Back 27 Aug, 2024 - Floreer!

Back

Systap duur operasies, oorwin pyn met innoverende program

Systap duur operasies, oorwin pyn met innoverende program

Die meeste rug- en nekprobleme kan suksesvol sonder chirurgiese ingryping bestuur word.
Read more

Baie mense ervaar in ’n stadium rug- en nekpyn, veral diegene wat lang ure agter ’n rekenaar sit. En kort voor lank beland hulle in ’n spesialis se spreekkamer en word deur die moontlikheid van chirurgie, lang afwesigheid by die werk, en ’n uitgerekte pad na herstel in die gesig gestaar.

Die goeie nuus is dat die meeste rug- en nekprobleme suksesvol bestuur kan word sonder chirurgiese ingryping, wat die finansiële las en ontwrigting van hospitalisasie en chirurgie-nasorg uitskakel. Danksy ’n innoverende behandelingsprogram wat Medihelp aan sy lede in samewerking met Documentation Based Care (DBC) bied, kán jy jou pyn sonder chirurgie oorwin.

Cynthia Jonker van Medihelp se Gesondheidsinnoveringspan verduidelik: “Die DBC-program verbeter die algemene buigsaamheid van die werwelkolom, versterk geteikende rugspiere om pyn te verlig en help om jou normale rug- en nekfunksie te herwin. Dit is in Finland ontwikkel en word tans met groot welslae in meer as 22 lande op 5 vastelande gebruik.”

Neem beheer oor jou pyn

Volgens Cynthia het die meeste mense met rug- of nekpyn nie ernstige ruggraatskade nie, en kan hul pyn behandel en selfs genees word.

“Raad en leiding oor hoe om die ruggraat te gebruik en ’n normale lewe te lei, is ’n belangrike deel van die behandeling. Oefeninge met gepaste gewigte en bewegings teiken die rompspiere, wat help om mobiliteit en beheer te herstel. Ontspanning maak ook ’n noodsaaklike deel van die program uit,” sê Cynthia.

Die program is beskikbaar vir alle lede (behalwe MedMove!-lede) wat aan rug- en nekpyn ly en is ’n voorvereiste vir werwelkolomchirurgie. Lede wat in die DBC-program as alternatief vir die drastiese stap van werwelkolomchirurgie belangstel, kan hul naaste DBC-kliniek vir ’n evaluering kontak om te bepaal of hulle in aanmerking kom.

“Vir die beste uitkoms moet alle behandeling deur DBC-dokters by DBC-klinieke gedoen word om te verseker dat DBC se behandelingsprosedures gevolg word.”

“Behandeling die hoogtepunt van my week”

Nadat Piet Coen Medihelp se DBC-behandelingsprogram oor ses weke voltooi het, het hy nuwe energie en krag om met sy twee jong kinders te speel.

“Dit is ’n wonderlike program. My weeklikse behandelings was die hoogtepunt van my week. Ek het baie geleer en weet nou watter oefeninge en strekke goed is vir laerugpyn,” sê Piet.

“Dit is nooit te vroeg om na jou rug te begin omsien nie en ’n operasie is beslis nie altyd die enigste antwoord nie,” sê Piet, wat sedert laerskool aan laerugpyn ly.

“Ek is dankbaar dat ek my kinders kan leer hoe om hul liggame op te pas. Hoewel ek nog hard moet werk om my kern te versterk en die pyn in toom te hou, spreek die resultate van die program vanself. Ek het selfs my ma en suster aangemoedig om by die DBC-program aan te sluit,” sê Piet.

  • Vir meer inligting oor die DBC-behandelingsprogram, klik hier


Share this on: