Back 11 Des, 2025 - Floreer!

Back

Dis oukei om nie oukei te wees nie dié feesseisoen

Dis oukei om nie oukei te wees nie dié feesseisoen

Read more

Met die somervakansie wat nader kom, is daar ’n onuitgesproke verwagting dat almal vrolik moet wees. Die “Dezemba”-energie is tasbaar, en kalenders loop oor van sosiale geleenthede. Maar wat as jy pleks van opwinding angs ervaar? Glo ons, jy is nie die enigste een vir wie die helder sonskyn bots met ’n donker innerlike landskap nie. Die gevoel is so algemeen dat dit as die vakansie-blues bekend staan.

Die las van ’n lang jaar

Ná ’n jaar vol uitdagings is dit normaal om te voel asof jou beker leeg is. Baie van ons is uitgeput teen die tyd wat die vakansie aanbreek.

Beradingsielkundige Ashleigh Kater verduidelik dat ons kapasiteit vir sosiale geleenthede nie onbeperk is nie. “As jy ’n introvert is of deur alleentyd herlaai, kan die vereiste om ‘jolig’ en ‘sosiaal’ te wees jou uitput pleks van laat rus,” sê sy. Introverte en mense wat reeds uitgebrand voel, kan die konstante sosiale druk van hierdie seisoen besonders dreinerend ervaar.

Onthou, jy hoef nie elke geleentheid by te woon nie. Ashleigh raai aan dat ons ’n oomblik neem om ons eie behoeftes te oorweeg.

“Dit is heeltemal aanvaarbaar om grense te stel en jou energie te beskerm. Almal het verskillende behoeftes tydens die feesseisoen, so dis belangrik om te bepaal wat vir jou werk.”

Finansiële druk en ekonomiese werklikheid

Baie Suid-Afrikaanse huishoudings staan gebuk onder stygende lewenskoste. Finansiële onsekerheid raak moeiliker om te ignoreer. Wanneer jy bekommerd is oor Januarie se rekeninge, kan die kommersiële druk om geld te spandeer op geskenke en buitensporige maaltye ernstige angs veroorsaak.

Ashleigh stel voor dat jy op die belangrike dinge, bo en behalwe die materiële, fokus.

“Dis nie ’n mislukking om ’n realistiese begroting te stel en eerlik te wees oor jou finansiële beperkings nie,” merk sy op. “Dis verantwoordelike selfversorging.”

Rou en eensaamheid

Tradisies dien dikwels as pynlike herinneringe van leë stoele by die tafel vir diegene wat rou. Ashleigh moedig dié wat deur verlies werk aan om sag met hulself te wees.

“Jy hoef nie voor te gee dat jy vrolik is nie. Dis oukei om ’n feesviering oor te slaan, om te huil wanneer jy dit nodig het en om jou verlies op jou eie manier te eer.”

Eensaamheid raak ook dikwels in die feestyd erger. Nie almal het familie of vriende om hierdie tyd mee deur te bring nie. Die klem op “saamwees” kan jou isolasie vererger as jy ver van jou familie is of moeilike verhoudings het.

“Dink daaraan om by gemeenskapsorganisasies, ondersteuningsgroepe of vrywilligerswerk betrokke te raak. Om tyd deur te bring met ander wat ’n gemeenskaplike doel deel, kan die gevoel van eensaamheid verlig. Dis ook belangrik om te besef wanneer jy professionele ondersteuning nodig het. Jy hoef nie alleen deur hierdie tyd te gaan nie.”

Werk oor die feestyd

Nooddienswerkers, gesondheidsorgwerkers, mense wat in winkels en die gasvryheidsbedryf werk en baie ander ervaar hul mees veeleisende dae juis wanneer die res van die land ontspan. Hierdie is werklik ’n opoffering, en dis oukei om gefrustreerd of hartseer daaroor te voel. Jou bydrae is waardevol, al is die koste hoog.

“Dit help om te dink oor die werk wat jy doen en dit te koppel aan ’n groter doel of passie wat vir jou betekenis dra. Vat klein oomblikke van rus waar jy kan, en moenie toelaat dat iemand jou gevoelens minimaliseer nie," sê Ashleigh.

Die sielkunde van “toksiese positiwiteit”

Sielkundiges waarsku teen “toksiese positiwiteit” oor die feestyd – die idee dat jy positief moet bly ongeag hoe moeilik dinge raak. Sielkundige spanning ontstaan wanneer jou innerlike emosies met die uiterlike verwagting van “vrolik en helder” bots.

Die gaping tussen hoe jy voel en hoe jy dink jy behoort te voel lei dikwels tot skuldgevoelens. Stres ontstaan wanneer die vermeende vereistes ons vermoë om dit te hanteer oorskry. As jy reeds uitgeput is, maak die druk om gesellig te wees dit net erger.

Die belangrikste om te onthou, is: jy hoef nie oukei te wees net omdat die kalender sê dis feestyd nie. Beoefen eerder aanvaarding. Ashleigh se raad is om jou gevoelens sonder oordeel te erken.

“Jou emosies is jou eie, gevorm deur jou ervarings, omstandighede en geestesgesondheid. Dit voeg net nóg ’n las by om jouself te dwing om vrolik te voel wanneer jy nie is nie. Daar is niks verkeerd met jou nie. Om mens te wees gaan met ingewikkelde emosies gepaard.”

Jy is nie alleen nie

Die glans van die feesseisoen verdoesel dikwels die werklikheid waarmee baie mense hierdie tyd van die jaar sukkel. Dis oukei om nie oukei te wees nie. En dis oukei om te vra vir hulp.

As jou lae bui aanhou en jou daaglikse lewe beïnvloed, praat asseblief met ’n vriend, familielid of professionele persoon wat jy vertrou of soek ondersteuning:

Dis okei om nie okei te wees die feesseisoen nie as jy


Share this on: