Back 04 Mei, 2021 - COVID-19 | Gesondheidsbewustheid

Back

Die griepseisoen is op pad – is inenting nodig?

Die griepseisoen is op pad – is inenting nodig?

Mediese kenners verwag dat die 2021-griepseisoen net so hewig soos in vorige jare sal wees en indien dit saamval met die verwagte derde vlaag COVID-19-infeksies, kan dit ons gesondheidsorghulpbronne onder druk plaas.
Read more

Suid-Afrika het in 2020 aansienlik minder gevalle van griep aangeteken danksy die streng COVID-19-inperkingsmaatreëls. Deur maskers te dra, gereeld hande te was en sosiale distansiëring te handhaaf, was ons blootstelling aan virusse en ons risiko om griep te kry, laer as gewoonlik.

Mediese kenners verwag egter dat die 2021-griepseisoen net so hewig soos in vorige jare sal wees en indien dit saamval met die verwagte derde vlaag COVID-19-infeksies, kan dit ons gesondheidsorghulpbronne onder druk plaas.

Dr Lee Moses, Senior Bestuurder: Kliniese Risiko by Medihelp Mediese Skema, stem saam. Hy sê dis noodsaaklik dat Suid-Afrikaners – veral kwesbare individue – die griepinenting moet kry om immuniteit op te bou voordat die griepseisoen amptelik begin.

Waarom is dit belangrik om ’n griepinspuiting te kry?

Dis die beste manier om jouself teen griep te beskerm. Die entstof bevat onaktiewe virale deeltjies wat jou liggaam leer om die virus te herken en te vernietig, sodat jy ’n immuunrespons teen griep ontwikkel. Dit beteken dat selfs al sou jy siek word met griep, sal jou simptome nie so erg wees nie en sal jou liggaam vinniger herstel as sonder die inenting.

Wanneer moet jy ingeënt word?

Dit neem omtrent 14 dae vir die liggaam om ’n immuunrespons te ontwikkel nadat jy ingeënt is. Dr Moses beveel aan dat jy die griepinenting kry sodra die entstof vir 2021 by Medihelp se netwerkapteekklinieke beskikbaar is, sodat jy reeds immuniteit opgebou het teen die tyd dat dit winter is.

Alle Medihelp-lede het toegang tot voordele vir ’n griepinenting as deel van hulle bykomende versekerde voordele vir voorkomende sorg. Deur jou griepinenting by ’n Medihelp-netwerkapteekkliniek te kry, is jy verseker van spesiale onderhandelde mediesefondstariewe wat help om bybetalings te voorkom.

Wie is kwesbaar?

  • Gesondheidsorgwerkers
  • Mense ouer as 65
  • Persone met bestaande ernstige mediese toestande soos long- en hartsiektes
  • Mense met MIV of vigs

Moet jy ’n griepinenting en ’n COVID-19-inenting kry?

Ja, volgens dr Moses. Hy verduidelik dat die twee inentings jou beskerm teen verskillende virusse wat almal jou respiratoriese stelsel affekteer. “Ek beveel aan dat jy minstens 14 dae wag nadat jy die eerste inenting gekry het voordat jy die ander een ontvang, sodat jou liggaam voldoende tyd het om ’n immuunrespons te ontwikkel.”

Die meeste Suid-Afrikaners sal tydens die derde fase van die regering se COVID-19-intentingsprogram ingeënt word teen COVID-19. Gesondheidsorgwerkers word gedurende fase een ingeënt en ander kwesbare persone sal gedurende die fase twee aan die beurt kom.

Sal jy griep kry van die griepinenting?

Nee, die entstof bevat nie ’n lewendige vorm van die virus nie en kan nie griep veroorsaak nie. Jy kan wel newe-effekte soos matige pyn, rooiheid, teerheid en swelling ervaar op die plek waar jy ingespuit is.

Wie moet nie die griepinenting kry nie?

Indien jy allergies is vir eiergeel, vorige allergiese reaksies op roetine-inentings gehad het of as jou dokter jou aanraai om nie ingeënt te word nie, moet jy nie die griepinenting kry nie.


Share this on: