Maak kennis met die span

Medihelp het tans meer as 500 werknemers in diens wat baie ervare is en met die nodige vaardighede toegerus is om ’n kliëntedienservaring te lewer wat alle verwagtings oortref. Ons voldoen aan ons kliënte se behoeftes deur:

Kliëntesorgkonsultante

Medihelp se kliëntediensverteenwoordigers is die intreepunt vir die meeste van ons kliënte en is die gesig van ons organisasie. Elke konsultant ondergaan intensiewe opleiding in Medihelp se produkte en dienste, en leef ons waardes van integriteit, deursigtigheid, vertroue en eerlikheid uit in alles wat hulle doen. Konsultante volg ’n geïndividualiseerde benadering deur jou unieke gesondheidsorgbehoeftes in detail te ontleed sodat jou kliëntedienservaring vlot verloop. Meer as 80% van alle oproepe wat Medihelp ontvang, word binne 20 sekondes beantwoord, en ons evalueer gereeld ons dienslewering sodat ons aan die voorpunt bly van veranderende tegnologie in pas met kliënte se behoeftes.

Interne oudit

Medihelp is ernstig oor korporatiewe bestuur asook om bedrog, vermorsing en uitbuiting te voorkom. Ons Interne Oudit- en Forensiese Ondersoeke-afdeling ondersoek enige ongewone of verdagte transaksies wat via Medihelp se verskeie bedrograpporteringskanale aangemeld word, of geïdentifiseer word deur monitering van risikotendense. Die afdelings doen ook proaktiewe ondersoeke in hoërisiko-areas. Die afdelings handel volgens Medihelp se beleid oor bedrog en korrupsie en word streng gereguleer om te verseker dat Medihelp aan die toepaslike wetgewing voldoen. Die Interne Oudit-span maak ook aanbevelings oor hoe interne kontrolemaatreëls en bestuursprosesse verbeter kan word, en evalueer die doeltreffendheid van bestaande risikobestuurprosedures in die organisasie.

Ons Verkope- en Bemarking-span

Ons Verkope-span ken Medihelp se voordele op die punte van hul vingers en is geakkrediteer om die beste advies te lewer. Hulle werk nóú saam met die adviseurs, wat vertroud is met Medihelp se produkaanbieding vir individue en korporatiewe groepe. Die Bemarking-span verseker dat ons handelsmerk optimaal blootstelling geniet deur landwye borgskappe. Aanlyn bemarkingsveldtogte, ’n webtuiste wat daarop gemik is om potensiële lede se belangstelling te wek, asook duidelike en maklik verstaanbare kommunikasie op verskeie platforms verseker dat jou Medihelp-ervaring positief, konsekwent en volgens die nuutste tendense is, en dat ons handelsmerk ons vooruitstrewende en deursigtige karakter reflekteer.

Die Inligtingstegnologie-span (IT-span)

Inligtingstegnologie (IT) is die grondslag van die medieseskemabedryf. Ons vaardige IT-spesialiste stel Medihelp in staat om goed ontwikkelde stelsels en infrastruktuur daar te stel wat verseker dat toepaslike data ingesamel word, eise betyds betaal word en voordele korrek toegestaan word. Veiligheid is van die uiterste belang en daarom word alle data in ’n beveiligde omgewing gestoor om vertroulikheid te verseker. Ons het ’n verskeidenheid platforms en mediums beskikbaar waardeur jy met Medihelp kan kontak maak, insluitend die Member Zone, ’n slimfoon-app vir lede en adviseurs, en ’n aanlyn Adviser Toolbox.

Lidmaatskap

Die Lidmaatskap-span sorg dat Medihelp oor jou nuutste inligting beskik sodat ons jou kan kontak en op hoogte kan hou. Dié span sal jou help om jou nuwe baba te registreer of jou onafhanklike kinders te deregistreer en as lede van ’n geskikte Medihelp-plan in te skryf. Hulle is ook daar vir jou wanneer ’n geliefde sterf sodat jy voortgesette lidmaatskap sonder enige onderbrekings kan geniet.

Kliniese Voordelebestuur

Die Kliniese Voordelebestuur-span het geregistreerde verpleegpersoneel in diens wat verantwoordelik is om voorafgoedkeuring vir pasiënte se hospitaalopnames te gee wanneer voordeleversoeke ontvang word van dokters, hospitale, lede en hul familielede. Die span gebruik ook die dienste van sorgbestuurders om te verseker dat pasiënte in gepaste fasiliteite opgeneem word en die geskikte behandeling op die gepaste vlak ontvang, asook dat rekenings aan die Skema gelewer word soos met gesondheidsorgverskaffers en -fasiliteite ooreengekom.

Gesondheidsorgverskaffersnetwerke

Medihelp het kontrakte gesluit met gehalte privaat gesondheidsorgverskaffersnetwerke, insluitend hospitale, tandartse, oogkundiges en algemene praktisyns. Sodoende sorg ons dat gesondheidsorg bekostigbaar bly vir ons lede en dat bybetalings beperk word. Indien jy op een van ons netwerkplanne ingeskryf is, geniet jy die voordeel van ’n laer ledegeldpremie in ruil daarvoor dat jy dienste in ’n netwerk van gehalte spesialiste, hospitale en ander diensverskaffers ontvang.

Medihelp se voorkeurapteeknetwerk

Medihelp se voorkeurapteeknetwerk bestaan uit meer as 2 000 apteke wat aan Medihelp-lede die kostedoeltreffendste professionele fooistruktuur vir voorskrifmedisyne bied. Dit beteken dat lede wat netwerkapteke gebruik, nie enige ekstra bedrae hoef te betaal vir die hoër professionele fooie wat apteke buite die netwerk hef om medisyne te resepteer nie.