Ons weet almal dat swak ouerskap ’n wye spektrum onaanvaarbare gedrag insluit, van onverskilligheid en verwaarlosing tot emosionele en fisiese mishandeling. Maar het jy geweet dat dit ook skadelik kan wees wanneer jy eenvoudig te veel vir jou kinders doen? Hier is hoekom.
Die lokval van die verstekouer
Het jy al ooit van die “verstekouer” (default parent) gehoor? Indien nie, is hierdie titel dalk nie op jou van toepassing nie. Eenvoudig gestel, is die verstekouer die een in 'n tweeouerhuis wat die grootste las dra wanneer dit kom by die emosionele, fisiese en logistieke behoeftes van die kinders.Tipies (maar nie altyd nie) is dit die ma se rol. Dit sluit in die skoolbyeenkomskalender, tandartafsprake, buitemuurse aktiwiteite, sosiale planne, tekortkominge in die klerekas, hare wat nie wil saamwerk nie en kêrel-/meisieprobleme. Die verstekouer is die eerste keuse wanneer skete, pyne, klagtes en eetlus opduik. Hulle is die een wat die onderwyser moet gaan sien, na die winkelsentrum moet jaag om die soveelste wiskundestel te koop en laat moet opbly om nóg ’n handboek met plastiek oor te trek. En dis die ouer wat stoksielalleen na daardie spesifieke paar tekkies soek vir môre se allerbelangrike hokkiewedstryd.
Party is tuisbly-ouers. Party werk van die huis af of handhaaf voltydse loopbane op kantoor. Party het hul eie besighede, sorg vir bejaarde ouers, of is betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte.
"Die punt is, verstekouers loop ’n hoër risiko om te veel gelyk te doen, wat uiteindelik lei tot uitbranding en verwante gesondheidsprobleme."
Gevaartekens van uitbranding by ouers
Kliniese sielkundige en bekende skrywer Dr Robyn Koslowitz beskryf drie primêre gevolge van uitbranding by ouers: uitputting, afsydigheid, and ondoelmatigheid.
- Uitputting gebeur wanneer ’n ouer voortdurend in oorlewingsmodus (survival mode) funksioneer sonder om ooit ten volle te herlaai. Skuldgevoelens (omdat alles te veel raak en hulle nie kan byhou nie), stres en kinders wat snags of te vroeg in die oggend wakker word, lei tot versteurde slaap en verdere uitputting.
- Namate moegheid vererger, tree ’n gevoel van afsydigheid in, waar ouers minder genot begin put uit interaksies met hul kinders en sukkel om ’n emosionele verbintenis met hul kinders te behou.
- Dit kan weer ’n ernstige uitwerking hê op hul vermoë om uitdagings te hanteer, wat hulle ondoelmatig en onvoldoende laat voel.
Die oplossing: versorg jouself en wees ’n beter versorger
Ja, dit gaan alles oor selfversorging – die metaforiese suurstofmasker wat ons eers vir onsself moet aansit voor ons ander help. Ongelukkig bly dit vir baie ouers die laaste prioriteit, want die behoeftes van hul kinders geniet voorkeur. Altyd.Om uitbranding te vermy en ’n gesonder balans te handhaaf, raai beroemde sielkundige Adam Borland ouers aan “om die idee te bevraagteken dat selfversorging selfsugtig is”. Trouens, dis nie net verdien nie, dis ook noodsaaklik.
"’n Ouer wat tyd neem om te herlaai is ’n gelukkiger, gesonder en meer aandagtige (lees: beter) ouer."
Borland verduidelik weens die vals oortuiging dat ouers nie tyd vir hulself moet neem nie, moet ons eerder vergeet van spontaan wees. Voeg ’n daaglikse selfversorgingsroetine by jou doenlys. Skeduleer dit letterlik as ononderhandelbaar. “Jy moet tyd uitkerf,” sê hy, “en jy moet dit doen sonder om skuldig te voel.”
Hoe om selfversorging in jou skedule in te pas
Maar hoe beoefen 'n mens mens selfversorging as ’n ouer wat reeds te veel het om te doen, en waar kry jy die tyd? Selfversorging hoef nie tydrowend of duur te wees nie. Hier is ’n paar wenke.- Onthou, iets is beter as niks
Oorweeg korter tye, soos 10 minute van meditasie, stap met die hond, gesels op die foon, of in die son sit met ’n koppie tee. - Kry ’n nuwe stokperdjie of herontdek ’n ou een
As jy voorheen 10 uur per week aan knipselboeke spandeer het vK (voor Kinders), vat dan twee ure of selfs minder, maar doen dit net. - Oefen
Ons hoef nie uit te brei oor die voordele nie. Probeer korter sessies van hoë-intensiteit-oefeninge (daar is hoogs effektiewe vyf- tot seweminuutoefeninge aanlyn beskikbaar), spring op ’n trampolien (het jy geweet dat 20 minute se spring gelykstaande kan wees aan ’n uur se hardloop?), of ’n vinnige herstellende joga-sessie. - Haal asem
Boksasemhaling, (inasem, asem ophou, stadig uitasem, en dan weer ophou vir vier sekondes per keer) aktiveer glo die parasimpatiese senuweestelsel om ’n gevoel van kalmte en fokus te bring. Begin met twee minute per dag en vermeerder geleidelik. - Begin ’n dankbaarheidsjoernaal
Skryf elke dag vyf dinge neer waarvoor jy dankbaar is. Dis onmoontlik om tegelykertyd dankbaar en verbitterd te voel, en dit verfris die siel. Probeer dit. - Spandeer tyd met ander volwassenes
Begin ’n boekklub, sluit aan by ’n Pilates-klas, of neem erdewerk. Dis noodsaaklik vir jou geestesgesondheid. - Maak seker jy kry minstens sewe uur se slaap per nag
Slaap is hoe ons breine en liggame herstel. - Spandeer gehaltetyd met jou maat
Al beteken dit ’n spesiale aand op jou eie stoep ten minste een maal per week. En jy mag nie oor die kinders praat nie. - Soek hulp as jy dit nodig het
Die belangrikste is dat jy as jy aanhou vasgevang, lusteloos en oorweldig voel, professionele hulp soek.
Om na jouself om te sien is nie ’n luuksheid nie – dis ’n noodsaaklikheid. Wanneer jy gesonde grense stel en ruimte maak vir jou eie behoeftes, is jy ’n model van balans en emosionele welstand vir jou kinders. Só word jy ’n meer lewenskragtige ouer en bou sterker bande met jou kinders.
Geskryf vir Medihelp deur Maritha Broschk