Dr Thomas Frieden, voormalige direkteur van die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming (CDC) beskryf stap as die naaste ding wat ons aan ’n wondermiddel het. In hierdie artikel kyk ons na vyf goeie redes om stap deel te maak van jou daaglikse roetine.
# 1: Dit is sag op die gewrigte
Stap is lae-impak-oefening, veral teenoor ander hoë-impak-aktiwiteite soos draf. Nie net is dit sag op jou gewrigte nie; dit kan gewrigspyn selfs verlig. Talle studies het al bewys dat stap artritispyn kan verminder. Stap smeer en versterk ook die gewrigte en beskerm hulle teen osteoartritis.
#2: Daar is minder kans op besering
Weens die lae impak van stap, is jou risiko vir besering minder as met draf. Draf is swaar op jou bindweefsel en dit maak korttermynbeserings meer waarskynlik. Vir enigeen met vorige beserings is stap dus ’n beter opsie. Selfs ervare drawwers wat ’n ruk lank nie geoefen het nie, moet stadig begin. As jy wil begin draf, kyk gerus ook na Medihelp se handige oefenprogram.
#3: Dit verminder stres en help om kosdrange te beheer
Stap kan stres verminder en jou bui verbeter. Dit kan selfs jou eetdrange tydens stresvolle situasies hokslaan: ’n Studie aan die Universiteit van Exeter het bevind dat die sjokoladedrang tydens veeleisende werksituasies vir mense wat gereeld sjokolade eet gemiddeld 50% laer was nadat hulle 15 minute lank energiek gestap het. Daarteenoor kan draf en ander hoë-intensiteit-sport jou eetlus verhoog wanneer dit té lank en té intens gedoen word.
#4: Dit is goed vir jou geestesgesondheid
Die emosionele en geestelike voordele van stap strek wyer as om stres te verminder. Kenners vergelyk stap, veral stap in die natuur, met meditasie. ’n Toronto-studie het ’n toename van 16% in werkende geheue en aandag by deelnemers gemerk nadat hulle vir ’n uur lank in die natuur gestap het. Trouens, stap oor die algemeen bevorder serotonien en ander goedvoel-hormone, ongeag waar jy dit doen.
#5: Dit versterk jou immuunstelsel
Stap kan verkoue weghou. ’n Studie van meer as 1 000 mense het getoon dat dié wat 20 minute per dag, vyf dae per week stap 43% minder siekverlof neem as dié wat net een keer ’n week oefen of glad nie oefen nie. En wanneer hulle wel siek word, is dikwels vir ’n korter tydperk en met ligter simptome.
Beginnersvriendelike staproetes
As jy graag gesonder wil begin leef deur te stap maar jy weet nie waar om te begin nie, kan jy gerus hierdie maklike roetes regoor Suid-Afrika oorweeg:
- Gratis stap-ekspedisies aangebied deur City Sightseeing: Historic City en Vibrant Bo-Kaap in Kaapstad, Wes-Kaap
- Die Majik Forest-staproete in Durbanville, Wes-Kaap
- Groenkloof-natuurreservaat in Pretoria, Gauteng se rooi roete
- Die Westcliff-loop in Johannesburg, Gauteng
- Die Cascades Hike in Bonjaneni, KwaZulu-Natal
Onthou net, of jy met jou hond deur die woonbuurt gaan stap, ’n museum verken of jou treë by ’n winkelsentrum inkry, die belangrikste ding is om te begin!