Verstaan die verband: Trauma in jou kinderjare en vetsug
Die Wêreldgesondheidsorganisasie erken vetsug as ʼn wêreldwye verskynsel. In 1995 was daar 200 miljoen volwassenes met vetsug en met ingang van die nuwe millennium 300 miljoen.
In 2022 het die aantal mense wat as vetsugtig beskou word, verdriedubbel tot ʼn verstommende 890 miljoen regoor die wêreld. Die gevolg is dat ongeveer 1 uit 8 mense vandag met vetsug lewe, insluitend 160 miljoen kinders en tieners tussen die ouderdom van 5 en 19.
Vetsug word beskryf as ʼn ingewikkelde toestand met sosiale en sielkundige aspekte wat so te sê alle ouderdomme en sosio-ekonomiese groepe raak en dreig om beide ontwikkelde en ontwikkelende lande te oorweldig.
Nog meer tragies is die miljoene kinders (vanaf vyf jaar oud) wat sukkel met hul gewig. En ʼn groot persentasie van hierdie kinders sukkel met hierdie probleme tot in hul volwasse jare.
Die ongesiene oorsaak van ooreet
Baie faktore moet oorweeg word wanneer die oorsaak van vetsug ondersoek word, waaronder die deeglike navorsing oor die invloed van dieet, porsiegrootte en die beskikbaarheid van gesonder en meer voedsame bronne van voedsel.
Dit is egter belangrik om die rol van geestelike welstand onder dié wat sukkel met eetversteurings te erken. In ʼn studie wat professor Lisa Micklesfield van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad in 2016 gedoen het, het sy bevind dat 83% van meisies in landelike gebiede óf maerder óf vetter wil wees. Dit wys hoe die “nastreef van Westerse ideale teenstrydig is met tradisionele norme”.
Die studie meld ʼn kommerwekkende toename in eetversteurings onder swart vroue en meisies in beide stedelike en landelike gebiede. Professor Christopher Szabo, Hoof van Sielkunde by Wits Universiteit, beskryf eetversteurings (insluitend vetsug) as “sterk aanduidings van nood wat meer as kos- en liggaamlike kwessies behels”.
Ongelukkig kan die voorkoms van trauma (soos verwaarlosing en mishandeling) ʼn bedreiging inhou vir selfbeeld en geestelike bestendigheid. Dit lei na troos soek in kos, aan kos vergryp (“binge eating”) en meer.
Sluk die seer: Die uitwerking van trauma in die kinderjare
Trauma in die kinderjare, wat deur sielkundiges as ongunstige kinderervarings (ACE) geklassifiseer word, sluit fisiese en emosionele mishandeling, verwaarlosing, geestesversteuring, dwelmmisbruik in die huis en blootstelling aan gesinsgeweld in.
In 2016 het die Optimus Study (ʼn studie onder hoërskoolleerlinge regoor Suid-Afrika) bevind dat ʼn skrikwekkende een in elke drie Suid-Afrikaanse kinders een of ander vorm van seksuele mishandeling beleef. Boonop het 15,1% van respondente aangedui dat hulle verwaarlosing van enige soort beleef het en 34,8% van leerlinge het fisiese mishandeling gemeld.
Hierdie soort trauma hou verband met die ontwikkeling van geestelike versteurings later in ’n mens se lewe. Joseph Lloyd Davies, ʼn spesialis en lektor in Toegepaste Sielkunde by die Cardiff Metropolitaanse Universiteit, noem studies wat toon dat mense wat aan vier of meer van hierdie ongunstige kinderervarings blootgestel is se kans om ʼn ongesonde dieet te volg twee keer groter is. Hy verduidelik dat slagoffers van trauma in die kinderjare geneig is om deel te neem aan skadelike gedrag soos selfbeskadiging, dwelmmisbruik en kosvergryp as ʼn afleiding. Sodoende word die aanspreek van diep onstellende kwessies wat gegrond is in traumatiese gebeurtenisse in die kinderjare vermy.
Sluk aan jou trane
ʼn Algemene metode van vermyding en afleiding is emosionele eet. Dis die geneigdheid om letterlik jou trane te sluk deur kos wat hoog in vet en suiker is te eet.
Hierdie kos bied troos, want dit aktiveer die beloning- en plesierstelsel in die brein. Dopamien, die goedvoelhormoon, word vrygestel. Dit verander egter maklik in ʼn dodelike siklus van herhalende ooreet of kosvergryp om die tydelike plesier en troos na te jaag.
Wanneer kos gebruik word as troos om negatiewe emosies teen te werk, is gewigstoename en vetsug die ongelukkige uiteinde. Dit lei weer tot ernstige gesondheidsprobleme soos diabetes, hoë bloeddruk en hartsiekte wat die algehele gehalte van lewe verder laat afneem.
Hoe om ooreet te oorwin
- Erken dat jy ʼn probleem het wat deur emosionele ontevredenheid of nood aangevuur word.
- Gebruik kognitiewe terapie om trauma en die gedragspatrone wat daaraan gekoppel word (soos ooreet) aan te spreek. Wanneer jy jou “triggers” verstaan en maniere toepas om hulle te bestuur, herprogrammeer jy jou brein om anders te reageer op stres en trauma. Jy gebruik strategieë om die situasie te hanteer wat nie nadelig is nie.
- Moet nie onderskat hoeveel waarde aandagtigheid (“mindfulness”) het as ʼn gesonde manier om jou gevoelens en gedagtes te erken sonder oordeel nie.
- Spreek ʼn dieetkundige. Gesonde keuses stabiliseer glukosevlakke wat fisiese hunkering na kos verminder.
Geskryf vir Medihelp deur Maritha Broschk