Back 13 Jun, 2025 - Floreer!

Back

Strek: ligte bewegings, groot voordele

Strek: ligte bewegings, groot voordele

Ligte strekoefeninge verbeter soepelheid, balans en beweeglikheid veral wanneer ons ouer word.
Read more

Soos mens ouer word, is dit belangrik om aktief te wees as jy gesond en beweeglik wil bly. Een van die veiligste en beste maniere om soepel te bly, bloedsomloop te verbeter en beserings te voorkom, is om gereeld ligte strekoefeninge te doen.

Volgens die Mayo Clinic kan strekoefeninge jou help om allerhande daaglikse aktiwiteite te verrig. Dit verlaag ook jou risiko van beserings, beskerm gewrigsbewegings, verhoog bloedtoevoer na die spiere en help jou spiere om beter te werk.

Hoewel dit vir mense van alle ouderdomme voordelig is om gereeld te strek, raak dit veral belangrik wanneer ons ouer word.”

Hoekom soepelheid so belangrik is

Arthritis and Rheumatism Associates PC (ARAPC), ’n organisasie wat in gewrigsgesondheid spesialiseer, is veral besorgd oor die verlies aan soepelheid wat baie mense ervaar wanneer hulle ouer word. Kenners by dié organisasie sê die eerste stap om te keer dat jy soepelheid verloor, is om aktief te bly. Volgens hulle kan verskeie probleme verhoed word deur soepel te bly: ’n stadiger stapspoed, korter treë, rugpyn en ’n groter risiko om te val. Dit is byvoorbeeld bewys dat ’n strekprogram vir die voorste heupspiere jou loopspoed en treelengte kan verbeter, jou kan help om met meer beheer te stap en die kanse dat jy val, verminder.

 

Een van die veiligste maniere vir ouer mense om hul heupspiere te strek, is die knie-op-die-bors-strek ­– wat ook in joga bekend is omdat dit bloedsomloop verbeter. Jy doen dit só:

  • Lê op jou rug en buig een knie opwaarts na jou bors toe, so ver as wat jy kan.
  • Hou die ander been plat uitgestrek of gebuig met een voet plat op die vloer.
  • Vou jou arms om die gebuigde knie totdat jy die strek in jou lae rug en heup voel.
  • Hou die strek vir 20 sekondes lank, ontspan, en herhaal dit dan aan die ander kant.

Gebruik dit, anders verloor jy dit

In ’n ARAPC-artikel herinner fisioterapeut Victoria Bowen ons daaraan dat mens sekere liggaams- en spierfunksies kan verloor as jy dit nie gebruik nie. As jy nie jou spiere gebruik nie, word hulle swak. Wanneer dit gebeur, is jy geneig om minder te beweeg, wat dan soepelheid en omvang van beweging verder inperk. Die goeie nuus is dat hierdie negatiewe kringloop vertraag of selfs omgekeer kan word deur gereeld te strek.

Probeer ’n daaglikse strekroetine

Fiksheidsafrigter Jenny O'Callaghan deel vyf kop-tot-toon-strekoefeningom elke dag te doen. Sy waarsku dat jy nooit pyn moet ervaar wanneer jy strek nie en daarom is dit belangrik om eers op te warm. As ’n strek te ongemaklik voel, moet jy liewer bietjie ontspan.

Ligte strekoefening help om bloedvloei te verbeter en spanning te verlig, maar strawwe strekke kan beserings veroorsaak.”

Voeg krag by jou strekroetine

Kenners stem saam dat strekoefeninge bewegingsomvang van gewrigte verbeter, maar dat dit ewe belangrik is om die spiere rondom die gewrigte te versterk. As jy gewigte wat jy kan hanteer by jou oefenroetine voeg, kan dit groot voordele vir jou gesondheid inhou en jou meer selfvertroue gee om alledaagse take te verrig. Jou postuur kan verbeter, jy sal makliker by trappe kan opkom, inkopiesakke kan dra en tuin- en huiswerk kan doen.

Met die regte ondersteuning en leiding om strek- en kragoefeninge by jou daaglikse roetine in te sluit, kan jy met selfvertroue aktief en onafhanklik bly, ongeag jou ouderdom.

Geskryf deur Vanessa Rogers, met redaksionele verfyning deur Medihelp


Share this on: