Winter het sy kloue behoorlik ingeslaan! ’n Mens voel sommer hoe jou energie afneem met elke ekstra laag klere wat jy aantrek, en kort voor lank is jy vasgevang in die winter-“blues”. ’n Mens sou dink winterdepressie is tot die koue, sneeubedekte noorde beperk, maar selfs in sonnige Suid-Afrika kom lê seisoenale depressie soos ’n dik wolkombers op talle.
Seisoenale affektiewe versteuring (SAD)
Volgens prof Johan Potgieter, kliniese sielkundige en professor in sielkunde aan die Noordwes-Universiteit, is seisoenale affektiewe versteuring (SAD) ’n vorm van depressie wat met die verandering in seisoene gepaardgaan. Talle mense ervaar simptome soos:
- ’n gebrek aan energie;
- buierigheid;
- buitengewoon baie slaap of sukkel om uit die bed te kom;
- ’n verhoogde eetlus en gewigstoename;
- probleme met konsentrasie;
- en gevoelens van wanhoop.
“Simptome begin gewoonlik in die herfs, duur tot in die wintermaande, en verdwyn gedurende die lente- en somermaande. SAD is nie net tot die Noordelike Halfrond beperk nie. In die Suidelike Halfrond kom dit veral gedurende Julie en Augustus voor. SAD kan ook in die lente- en somermaande voorkom. Hoe verder jy van die ewenaar af woon, hoe groter is die risiko vir SAD,” sê hy.
Volgens prof Potgieter vier verkoue en griep hoogty in die wintermaande, wat ’n invloed op jou gemoedstoestand het. “Dit is ’n tweesnydende swaard. Indien jy depressief voel, oefen jy minder, slaap jy moontlik te veel, en eet jy ongesond. Dit het weer ’n invloed op jou fisieke welstand en immuniteit, die liggaam se verdedigingstelsel teen kieme.”
Volgens hom word SAD-simptome met ligterapie, psigoterapie of medisyne behandel. “Eenvoudige leefstylaanpassings kan egter ook wondere doen om winterdepressie die hoof te bied,” sê hy, en deel wenke om jou gemoed én gesondheid ’n hupstoot te gee.
Wenke vir die winter
Stap ’n slag
Navorsing wys dat fisieke aktiwiteit, veral stap, jou energie verhoog. ’n Stappie van tien minute kan jou vir sowat twee ure daarna energie gee. As jy vir drie weke aanmekaar elke dag tien minute lank kan stap, sal jy fisiek en geestelik meer energiek voel. Oefening help om jou immuunstelsel gesond te hou deurdat dit bloedsirkulasie verbeter.
Ontspanning nie opsioneel
Daar is min dinge wat jou energie tap soos stres en angstigheid. Hoe meer langdurend jou stres, hoe erger is die uitwerking op jou energie en immuniteit. Tyd om te ontspan is broodnodig, nie opsioneel nie. Dit kan ’n dag in die natuur wees, ’n kunsaktiwiteit, of ’n kuiertjie saam met vriende.
Drink meer water en minder alkohol
Uitputting is dikwels ’n teken van dehidrasie, veral in die winter wanneer ’n mens minder water drink. As jy moeg voel of lus raak vir iets soet, drink ’n glas water voor jy ’n sjokolade verorber. Pasop vir te veel koffie en tee, aangesien kafeïen jou liggaam verder kan dehidreer. Vermy te veel alkohol om jou te help ontspan. Dit is ’n depressant wat voorkom dat jy diep slaap en goed uitrus.
Eet reg
Vir volgehoue energie is dit noodsaaklik om jou bloedsuikervlak konstant te hou deur jou suikerinname te verminder en lae GI-voedsel soos volgraanprodukte te eet. As jy etes oorslaan, gaan jou energievlakke heeldag wisselvallig wees. Vir goeie immuniteit is dit noodsaaklik om gebalanseerde, gesonde koskeuses te maak, soos genoeg groente, vrugte, neute en sade.
Sit in die son
Direkte sonlig en selfs rooiligterapie hou talle voordele in: dit verbeter jou gemoed, verlaag jou bloeddruk, verhoog die suurstofvlak in jou bloed en help jou liggaam om vitamien D te vervaardig. Een van die voordele van vitamien D is dat dit jou liggaam teen griep en lugweginfeksies beskerm. Oorweeg ook ’n goeie multivitamienaanvulling.