Om met diabetes gediagnoseer te word, kan vir jou ’n groot skok wees en die proses om te leer hoe jy hierdie chroniese siekte moet bestuur, kan oorweldigend wees.
Verskillende soorte diabetes het verskillende oorsake, maar dis in wese ’n siekte wat jou liggaam se vermoë aantas om insulien te vervaardig of te gebruik, en dit word gekenmerk deur verhoogde bloedglukosevlakke.
Sommige risikofaktore vir diabetes is ’n familiegeskiedenis van die siekte, oorgewig of vetsug, hoë bloeddruk, ’n lae HDL-cholesterolvlak en ’n onaktiewe leefstyl.
Bestuur diabetes deur leefstylveranderings
’n Diagnose van diabetes kan lei tot ontkenning en ’n weiering om te aanvaar dat dit met jou gebeur. Gevolglik beskou jy die siekte as minder ernstig, en volgens Margot McCumisky, die nasionale bestuurder van Diabetes South Africa, is dit ’n baie gevaarlike siening van diabetes.
Nadat jy met diabetes gediagnoseer is, sal jou dokter feitlik altyd leefstylveranderings aanbeveel om jou gesondheid te verbeter. Dit sluit in gewigsverlies, meer oefening en dieetveranderings. Oefening verhoog insuliensensitiwiteit, en jou bloedsuikervlak sal daal nadat jy geoefen het.
“Maak eers net een verandering en sodra jy dit onder beheer het, pak die volgende een aan. Jy kan begin deur vet uit jou dieet te sny, 2 tot 5 kg af te skud of twee of drie keer per week te gaan stap.”
Stel vir jouself klein, haalbare doelwitte. Sodra jy hierdie veranderings begin maak, sal jy gemotiveer wees en glo dat jy meer kan bereik.
Ondersteuning van die gesin en langtermyndoelwitte
Wanneer ’n lid van die gesin met diabetes gediagnoseer word, kan dit die res van die gesin angstig laat voel oor hoe die komplikasies van die siekte hulle lewens sal affekteer en verander. Diabetes kan ’n familiekwaal wees en ’n gesonder leefstyl sal nie net die persoon met diabetes help om die toestand te bestuur nie, maar sal ook keer dat ander gesinslede die toestand opdoen.
“Almal in die gesin kan baat by ’n gesonder leefstyl, maar drastiese veranderings sal nie noodwendig suksesvol wees nie. Begin deur klein aanpassings te maak, soos om na volgraanpasta oor te skakel. Jy kan steeds die familie se gunsteling geregte voorberei, maar vervang net sekere bestanddele met gesonder opsies. As almal steeds dieselfde kos eet, sal dit keer dat die persoon met diabetes uitgesluit voel.”
’n Lewe met diabetes beteken nie dat jy nie meer lekker kan eet nie; jy moet net kieskeuriger wees oor wat jy eet. “Gebruik jou verbeelding en wees kreatief om te verseker dat jy steeds heerlike kos kan geniet. Dit lyk dalk na ’n groot verandering, maar dit kan maklik ’n nuwe leefwyse word as jy doelwitte stel en dit stap-vir-stap aanpak.”
Daar is ook ander moontlike gesondheidsrisiko’s vir mense met diabetes wat alkohol inneem. Dit kan tot onvoorspelbare bloedsuikervlakke ly, aangesien dit die liggaam se insuliensensitiwiteit verlaag.
Mediese fonds en bystand
Diabetes is een van die 26 chroniese siektes waarvoor Medihelp die koste van die diagnose, behandeling en sorg dek. Jy kan voorgeskrewe minimum voordele (VMV) vir hierdie toestand ontvang deur dit te registreer by Medihelp.
Medihelp bied ook ’n Program vir Vroeë Bespeuring aan wat daarop gemik is om mense met ongediagnoseerde hoë bloeddruk, diabetes en hoë cholesterol te identifiseer en hulle te ondersteun met die bestuur van die toestande.
Volgens McCumisky is dit belangrik dat mense met chroniese siektes soos diabetes VMV ontvang, aangesien die toestand deurlopende sorg vereis. < /p>
“Mense met diabetes het ook ander ondersteuning nodig. Die lede van Diabetes South Africa ontvang ’n reeks voordele soos inligtingsboekies, resepte, mediese sokkies, ’n gratis oogtoets, ’n gratis bloedglukosemeter en ’n lidmaatskapkaart. Ons het ook ’n netwerk van ondersteuningsgroepe waar mense met diabetes hulle ervarings kan deel en kan baat by die interaksie met ander wat in dieselfde situasie is.”
Bronne:
https://my.clevelandclinic.org/health/diseases/7104-diabetes-mellitus-an-overview
https://www.webmd.com/diabetes/diabetes-lifestyle-tips