Back 24 Jan, 2025 - Floreer!

Back

Kreatiwiteit en gesondheid: Waarom dokters hul ore spits

Kreatiwiteit en gesondheid: Waarom dokters hul ore spits

Het jy geweet kreatiwiteit kan jou gesondheid bevorder en jou lewe verleng? Vind uit hoe.
Read more

Die meeste van ons het al op een of ander tydstip ’n vorm van kuns geskep, of dit nou was om ’n deuntjie op die kitaar te tokkel, verfstrepe op ’n doek te skilder of opwindende stories van fantastiese avonture te vertel. Ons kreatiwiteit het kleintyd geen perke geken nie. Ongelukkig het talle van ons se kreatiwiteit agterweë gebly soos die verantwoordelikhede van volwassenheid toegeneem het. Wat as die ontsluiting van ons kreatiewe kant of die blootstelling aan kuns ons gesondheid kon verbeter en selfs ons lewe verleng?

Navorsing ondersteun al hoe meer kuns en kreatiwiteit as ’n vorm van mediese behandeling wat deur dokters voorgeskryf kan word om fisieke en geestesgesondheidstoestande te verlig en uiteindelik jare by ons lewe te voeg.

Kuns: ’n Goue draad deur geskiedenis

Studies toon dat ons hope kreatiwiteit as kinders het, wat met rasse skrede afneem soos ons ouer word. ’n Bekende NASA-studie bevestig dat 98% van kinders uiters kreatief is, terwyl slegs 2% van volwassenes kreatief bly soos hul biologiese horlosie aanstap.

Kuns as ’n uitdrukking van ons kreatiwiteit vleg soos ’n goue draad deur die geskiedenis van die mensdom. Vroeë grotskilderye is ’n bewys van ons kreatiewe erfenis. Wanneer ons deelneem aan kunstige aktiwiteite, vorm dit nuwe neurologiese paaie in ons brein en dit aktiveer die vrystelling van chemiese stowwe, hormone en endorfiene. Die idee dat kuns ’n luuksheid is wat slegs aan ’n uitgelese groep beskore is, word die nek ingeslaan deur die feit dat kreatiwiteit in werklikheid met ons oorlewing as ’n spesie verbind word.

Verhoogde lewensverwagting

Ons welstand is meer afhanklik van kuns as wat ons dink. Ons kan letterlik langer leef deur kreatief te raak en merkwaardige gesondheidsvrugte pluk deur aan kuns blootgestel te word. En dit kan so eenvoudig wees soos om na ’n sielvolle musiekstuk te luister of ’n skildery van ’n afstand af te bewonder.

Navorsing dui daarop dat kuns die potensiaal het om ons lewensverwagting te verleng vanweë die vermoë om ons teen ouderdomsverwante siektes, insluitend hartsiektes, beroertes en demensie, te staal.

Bewese gesondheidswenner

Kuns kan ons algehele welstand op verskeie maniere ’n hupstoot gee, hetsy deur deelname of blootstelling aan verskillende kunsvorms. Volgens Susan Magsamen, skrywer en kundige op die gebied van neuro-estetika, staan kuns met reg sy skoene vol tussen ander gesondheidswenners soos oefening, eetgewoontes en slaap.

Verskeie gesondheidstoestande kan doeltreffend met behulp van kreatiewe aktiwiteite of die blootstelling aan kuns bestuur word:

  • Vetsug

    Daar is bevind dat kunsterapie pasiënte met vetsug se selfbeeld verbeter.

  • Hartsiektes

    Ontspannende musiek verminder angs en verlig gevolglik die simptome van hartsiektes.

  • Chroniese pyn

    Om ’n musiekinstrument te bespeel, help nie net om korte mette van pyn te maak nie, dit verbeter ook die gemoedstoestand.

  • Parkinson se siekte

    Deelname aan gereelde dansklasse kan die motoriese simptome van Parkinson se siekte vertraag.

  • Bloeddruk
    Bewyse bestaan dat stres verlig word en bloeddruk verlaag word wanneer ons na kuns kyk.

Goed vir die gemoed

Kuns het ook die vermoë om verskeie geestesgesondheidskwessies te verlig, insluitend:

  • Depressie,
  • Angs,
  • Posttraumatiese stresversteuring (PTSV),
  • Demensie,
  • Skisofrenie en
  • Alzheimer se siekte.

Dr Tarisha Naidu, ’n Durbanse kliniese sielkundige en navorser, beklemtoon hoe pasiënte in openbare hospitale se blootstelling aan kuns ’n noemenswaardige uitwerking op hul emosionele welstand het. “Kuns in ’n openbare geestesgesondheidsomgewing bevorder menslikheid... ’n Eksotiese blom, deinende golwe of ’n lawwe kameelperd waar dit die minste verwag word, kan ’n kind se traumatiese ervaring verlig. Kreatiewe uitdrukking kan ’n vuisvoos volwassene na ’n plek van tydelike troos wegvoer.”

Die uitlewing van kreatiwiteit hoort nie net in die skeppende hande van kunstenaars of die onbelemmerde kleinspan nie. Dit is hoog tyd dat ons opnuut hierdie ingebore menslike passie ontsluit. Doop jou kwas in verf, haal jou beste danspassies uit (al is dit in die sitkamer), of luister na daardie liedjie wat al so lank in jou kop vassit. Dis dalk net die regte medisyne vir ’n gesonder lewe én om ’n paar ekstra jaar by jou lewe te voeg.

 


Share this on:
Aanlynklets

Voltooi die velde hieronder om met 'n konsultant te klets.