Hoe jy met jouself praat, vorm jou identiteit en bepaal hoe jou jaar verloop
Ons skop dikwels 'n nuwe jaar met goeie voornemens af. Ons konsentreer op die dinge wat ons wil bereik, soos om 5 kilometer te hardloop, meer te lees of geld te spaar. Maar hoe dikwels staan ons vir 'n oomblik stil om die stemmetjie te ondersoek wat heeltyd saam met ons is op hierdie voornemepad?
As jy al ooit 'n tikfout raakgesien het net ná jy 'n e-pos gestuur het, of 'n kliënt per ongeluk by die verkeerde naam genoem het, en dan onmiddellik gedink het: "Ek's so 'n idioot," of "Dit was so dom van my," dan was jy nie net besig om uiting te gee aan frustrasie nie. Sonder dat jy dit agterkom, skep hierdie kwaai manier hoe jy met jouself praat 'n terugvoerkringloop wat bepaal hoe jy jouself sien.
Die identiteitskringloop
In Atomic Habits stel James Clear 'n belangrike verskuiwing voor in hoe ons oor verandering dink. Die meeste mense probeer hulle uitkomste verander (om gewig te verloor) of hulle prosesse (om gimnasium toe te gaan). Volhoubare verandering begin egter by identiteit.
Elke aksie wat jy neem, is 'n "stem" vir die tipe mens wie jy glo jy is. Omgekeerd werk dit dieselfde: hoe jy met jouself praat, versterk daardie identiteit.
|
Identiteit |
→ |
Oortuiging |
→ |
Motivering |
→ |
Aksie |
|
"Ek is sleg met geld." |
"Ek sal in elk geval nie begrotings verstaan nie." |
"Hoekom daarna kyk? Dit maak my net angstig."
|
Jy vermy dit om jou finansies na te gaan – en jou oortuiging dat jy "sleg is met geld" word bevestig. |
Wanneer jy iets sê soos "Ek is so dom" of "Ek maak 'n gemors van alles", stem jy vir 'n negatiewe identiteit. Met verloop van tyd aanvaar jou brein hierdie etikette as feite en word dit moeiliker om die motivering te behou wat nodig is om nuwe doelwitte te bereik.
Die impak van die innerlike kritikus op geestesgesondheid
Om gedurig negatief met jouself te praat, is nie net 'n slegte gewoonte nie; dit het 'n meetbare uitwerking op jou sielkundige welstand. Navorsing wys aanhoudende selfkritiek gaan gepaard met hoër vlakke van kortisol (die streshormoon) en 'n groter risiko vir angs en depressie.
Hoekom doen ons dit? In wese is selfkritiek 'n misplaaste poging om jouself te beskerm. Wanneer jy 'n bedreiging vir jou selfbeeld ervaar – soos wanneer jy 'n fout maak by die werk – tree die innerlike kritikus na vore en probeer jou deur pyn en ongemak tot aksie "aanspoor".
Maar om jouself met harde selfkritiek te peper, is soos om jouself met 'n sweep te probeer aanmoedig. Wanneer jy jouself kritiseer, aktiveer jy die brein se beskermingstelsel teen bedreigings (die amigdala). As't ware behandel jy jouself soos die vyand. Dit veroorsaak 'n veg-of-vlug-reaksie in jou liggaam, stel 'n vloed streshormone vry en skakel die kreatiewe, probleemoplosdele van jou brein af – presies dit wat jy nodig het om te leer en vorentoe te beweeg.
In sy ergste vorm kan hierdie negatiewe manier van met jouself praat 'n selfvervullende profesie word. Jy begin uitdagende situasies vermy omdat jy jouself oortuig het dat jy nie daartoe in staat is nie, en daardie vermyding versterk dan weer stilweg die oortuiging.
'n Nuwe manier van dink
Om jou innerlike dialoog te verander verg oefening, maar navorsing wys dat selfdeernis 'n baie sterker bron van veerkragtigheid is as streng selfkritiek.
Volgens die sielkundige dr Kristin Neff het selfdeernis drie kernelemente:
- Genadigheid: Behandel jouself met omgee, soos jy 'n vriend sou behandel.
- Gedeelde menslikheid: Onthou dat foute en sukkel deel is van menswees.
- Aandagtigheid: Let op na moeilike gedagtes sonder om daardeur oorweldig te word.
Mense wat selfdeernis beoefen, voel gewoonlik meer optimisties en emosioneel gebalanseerd, en is minder geneig om aan angs of vrees vir mislukking te ly of dinge te oordink.
Praktiese maniere om die patroon te breek
|
1. Let op na die patrone |
Kyk na hoe jy met jouself praat, veral in stresvolle oomblikke. Maak jy die situasie erger as wat dit is, veralgemeen jy of neem jy dinge persoonlik op? |
|
2. Bevraagteken die gedagtes |
Wanneer 'n kritiese gedagte opduik, hou eers stil en vra jouself af:
Deur hierdie afstand te skep, verswak jy die innerlike kritikus se greep. |
|
3. Kies deernis bo kritiek |
As jy dit nie vir 'n geliefde of vriend sou sê nie, moet dit ook nie vir jouself sê nie. In plaas van "Dis so dom van my om so 'n fout te maak," probeer liewer: "Ek leer, en foute is deel van groei." |
|
4. In plaas van veroordeel, wees nuuskierig |
Veroordeling sluit jou af. Nuuskierigheid hou jou betrokke. In plaas van "Dit was dom," vra, "Wat kan ek hieruit leer?" |
|
5. Sê "nog nie"
|
Dié eenvoudige taalverskuiwing, wat deur die sielkundige Carol Dweck se navorsing oor 'n groeimentaliteit gestaaf word, maak plek vir groei.
|
En as jy bekommerd is dat selfdeernis tot selfvoldaanheid kan lei, wys navorsing die teenoorgestelde. Mense wat hulleself met deernis behandel, is dikwels méér gemotiveerd – nie minder nie – omdat hulle deur 'n begeerte om te groei gedryf word, eerder as deur vrees vir mislukking of goedkeuring van buite.
'n Nuwe perspektief
Soos jy die jaar betree, onthou dat jou gewoontes die wyse is waarop jy jou identiteit uitleef. As jy gesonder, meer selfversekerd of meer produktief wil wees, moet jy ophou om jou eie strengste kritikus te wees.
Verandering kan intimiderend voel, veral wanneer 'n mens dinge anders probeer doen. In die jaar wat voorlê, wees vriendeliker met jouself terwyl jy jou pad vind.
Die vraag "Was dit regtig so dom van my?" het gewoonlik 'n eenvoudige antwoord: Nee. Dit was 'n fout, 'n geleentheid om te leer, of bloot 'n menslike oomblik.
Wanneer jy anders met jouself begin praat, begin jy verander wat jy glo. En wanneer daar 'n verskuiwing in jou oortuigings kom, kan die gewoontes van die mens wat jy wil word, begin volg.
Wat is jou “nog nie” vir 2026?
Nadat jy die artikel gelees het, dink vir ’n oomblik oor jou eie innerlike dialoog. Wat is die een ding waaraan jy steeds werk?
Of dit nou “Ek eet nog nie gesonder nie” is of “Ek het nog nie my fiksheidsdoelwitte bereik nie” – dit maak saak.
Klik hier om jou “nog nie” vir 2026 met ons te deel en staan ’n kans om ’n R1 000 Takealot-geskenkbewys te wen.
Die wenner sal in die Maart 2026-uitgawe van ons ledetydskrif, Floreer!, aangekondig word.