ʼn verhouding met jou kind te bou wat op vertroue gegrond is. Hierdie grondslag sal moeilike situasies makliker maak. Tienerangs is daarom nie iets wat jy gou-gou met ʼn lysie take kan regmaak nie; dis ʼn stadige, langtermynoefening om gesonde verhoudings en oop kommunikasiekanale te bou.
Waarskuwingstekens dat jou kind se angs dalk oorweldigend raak
Sue verduidelik dat enige skielike en/of drastiese veranderinge in jou kind se gedrag ʼn waarskuwing kan wees dat stres en angs oorweldigend raak. Niemand ken jou kind beter as jy nie en jy sal ongewone gedrag die beste kan eien. Hier is ʼn paar voorbeelde:
- Drastiese veranderinge in gedrag, soos uitbarstings as ʼn kind gewoonlik stil en rustig is, of skielike lusteloosheid as hulle gewoonlik baie energie het;
- Skielike veranderinge van die kind se eetlus, soos ooreet of gebrek aan eetlus;
- Slaapversteurings. Tieners bly laat wakker en slaap op vreemde tye, maar as jou kind skielik die hele tyd slaap of glad nie kan slaap nie, is angs dalk die sondebok;
- Uiterste isolasie. Tieners spandeer gewoonlik baie ure alleen agter geslote deure, maar hulle moet nie weier om met iemand te kommunikeer of alle kontak met vriende en familie vermy nie;
- Langdurige irritasie en prikkelbaarheid; en
- Gereelde moegheid en probleme met konsentrasie.
Wanneer om professionele hulp in te roep
As jou tiener se simptome vir langer as twee weke aanhou en/of inmeng met hulle vermoë om daagliks te funksioneer, raadpleeg ʼn dokter. Jou dokter sal hulle vra oor hulle simptome, dalk ʼn fisiese ondersoek doen, en behandeling aanbeveel. Dit kan dalk ʼn verwysing na ʼn geestesgesondheidspesialis en tydelike angsmedisyne insluit.