Kleur en kreatiwiteit is sielsgenote. Dis ‘n manier om jouself uit te druk en kan jou lei, energie gee en gesond maak. Kleur kan dien as ’n helder rigtingwyser wat jou na jou kreatiewe potensiaal lei en jou hele wese verryk.
Kreatiwiteit in al sy vorme
Lien Potgieter, Hoof van Bemarking en Kommunikasie by Medihelp Mediese Skema, verduidelik: ”Baie mense huiwer om hulself as kreatief te bestempel, onseker waar om te begin of bang hulle doen dit dalk ‘verkeerd’. Maar hier’s die waarheid: kreatiwiteit is nie beperk tot die skilder van ’n meesterstuk of die skryf van ’n roman nie. Of jy nou kook, dans, tuinmaak, skep, of nuwe idees uitdink, jy is aktief besig om kreatief te wees.”
Kreatiewe uitdrukking is nie net pret nie – dis genesend. Dit verminder stres, maak jou meer aandag en laat ons toe om aan onderdrukte emosies uiting te gee. “Om jou hande, liggaam of verbeelding te gebruik, is ’n soort meditasie in beweging wat help om van emosionele rommel ontslae te raak en innerlike balans te herstel. Wanneer kleur by hierdie proses gevoeg word, verdiep dit die ervaring. Só word verborge gedagtes dikwels ontbloot en begraafde gevoelens geopenbaar."
Begin met die kleur wat na jou aandag trek
As jy onseker is oor watter kreatiewe aktiwiteit jy moet najaag, luister eenvoudig na die kleur wat deesdae by jou aanklank vind. Daardie kleur dra ’n boodskap. Dit weerspieël jou huidige emosionele, geestelike of energiebehoeftes. Laat dit jou na ’n kreatiewe uitlaatklep lei wat harmonie en vreugde sal bring.
“Neem ’n oomblik en dink aan die kleur wat jou aandg trek. Dis nie noodwendig jou gunstelingkleur nie – eerder die kleur waarvan jy deesdae baie bewus is of na getrek voel – die eerste kleur wat jy sien as jy byvoorbeeld in ‘n winkel instap of blomme in die tuin wat jou aandag trek. Pas dit nou by die opsies hier onder en kyk waarna jou siel dalk hunker.”
Wat jou kleur vir jou sê
Rooi – Beweeg jou liggaam, ontsteek jou passie
Rooi dui op energie. Jou liggaam smag na beweging! Vind ’n uitlaat in fisiese aktiwiteite soos rotsklim, ysskaats of buikdans of sluit by ’n Zumba-klas aan. Hierdie dinamiese aktiwiteite help om spanning te verbrand en jou lewenskrag te gee.
Oranje – Raak kreatief, bou selfvertroue
Oranje is die kleur van kreatiewe uitdrukking en selfwaarde. Probeer erdewerk, mosaïekkuns, juweliersware maak of ’n koek versier. Laat jou hande iets moois skep en kyk hoe jou innerlike kritikus in die agtergrond verdwyn.
Geel – Stimuleer jou verstand
As geel jou aandag het, wil jou verstand leer en groei. Skryf in vir ’n kursus, lees iets wat jou aan die dink sit of daag jouself uit met ’n breinspeletjie. Om te leer bou selfvertroue en help om irrasionele vrese teen te werk.
Groen – Soek balans en die natuur se aanraking
Groen is die kleur van harmonie en hartsverbinding. Spandeer tyd in die tuin, bring meer groen in jou ruimte in of loop met aandagtigheid in die buitelug. Laat die natuur jou innerlike vrede herstel.
Blou – Praat, sing, word gehoor
Blou nooi jou om jou stem te gebruik. Sluit by ’n boekklub aan, skryf in vir sang- of redenaarsklasse of druk jouself eenvoudig meer vrylik uit. Wanneer jy jou stem versterk, bou jy vertroue in jou eie menings en bevorder jy verhoudings.
Indigo – Keer na binne, reflekteer
Indigo sê dis tyd vir introspeksie. Leer om te mediteer, verken jou geestelike pad of leer ken jouself met gereedskap soos ’n dagboek of persoonlikheidstoetse. Jou innerlike bewustheid en belyning sal verdiep.
Violet – Dien iets groter
Wanneer violet roep, soek jou siel betekenis deur diens. Werk as vrywilliger by ’n plaaslike skuiling of sopkombuis of ondersteun ’n saak waaroor jy omgee . Om terug te gee is genesend en verbind jou met die groter geheel.
Pienk – Gee vir jouself liefde
Pienk nooi jou om jouself te versorg. Geniet iets wat jou hart laat sing: ’n warm skuimbad, ’n stap deur ’n parkie, 'n blokkie sjokolade of ’n bederf by die spa. Jou siel sal sing met die welverdiende aandag.
Meer oor kleur: ’n Heilige praktyk so oud soos die berge
“Die antieke Egiptenare, Grieke en Chinese het die genesende krag van kleur verstaan. Hulle het helder tempels vol gekleurde lig gebou om fisiese en emosionele kwale te behandel. Hulle het geglo dat sekere kleure na dele van die liggaam gerig kan word om blokkasies op te los en balans herstel. Hul wysheid eggo vandag: sonder lig, en sonder kleur, is daar geen lewe nie,” sê Lien.
Die towerkrag van kleur in die moderne tyd
“In ons hedendaagse wêreld word die sielkunde van kleur meestal in bemarking gebruik. Maatskappye gebruik kleur om emosie en koopbesluite te beïnvloed. Rooi wek, byvoorbeeld, dringendheid en eetlus, en dis hoekom dit so algemeen in kitskosbemarking is.”
Maar wat as ons teen verwagtinge gaan en kleur vir ons persoonlike groei gebruik in plaas daarvan om verbruikers te beïnvloed?
“Deur jouself bewustelik met kleure te omring wat met jou emosionele en kreatiewe behoeftes ooreenstem, begin jy ’n werklikheid bou wat jou ware self weerspieël. Jy word die medeskepper van ’n meer lewendige, vreugdevolle en egte lewe,” sluit Lien af.