Op 1 September vier ons die begin van die lente in Suid-Afrika. Dis ’n kleurvolle tyd vol vars bloeiselgeure wanneer die natuur weer begin blom en ons herinner word hoe blomme en plante ons lewens opkikker. In hierdie artikel kyk ons na die uitwerking van die kleure en geure van blomme op hoe ons voel en funksioneer.
Hoe blomkleure ons beïnvloed
Tydens die pandemie is openbare gesondheidsmaatreëls ingestel om die verspreiding van die virus te beperk. Dit het mense by die huis gehou (en hoe ons leef en werk ingrypend verander) en toegang tot natuurlike groen ruimtes ingeperk. Die gevolg was wydverspreide sosiale isolasie, wat hoër vlakke van angs, depressie, en spanning veroorsaak het, veral by mense wat nie ’n oop buite-area soos ’n stoep of tuin gehad het nie.
’n Groep navorsers het die saak ondersoek deur ’n studie uit te voer wat later in die International Journal of Environmental Research and Public Health gepubliseer is. Hulle wou vasstel hoe blomkleure menslike fisiologie en psigologie kan beïnvloed.
Sosiaal geïsoleerde deelnemers is gevra om na drie blomme van verskillende kleure (wit, rooi, en geel) te kyk – elke kleur vir drie minute lank. Die navorsers het elektro-enkefalogramme (EEG’s), hartritmevariasie, en velgeleiding gemeet om fisiologiese reaksies te ontleed. Hulle het ook ’n vraelys en ’n gemoedstoestandopname gebruik om psigologiese reaksies te evalueer.
Wanneer deelnemers na die geel en rooi blomme gekyk het, het hulle breine meer alfagolwe in die prefrontale korteks getoon. Dit is die deel van die brein wat met emosies, beplanning, en besluitneming verband hou. Alfagolwe dui dikwels op ontspanning en kalm fokus. Die helder kleure help ook die liggaam om af te skakel, te herstel, en gemaklik te voel.
Die selfassesseringsvraelys en opname het die bevindings bevestig: deelnemers het meer energiek, opgewek en ontspanne gevoel nadat hulle na helder geel en rooi blomme in vergelyking met wit blomme gekyk het.
Kortom: deur na helder geel en rooi blomme te kyk, het deelnemers se gemoedstoestand gelig en het hulle meer ontspanne en energiek gevoel.
Die genesingskrag van blommegeur
Dis nie net die kleure van blomme wat voordelig is nie. Volgens Johns Hopkins Universiteit trek essensiële olies uit gestoomde of geparste plantekstrakte direk van die reuksenuwees na die brein wanneer dit ingeasem word.
Hierdie samestellings uit plantekstrakte stimuleer die brein se emosionele sentrum op ’n positiewe manier.
In aromaterapie word essensiële olies ter wille van veiligheid in ’n olieverdamper gebruik (en nie tydens swangerskap sonder mediese advies nie).
Dit blyk dat essensiële olies vir die meeste volwassenes voordelig is, veral:
- Laventelolie vir ’n goeie nagrus
- Bloekomolie (eukaliptusolie) om lugweë oop te maak en stuwing (kongestie) te verlig
- Teeboomolie (uitwendig, verdun aangewend) om aknee, atleetvoet, en insekbytplekke te behandel
- Pippermentolie om spanningshoofpyne te verlig
- Suurlemoenolie om jou gemoed op te kikker
Hoe blomme gedrag verander
Of dit die geure en kleure van die blomme binne jou huis is of dié wat buite groei, hul ‘superkragte’ kan jou gedrag ten goede te beïnvloed. Dit is in ’n studie deur die sielkundige Nancy Etcoff van die Massachusetts General Hospital en Harvard Medical School bewys.
Haar Home Ecology of Flowers-studie het bevind dat die blomme in enige omgewing meegevoel verdiep, neerslagtigheid verdryf en entoesiasme ’n hupstoot gee.
"As ’n sielkundige," sê Etcoff, "vind ek dit veral interessant dat mense wat met blomplante rondom hulle leef, minder geneig is om angs- en depressie-episodes te ervaar." Haar bevindings dui ook op ’n meer positiewe bui wanneer mense wakker word, wat weer op ander oorgedra word – ’n verskynsel wat 'gemoedsaansteeklikheid' (“mood contagion”)genoem word.
Enige blomme werk
Dit kan duur raak om elke keer as jy inkopies doen vars blomme te koop (ons is nie almal Elton John nie, wat in ’n stadium £293 000 oor die loop van 20 maande op blomme spandeer het). Maar, ’n bekostigbare bossie nou en dan kan regtig die gemoedstoestand en produktiwiteit van diegene saam met wie jy leef en werk verbeter.
Anders, as jy ’n ywerige tuinier is en lus is om waterwys aromatiese en medisinale blomspesies te plant, kan jy hierdie YouTube-video van Cherise Viljoen kyk om nuttige wenke te kry. Viljoen is ’n tuinboukundige by die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI).
Groter blootstelling aan die natuur vir beter welstand
Anton van Niekerk, biodiversiteitsvoorsitter by die Greater Kyalami Conservancy, voeg by dat hoe meer biodiversiteit mense aan blootgestel word, hoe beter is hulle gevoel van welstand.
"Die pandemie was ’n uitstekende studie oor die positiewe impak van die natuur op ons psige. Mense met min of geen toegang tot groen ruimtes het beslis meer negatiewe psigologiese en emosionele toestande ervaar as dié met geredelike toegang tot tuine en groen gebiede. Ná die pandemie was daar ook ’n beduidende verskuiwing van stedelike na groener gebiede," sê hy.
Van Niekerk voeg ten slotte by dat daar talle studies oor die voordelige impak van plante op ons welstand as ’n spesie is: "Die positiewe reaksie wat mense op blommegeure beleef, veral sitruskultivars, is herhaaldelik waargeneem. Dit het ’n duidelike opbeurende uitwerking wat ons almal behoort te benut."
Geskryf deur Vanessa Rogers, met redaksionele verfynings deur Medihelp