Die lang, donker dae wat die winter meebring, laat ’n mens soggens ewe langtand uit die bed klim. “Net nog één koppie koffie, dán sal ek die verkeer, die rits vergaderings en die berg werk wat wag, aandurf,” sê menige. En om soos ’n behendige Formule 1-renjaer deur ’n monsterdag te blits, gryp al meer mense na energiedrankies as kruk vir kitskrag.
Hoewel energiedrankies ’n skerper verstand, verhoogde energievlakke, verbeterde fisieke prestasie en selfs gewigsverlies beloof, maan kenners dat dié korttermynhupstoot jou in jou gesondheidspore kan stuit.
As mode gevaarlik raak
Smaakmakers (of sogenaamde “influencers”) en sportlui wat met kleurvolle blikkies vol beloftes en skitterwit glimlagte op sosiale media spog, speel ’n groot rol om veral jongmense in die strik van dié potensieel verslawende suiker- en kafeïenbelaaide drankies te laat trap – iets wat gesondheidskenners rooi laat sien.
Volgens die navorsingsgroep Statista, is nagenoeg $193 miljard of meer as R3,64 biljoen (“trillion”) se sport- en energiedrankies wêreldwyd in 2023 verkoop. Dié syfer gaan na verwagting teen 2027 tot $240 miljard of sowat R5,1 biljoen opskiet. Die grootte van die Suid-Afrikaanse mark word op $98,2 miljoen of nagenoeg R1,85 miljard (“billion”) gereken. Die groeivooruitsigte vir die plaaslike mark is bykans 10% per jaar tussen 2024 en 2028.
Dr Dirk Lombard, ’n mediese praktisyn van Kempton Park, meen daar is genoeg bewyse dat energiedrankies ernstige gesondheidsgevare, veral vir kinders, tieners en jong volwassenes, inhou. Tog is kinders met energiedrankies in die hand ’n toenemende en skrikwekkend algemene verskynsel.
Dít skuil agter die skerms
“Hoewel kafeïen een van die hoofbestanddele is, bevat die meeste energiedrankies ook guarana, ’n stimulant; taurien, ’n aminosuur; ginseng, ’n kruie-aanvulling; asook bygevoegde suikers.”
Volgens Lombard is veral die hoë kafeïen- en suikerinhoud kommerwekkend. “Tieners tussen 12 en 18 jaar behoort nie meer as een koppie koffie per dag te drink nie (en jonger kinders glad nie!), maar die kafeïeninhoud van talle energiedrankies oorskry dié beperking.”
Sommige energiedrankies bevat tussen 80 mg en 300 mg kafeïen (teenoor tussen 50 mg en 100 mg per koppie koffie), berig The Independent, en tot 60 g oftewel 12 teelepels suiker! Kenners beveel aan dat ons suikerinname tot 5% (sowat 25 g) van ons daaglikse energie-inname beperk word om gesondheidstoestande soos vetsug, diabetes, hartsiektes, beroerte, hoë bloeddruk, lewersiektes en selfs sommige soorte kanker te voorkom. Die toename in suikervrye energiedrankies ten spyt, die ander potensieel gevaarlike bestanddele behoort ’n mens twee keer te laat dink voordat jy dít drink.
Gevaarlike gevolge
“Hoë konsentrasies kafeïen kan onder meer ernstige kardiovaskulêre probleme veroorsaak. Dit sluit in hartritmeversteurings, verhoogte polsslag, hartkloppings en verhoogte bloeddruk. Angstigheid, spysverteringsprobleme soos naarheid en braking, dehidrasie, hoofpyne en kafeïenonttrekkingsimptome kom ook algemeen voor,” sê Lombard.
Hy meen gesonde kos, nié energiedrankies nie, moet ons liggaam van volhoubare energie voorsien. “Die meeste energiedrankies het ’n hoë glukemiese indeks (GI), wat beteken dat glukose baie vinnig in die bloedstroom beland. Die pankreas moet dié insulien afskei om die glukose te verwyder. Dit kan tot insulienweerstandigheid lei, wat weer vetsug en tipe 2-diabetes tot gevolg het.
“In ons gejaagde lewe eet ons ook al meer verwerkte kos en kitskos. Daarom voel ’n mens gedurig honger en moeg, veral in wintertye,” sê hy.
Navorsing deur die Britse Dieetkundigevereniging toon voorts dat die kombinasie van swak eetgewoontes en energiedrankies kan bydra tot allergieë, hiperaktiwiteit en aandagtekort by kinders, terwyl ’n verswakte immuniteit, slaappatroonversteurings, asook ’n verhoogde voorkoms van alkoholgebruik en hoërisikogedrag by volwassenes kan voorkom.
Oorweeg dié gesonde alternatiewe
- Waterkar: Drink minstens ses tot agt glase water per dag. Dit bly die beste medisyne vir sellulêre energie. Voeg suurlemoenskywe of mentblare by die water, of maak jou eie ystee.
- Breinkos: Eet kos wat jou geheue sal aanwakker, soos avokado, eiers, bessies, groen groentes, vrugte, neute en sade, en vis soos salm.
- Min én meer: Eet kleiner etes en meer gereeld om te verseker dat jou energievlakke regdeur die dag stabiel bly. Hoe groter die ete, hoe groter die behoefte aan ’n middagslapie.
- Slaapslim: Om breinfunksionering te bevorder, moet jy ses tot agt ure slaap inkry. Jou brein móét soos ’n rekenaar herlaai (“reboot”). Broodnodige herstelfunksies in die liggaam vind ook plaas wanneer jy slaap.
- Roer jou litte: Oefening is voordelig vir breinaktiwiteit omdat dit bloedvloei deur die liggaam en na die brein bevorder. Die endorfiene (goedvoelstowwe) wat deur oefening vrygestel word, gee breinfunksionering ’n hupstoot, veral as jy sukkel om te konsentreer. Pleks van ’n rusbank-ruspe word dié winter, stap ’n slag!