Wanneer dinge skeef loop, besef die meeste mense eers wat hulle mediesefondsplan vir hulle beteken. ’n Kind het dringende mediese sorg nodig. ’n Skandering lei tot ’n diagnose. Iemand word uit die hospitaal ontslaan met ’n lys medisyne en vrae oor wat volgende gebeur.
In sulke situasies maak goeie dekking ’n groot verskil. Dit help ook as jy iemand kan kontak wat luister, verduidelik waarvoor daar dekking is en jou help verstaan wat om volgende te doen. Maar ’n goeie mediese fonds moenie net daar wees wanneer jy siek word nie. Dit moet jou ook help om gesond te bly.
Varsha Vala, Hoofbeampte van Medihelp Mediese Skema, sê: “Die beste mediese fonds vir Suid-Afrikaners in 2027 moet aanhou om die basiese dinge reg te doen. Die skema moet finansieel stabiel wees. Jy moet ’n plan kan kies wat by jou gesondheidsorgbehoeftes pas. Die uitgawes wat jy self moet betaal, moet billik wees. En jy moet toegang hê tot dokters en hospitale wat jy kan gebruik. Lede en adviseurs moet ook op uitstekende diens en die nodige ondersteuning kan staatmaak.
“’n Belangrike vraag is egter wat ’n mediese fonds sy lede help doen wanneer hulle nié eis nie.”
Kan jou medies jou help om uit te vind as jou bloeddruk hoog is voordat dit ’n krisis word? Kan jou plan die bestuur van ’n chroniese toestand vergemaklik? Is daar ná ’n hospitaalverblyf ondersteuning vir die herstelproses tuis? En is daar hulp om gesonde gewoontes aan te leer wat by jou alledaagse lewe pas?
Om hierdie vrae te beantwoord moet ons na meer as siftings, treë en oefendoelwitte kyk. Ons moet ook tussen gesondheid en welstand onderskei.
Gesondheid is net ’n gedeelte van die prentjie
“Ons praat dikwels van gesondheid en welstand asof dit dieselfde beteken, maar daar is ’n verskil,” sê Vala.
“Gesondheid gaan oor wat ons doen om na ons gesondheid te kyk: om te gaan stap, ’n siftingstoets te laat doen, beter te probeer slaap of ’n behandelingsplan te volg. Welstand gaan oor meer as dit. Dit gaan oor hoe jy voel, hoe jy dinge hanteer, jou verhoudings, watter dinge jou laat voel jy beteken iets en of jy genoeg tyd en ruimte het om na jouself om te sien.”
Jy kan aktief wees en steeds uitgeput voel. Jy kan presies weet wat jy behoort te eet maar sukkel om dit te bekostig. Jou fiksheidstatistiek kan uitstekend wees en jy kan steeds alleen en oorweldig voel. Gesondheid kan nie net gemeet word aan die teikens wat jy op ’n app behaal nie.
Daarom, wanneer ons van welstand praat, moet beide rus én aktiwiteit in ag geneem word. Party dae het jy dalk eerder nodig om asemhalingsoefeninge te doen, te ontspan, aandag te gee aan wat jou liggaam vir jou sê of net te rus. Welstandsondersteuning moet mense help om op hulself te fokus, sonder om selfs van rus nog ’n doelwit te maak.
“Mediese skemas moet dit in gedagte hou. Siftingstoetse en digitale hulpmiddels kan lede help om meer oor hulle gesondheid uit te vind en iets daaromtrent te doen. Maar wat een mens help, is nie noodwendig wat iemand anders op daardie oomblik nodig het nie. Soms is dit beter om iemand aan te moedig om meer te beweeg. Soms het hulle eerder rus of ondersteuning nodig of om met ’n gesondheidsorgkundige te praat,” voeg Vala by.
Goeie diens help lede om hul dekking optimaal te benut
Omvattende voordele op papier is nie veel werd nie as ’n lid nie duidelike antwoorde of betyds hulp kan kry nie. As lid moet jy maklik kan uitvind watter dekking jou plan bied, goedkeuring kan reël en verstaan hoe ’n eis verwerk is.
“Lede verdien om met deernis en respek behandel te word, akkurate inligting te kry en te weet dat hulle navrae aandag geniet totdat dit afgehandel is. Net so het adviseurs kundige, vinnige ondersteuning nodig sodat hulle hul kliënte doeltreffend kan help,” sê Vala.
“Die beste mediese fonds behoort dit vir lede én adviseurs makliker te maak. Uitstekende diens beteken dat ons luister, verantwoordelikheid neem en altyd in gedagte hou dat daar agter elke navraag ’n mens is wat hulp nodig het.”
Waarna moet lede kyk?
“Wanneer Suid-Afrikaners hulle opsies vir 2027 vergelyk, moet hulle kyk hoe ’n plan dag tot dag én in ’n noodgeval werk. Kyk na die voordele, verskaffernetwerke, reëls vir medisyne, bybetalings en die skema se finansiële posisie. Kyk ook hoe maklik jy en jou adviseur hulp kan kry, hoe duidelik die skema kommunikeer en hoe hulle probleme oplos. Vra dan watter ondersteuning beskikbaar is om ernstige gesondheidsprobleme te voorkom, as jy met ’n bestaande toestand saamleef en wanneer jy ná ’n hospitaalopname herstel,” sê Vala.
“Die ondersteuning moet prakties iets beteken. ’n Siftingstoets help net as ’n lid die uitslag verstaan en weet wat om volgende te doen. ’n Gesondheidshulpmiddel is nuttig as dit iemand help om ’n haalbare verandering te maak, nie net rekord hou van nog ’n aktiwiteit nie. En ondersteuning ná hospitalisasie is belangrik omdat jou liggaam nog herstel nadat jy ontslaan en weer by die huis is.
“By Medihelp bepaal dié uitgangspunt hoe ons ons lede met siftings- en gesondheidstoetse, programme vir chroniese sorg en bystand ná hospitalisasie ondersteun. Daar word ook beplan om uitgesoekte funksies van Fitt, ons digitale gesondheidsgenoot, by die Medihelp-app te integreer. Dit sal lede nog meer maniere gee om elke dag meer aandag aan hulle gesondheid en welstand te gee. Fitt bied onder meer persoonlike gesondheidsleiding, aktiwiteitsuitdagings, oefensessies en inhoud wat met fisieke én geestelike welstand help.”
Niks hiervan vervang die regte mediese sorg nie. Wat dit wel doen, is om lede te help om self meer vir hulle gesondheid te doen – of dit is voordat ’n probleem ernstig raak, as hulle ’n bestaande toestand bestuur of tydens herstel. Goeie diens wat dinge maklik maak, help dat lede die beskikbare ondersteuning kan gebruik.
“Die vraag vir 2027 is dalk nie net: ‘Waarvoor betaal my mediese fonds as ek siek word?’ nie. Dit moet ook wees: ‘Hoe help my mediese fonds my om gesond te bly voordat iets verkeerd loop – en kan ek op die dekking, sorg en diens staatmaak wat ek nodig het wanneer dit wel gebeur?’” sluit Vala af.
NAVRAE EN ONDERHOUDE
Kontak Lien Potgieter, Hoof: Bemarking en Kommunikasie