Back 15 Jul, 2024 - Floreer!

Back

Wat is die oorsaak van pyn?

Wat is die oorsaak van pyn?

Leer oor die oorsake van en soorte pyn in die eerste in ons reeks van twee artikels oor pyn.
Read more

Pyn is niks vreemd vir atlete en fiksheidsgeesdriftiges of vir diegene wat vir die eerste keer die gewigte in die gimnasium gryp nie. Maar wat veroorsaak dat ons pyn voel, is daar verskillende soorte pyn, en hoe beskryf ’n mens jou pyn sodat jou dokter aan jou die beste raad kan gee?

Die punt van pyn

Volgens dr Adriaan Liebenberg van The Pain Collective ervaar ons pyn wanneer spesifieke senuwees of pynreseptore weefselskade opspoor en ʼn boodskap al langs die rugmurg na die brein stuur. Dit is dus die liggaam se manier om ons te waarsku dat daar êrens ʼn skroef los is.

“Gestel jy raak per ongeluk aan ʼn warm stoofplaat. ʼn Boodskap word onmiddellik deur ʼn refleksboog in die rugmurg gestuur, wat spiersametrekking tot gevolg het. Dié sametrekking sal jou hand blitsig en outomaties van die warm oppervlak af wegtrek om te keer dat jy ernstige brandwonde opdoen.

“Hierdie refleks vind plaas nog voordat die boodskap die brein bereik. Sodra die boodskap die brein bereik, ervaar jy ʼn onaangename sensasie genaamd pyn. Die brein se vertolking van hierdie boodskappe en die spoed waarteen die boodskappe beweeg, beïnvloed hoe ʼn persoon pyn ervaar. Die brein kan ook goedvoelstowwe soos dopamien vrystel om die ervaring van pyn te versag.”

Pyn kan oor ’n kort of lang termyn voorkom, op slegs een plek wees, of deur die liggaam versprei, verduidelik dr Liebenberg. Die ervaring van pyn verskil ook van persoon tot persoon. Hoe iemand pyn ervaar word deur die interaksie van biologiese, sielkundige en sosiale faktore (ook genoem die biopsigososiale pynmodel) beïnvloed, wat uniek aan elke persoon is.

Soorte pyn

Hy onderskei tussen twee vername soorte pyn, naamlik akute en chroniese pyn.

Akute pyn

Dié soort pyn, wat oor die algemeen intens en van korte duur is, is die liggaam se manier om jou van ʼn besering of weefselskade bewus te maak. Hoewel akute pyn ʼn sneller vir die liggaam se veg-of-vlug-reaksie is (wat tot ʼn vinniger hartklop en asemhalingstempo kan lei), word dit gewoonlik maklik met selfbehandeling of medisyne beheer. Akute pyn kan in die volgende verdeel word:

  • Somatiese pyn

    Dit is oppervlakkige pyn op die vel of die sagte weefsel net onder die vel.

  • Ingewandepyn

    Dié pyn ontstaan in die inwendige organe en die voering van holtes in die liggaam.

  • Verwysde pyn
    ʼn Persoon ervaar pyn op ʼn ander plek as die bron van die weefselskade. Mense ervaar byvoorbeeld dikwels skouerpyn voor of tydens ʼn hartaanval. ʼn Spesifieke tipe verwysde pyn word ervaar wanneer ʼn senuwees vasgeknyp word; die algemeenste pyn weens ʼn senuwees wat vasknyp, is heupjig (“sciatica”).

Chroniese pyn

Volgens dr Liebenberg kan chroniese pyn matig of ernstig wees en duur vir. “Daar is meestal geen genesing hiervoor nie, aangesien die pyn ʼn simptoom van ʼn onderliggende probleem is. Dit kan deurlopend wees, soos met artritis, of kom en gaan, soos met migraine. Indien akute pyn baie gereeld voorkom, kan elektriese seine in die sentrale senuweestelsel opbou, wat die senuweevesels oorstimuleer.

“Dit staan as die opwen-effek bekend. Dink aan ʼn opwen-speelding. Hoe meer die speelding opgewen word, hoe langer sal dit byvoorbeeld in die rondte tol of hoe verder sal die karretjie ry. Chroniese pyn werk op dieselfde manier, en daarom kan ʼn persoon lank ná die gebeurtenis wat die pyn oorspronklik veroorsaak het, steeds pyn ervaar.”

Ander spesifieke soorte pyn

Vertel altyd vir jou dokter of terapeut presies wat jy voel sodat hulle die beste moontlike diagnose kan maak, sê dr Liebenberg. Ander spesifieke soorte pyn sluit in:

  • Neuropatiese pyn

    Dit kom voor ná ʼn besering aan die senuwees wat die brein en rugmurg met die res van die liggaam verbind. Dit kan soos elektriese skokke voel, of teerheid, gevoelloosheid, ʼn tinteling of ongemak veroorsaak.

  • Spookpyn

    Spookpyn kom dikwels ná die amputasie van ʼn ledemaat voor. Dit verwys na ʼn pynlike sensasie wat voel asof dit van die geamputeerde ledemaat afkomstig is.

  • Sentrale pyn
    Dit kom voor as gevolg van infarksie (obstruksie van bloedvloei na organe of weefsel), absesse, gewasse, degenerasie (agteruitgang of veroudering), of bloeding in die brein en rugmurg. Mense met sentrale pyn ervaar gewoonlik ʼn brandende, pynlike of drukkende sensasie.

Goeie pyn

Glo dit of nie, daar is iets soos goeie pyn, sê dr Liebenberg. “Die beste voorbeeld is daardie spierbrandpyn wat jy ervaar wanneer jy met gewigte in die gimnasium oefen, draf of fietsry. Dié brandende sensasie verdwyn gewoonlik wanneer jy die gewigte neersit, rem trap of asem skep. Dit word veroorsaak deur die opbou van melksuur, ʼn natuurlike neweproduk wanneer koolhidrate in energie omgesit word.”

Al ooit ʼn pyn in jou sy gekry as jy draf? Dié pyn, wat ons in die omgangstaal miltsteek noem, is ʼn toestand genaamd oefening-verwante verbygaande abdominale pyn (“exercise-related transient abdominal pain” of ETAP). Dit voel soos ʼn skerp steekpyn, maar kan ook as ʼn dowwe pyn, krampe of ʼn treksensasie ervaar word. Hoewel dit seer is en letterlik jou asem kan wegslaan, is dit glad nie ʼn rede tot kommer nie. Dit waai gewoonlik ná ʼn blaaskans oor.

Volgens hom is die vertraagde aanvang van spierpyn (ook bekend as “delayed onset muscle soreness” of DOMS) nog ʼn voorbeeld van goeie pyn wat eintlik net seer spiere is. Dit is ʼn algemene pyn wat ʼn paar uur tot ʼn dag ná oefening intree. DOMS word dikwels ervaar wanneer jy ʼn nuwe oefening aanpak waaraan jou liggaam nie gewoond is nie, of as jy die intensiteit van jou oefensessies verhoog.

Op ʼn mikroskopiese vlak is DOMS ʼn besering aan die spiervesels en bindweefsel. Dié pyn verdwyn gewoonlik gou en sal nie jou daaglikse bedrywighede of die beweging van jou ledemate en gewrigte in die wiele ry nie.

Die psige en pyn

Psigosomatiese pyn is ʼn pynversteuring wat deur oormatige spanning of ʼn geestestoestand veroorsaak word. “Dit word gekenmerk deur hoofpyn, maagpyn, spierpyn en rugpyn, maar die oorsaak lê in die psige – soos depressie, angs of stres – waarna dit sprei na die spier- en skeletale sisteem. Psigosomatiese pyn is moeilik om te diagnoseer omdat al die moontlike fisieke oorsake eers uitgeskakel moet word. Behandeling sluit in antidepressante, psigoterapie, pynmedisyne of ontspanningstegnieke. Die beste behandeling behels gewoonlik ʼn kombinasie van mediese en geestesgesondheidsorg,” sluit hy af.


Share this on: