Enige pil wat voorgeskryf is, is heeltemal veilig, nie waar nie? En as jy en iemand anders dieselfde toestand het, kan jy mos sommer die medisyne neem wat vir hulle aanbeveel is? Dink weer. Alle medikasie kan ernstige newe-effekte veroorsaak, afhangend van die wisselwerking met sekere leefstylfaktore.
Jou dokter neem met goeie rede versigtig notas van jou mediese geskiedenis voordat hulle ʼn voorskrif uitskryf. Hulle wil weet of enige vorige toestande verband hou met hoe jy nou voel. Maar dis net so belangrik dat hulle uitvind of enige medisyne – selfs ‘skadelose’ medisyne wat ʼn mens oor die toonbank kan koop en natuurlike middele – moontlik teen die medikasie wat hulle voorskryf, kan inwerk.
Verder is medisyne-wisselwerkings net een faktor wat jou liggaam se reaksie op medikasie kan beïnvloed, sê Johan Viljoen, ʼn ervare apteker en Bedryfshoof by Medihelp. Geslag, ouderdom en bestaande toestande kan alles ʼn uitwerking hê.
Die impak van geslag
Baie mense vergeet om die etiket van hulle voorskrifmedikasie te lees sodra die apteker dit vir hulle gegee het, en dis ʼn fout, sê Johan. “Jy sou nie ʼn pil wat die vroulike hormoon estrogeen bevat vir ʼn man voorskryf nie. Maar kanse is, as die apteker dit vir hom gee, sal hy dit drink sonder om na die pakkie te kyk.”
Dis ook onwaarskynlik dat jou mediese fonds sal betaal vir medisyne wat vir die verkeerde mens voorgeskryf is, voeg Johan by. “ʼn Pa kan byvoorbeeld nie vir die dokter vra om vir hom namens sy dogter voorbehoedmiddels voor te skryf nie.” Die slotsom? Gaan jou voorskrif na voordat jy dit aanvaar om seker te maak jy gebruik die regte medisyne.
Ouderdom: meer as ʼn nommer
As jy met ʼn siek kind sit en jou medisyne vir kinders is op, is dit ʼn maklike oplossing om sommer enige pynmedisyne vir die kind te gee. Maar dis ʼn geweldige fout, waarsku Johan, aangesien nie alle medisyne getoets is vir gebruik in kinders nie. Boonop is nie alle medisyne geskik vir kinders nie: jy kan byvoorbeeld nie vir ʼn kind ʼn slaappil gee nie.
Dis belangrik om net so versigtig te wees wanneer medikasie vir oumense gegee word, want soos ons ouer word, raak ons metabolisme stadiger. Dit beteken dat ouer mense kleiner doserings nodig het vir dieselfde effek.
Verskeie medikasies
Klink dié bekend: pleks van ʼn sperdatum mis, sal jy eerder gryp na die oor-die-toonbank-medikasie wat jy in voorraad hou? Daar is geen rede tot kommer nie, want al hierdie middele is mos sonder ʼn voorskrif beskikbaar... Korrek?
Verkeerd, sê Johan. “Mense onderskat dikwels die dosering wat hulle inneem wanneer hulle medisyne meng, maar altesaam is dit ʼn aansienlike hoeveelheid aktiewe bestanddele.” Maak seker jy gee vir jou apteker ʼn lys van al die medikasie wat jy gebruik om ’n moontlike negatiewe uitwerking te verhoed. Dis veral belangrik met kombinasiemedisyne. “Parasetamol is die aktiewe bestanddeel van baie kombinasiemedisyne, en jy wil nie ʼn oordosis inneem deur meer as een kombinasieproduk in te neem nie,” waarsku hy.
Medisyne en kos
Dis dalk ʼn verrassing om uit te vind dat die kos op jou bord die manier waarop jou liggaam op medisyne reageer, kan beïnvloed. Dit is egter beslis die geval, sê Johan. “Sekere stowwe kan ʼn impak hê op hoe jou liggaam medisyne metaboliseer. Dit kan minder van die aktiewe bestanddeel aan jou liggaam beskikbaar stel en sodoende die effek van die medisyne verminder,” verduidelik hy. Pomelosap is ʼn goeie voorbeeld: dit kan inmeng met sekere antihistamiene en antistolmiddels. Vetterige kosse kan nou weer die absorbering van sekere medisyne verbeter.Dis dalk ʼn verrassing om uit te vind dat die kos op jou bord die manier waarop jou liggaam op medisyne reageer, kan beïnvloed. Dit is egter beslis die geval, sê Johan. “Sekere stowwe kan ʼn impak hê op hoe jou liggaam medisyne metaboliseer. Dit kan minder van die aktiewe bestanddeel aan jou liggaam beskikbaar stel en sodoende die effek van die medisyne verminder,” verduidelik hy. Pomelosap is ʼn goeie voorbeeld: dit kan inmeng met sekere antihistamiene en antistolmiddels. Vetterige kosse kan nou weer die absorbering van sekere medisyne verbeter.
Baie medikasie meng nie met alkohol nie, maar dis nie net die bottels in jou drankkabinet wat jy moet vermy nie. Sekere kossoorte, soos asyn, bevat alkohol. Raadpleeg jou apteker.
Medikasie teenoor medikasie
Hier is ʼn algemene scenario: jy voel siek, so jy drink ʼn pil om beter te voel. Kort daarna het jy ʼn nuwe simptoom, so jy drink nog ʼn pil. In plaas daarvan om beter te voel, steek nog ʼn simptoom kop uit en dis terug apteek toe vir nog medikasie.
Johan noem dit die ‘terapeutiese trein’. “Partykeer veroorsaak medisyne newe-effekte wat ons as simptome beleef, al is hulle nie eintlik ʼn gevolg van ʼn siekte of toestand nie. Dis hoekom dit noodsaaklik is om jou dokter en apteker op hoogte te hou van enige medikasie wat jy neem, selfs medisyne oor die toonbank en homeopatiese voorbereidings.
“Daar is drie belanghebbers elke keer as medisyne voorgeskryf word: die dokter, die apteker en die pasiënt. Elkeen is verantwoordelik daarvoor om seker te maak dat medikasie in die betrokke geval veilig is,” sluit Johan af.
Om jou te help om hierdie wisselwerking beter te verstaan bied ons 'n GRATIS webinaar aan oor medisyne-wisselwerking.
Onderwerp: Alles wat jy oor medisyne-wisselwerking moet weet
Datum: 3 April 2024
Tyd: 18:00
Registreer hier: MedTalk