Mense met diabetes hoef nie alkohol heeltemal te vermy nie, maar alkohol kan nadelig wees en hulle moet daarom versigtig wees wanneer hulle drankies drink.
’n Oormatige alkoholinname kan pankreatitis veroorsaak, wat die potensiaal het om tipe 2 diabetes te veroorsaak. Swaar drinkers het die grootste risiko vir chroniese pankreatitis, wat diabetes veroorsaak deurdat dit die hoeveelheid insulien wat die liggaam vervaardig, affekteer.
Kan mense met diabetes alkohol drink?
Die verwantskap tussen alkoholinname en tipe 2 diabetes is ingewikkeld, want daar is risiko’s aan verbonde en mense met diabetes moet dus matigheid voor oë hou. Die risiko’s sal onder andere afhang van die hoeveelheid en soort alkohol wat ingeneem word.
Die lewer speel ’n belangrike rol in die regulering van die bloedglukosevlak.
“Die lewer kan nie alles gelyk doen nie. As jy drink, veral op ’n leë maag, fokus die lewer daarop om alkohol uit die bloed te verwyder pleks van om die bloedsuiker te reguleer,” sê Margot McCumisky, die nasionale bestuurder van Diabetes South Africa.
As jou lewer nie genoeg glikogeen vrystel nie, kan dit veroorsaak dat jou bloedglukosevlak te laag daal. Dit kan lei tot hipoglisemie (lae bloedsuiker), wat kan veroorsaak dat ’n persoon bewusteloos raak of in ernstige gevalle in ’n diabetiese koma verval of selfs sterf.
Hipoglisemie kan ook duiseligheid, verwardheid en dowwe visie veroorsaak.
Moets en moenies van drankies vir mense met diabetes
“Mense met diabetes moet nooit op ’n leë maag drink nie en moet hulle daaglikse en weeklikse alkoholinname beperk,” is McCumisky se raad.
Verskillende alkoholiese drankies kan die bloedsuiker verskillend affekteer, en mense met diabetes moet liewer alkoholiese drankies kies wat min suiker en koolhidrate bevat. Dit is ook raadsaam om drankies met ’n hoë alkoholpersentasie te vermy en om suikervrye opsies in mengeldrankies te kies. Ligte bier of droë wyn is ’n goeie keuse, aangesien dit minder alkohol en kalorieë bevat.
Die bloedsuiker kan ook beter gereguleer word deur stadig te drink en water tussenin drankies te drink. Meet jou bloedsuikervlak voor en na jy gedrink het, aangesien die vlak kan aanhou daal vir tot 24 uur nadat jy alkohol gedrink het.
Sommige simptome van lae bloedsuiker kan lyk soos wanneer ’n persoon dronk is, daarom sal ander mense dalk nie dadelik besef dat jy hulp benodig nie. Dit is dus belangrik om jou as ’n persoon met diabetes te identifiseer deur middel van ’n kenteken soos ’n armband.
Ander risikofaktore
Daar is ook ander moontlike gesondheidsrisiko’s vir mense met diabetes wat alkohol inneem. Dit kan tot onvoorspelbare bloedsuikervlakke ly, aangesien dit die liggaam se insuliensensitiwiteit verlaag.
Alkohol laat jou gewig optel, en dit is ’n risikofaktor vir diabetes. Dit stimuleer die eetlus en kan jou oordeelsvermoë of wilskrag affekteer, wat tot swak koskeuses of ooreet kan lei, wat weer bloedsuikerbeheer kan affekteer.
Swaar drinkers het boonop ’n hoër risiko vir chroniese siektes en ander ernstige gesondheidsprobleme soos hoë bloeddruk en hartsiekte. Dit kan die risiko vir diabeteskomplikasies verhoog, aangesien sommige van dié toestande met diabetes verband hou.
Alkohol kan ook die werking van diabetesmedisyne of insulien beïnvloed.
Bronne:https://www.diabetessa.org.za/
https://www.medicalnewstoday.com/articles/type-2-diabetes-and-alcohol
https://www.verywellhealth.com/can-i-drink-alcohol-if-i-have-type-2-diabetes-1087730
https://www.diabetes.org.uk/guide-to-diabetes/enjoy-food/what-to-drink-with-diabetes/alcohol-and-diabetes