Het jy al ooit gewonder of jou DNS is wat dit is en of dinge soos jou omgewing dit kan verander? Hier kyk ons hoe genetika en jou omstandighede dinamies saamwerk om gesondheidsuitkomste te beïnvloed.
Volgens Harvard Universiteit se Sentrum vir die Ontwikkelende Kind is epigenetika ’n nuwe, opwindende navorsingsveld wat wys hoe jou omgewing kan inwerk op watter van jou gene aan- of afgeskakel word. Met ander woorde, ‘geenuitdrukking’ (die proses waar die gekodeerde inligting in jou gene gebruik word om funksies in jou liggaam te verrig) word geraak deur die omgewing waaraan jy blootgestel word.
Navorsing wat deur die Sentrum en ander kenners op die gebied gedoen word, het die idee dat die genetiese samestelling waarmee jy gebore word onveranderlik is heeltemal op sy kop gekeer.
Wat nou duidelik is, is dat jou gene mettertyd chemiese merke opbou wat afhang van wat jy in jou lewe ervaar. Hierdie merke bepaal dan hoe jou gene later werk – hoeveel van jou genetiese bloudruk eintlik gebruik word
Dink byvoorbeeld aan twee kinders wat amper dieselfde genetiese samestelling het, soos boeties, sussies of selfs ’n tweeling. Ten spyte van hul eenderse gene kan hulle steeds heeltemal verskillend optree, verskillende gesondheidseienskappe of -probleme hê en selfs anders presteer.
Hierdie chemiese merke – of veranderinge aan jou DNS en die proteïene rondom jou DNS – word saam die ‘epigenoom’ genoem. Die merke kan van een sel na ’n ander oorgedra word, en selfs van een generasie na die volgende. Maar wat jy eet, die klimaat waar jy bly, of jy rook, alkohol drink, aan gifstowwe blootgestel word, hoe aktief jy is en hoeveel stres jy het, speel ook ’n groot rol daarin of jy ’n spesifieke siekte kry of nie.
Om dit eenvoudiger te stel, sê die VSA se nasionale navorsingsinstituut vir die menslike genoom dat die epigenoom (die merke) soos ’n reeks chemiese instruksies is wat jou DNS vertel wat om te doen, waar om dit te doen en wanneer. En dit alles gebeur al is die merke nie deel van jou DNS self nie.
Die groot vrae wat navorsers besig hou
’n Vraag vir navorsers en mense wat graag gesond wil bly, is wat die grootste uitwerking op jou gene het – gelukkige kinderjare vol liefde, of ’n werk waar die stres jou tot breekpunt dryf? Is die goeie of slegte invloede tydelik, of bly dit vir altyd? En as jy iets slegs doen, soos rook, en dan ophou, kan jy dit omkeer en weer heeltemal gesond word?
Medeprofessor Allan McRae aan die Universiteit van Queensland sê gene kan by sekere dinge ’n groot rol speel. Byvoorbeeld, as dit by lengte kom, bepaal jou gene sowat 80% daarvan, en jou omgewing net 20%. Hy verduidelik: “Die epigenoom help ons om omgewingsinvloede te verstaan. By bevrugting word die oorgeërfde epigenoom grootliks deur ’n proses van epigenetiese herprogrammering skoongevee en verander dan soos jy ouer word of as jy aan dinge blootgestel of siek word. Dit laat ons toe om te kyk hoe dit oor die jare verander.”
Dit bring ons by ’n paar belangrike vrae wat navorsers probeer beantwoord:
- Is metilering – ’n proses waar ’n geen aan- of afgesit word – die rede vir neurodegeneratiewe siektes (soos Parkinson se siekte) of chroniese geestesgesondheidstoestande (soos skisofrenie), of is metilering eerder iets wat gebeur ná die siekte begin?
- As jy ophou rook en minder stres het, kan dit jou ‘metileringsouderdom’ verlaag sodat siektes eers later in die lewe kom of selfs glad nie ontwikkel nie?
Die Sentrum vir die Ontwikkelende Kind sê goeie gesondheidsorg vir swanger vroue, ongeag demografie, en ’n omgewing waarin klein kindertjies liefdevol versorg word en stimulerende leerervarings het, is die beste manier om te verseker dat hulle epigenetika sterk bly.
Dit lyk of die dinge wat jy as klein kind ervaar, veral tydens vroeë breinontwikkeling wat vinnig gebeur, die grootste impak op jou gesondheid later in jou lewe het.
Wat sê ’n plaaslike kenner oor epigenetika?
“Die interaksie tussen die genetiese samestelling waarmee jy gebore word en omgewingsfaktore, en hoe omgewingsfaktore geenuitdrukking deur epigenetika kan beïnvloed, is fassinerend,” sê Dr René Goliath, ’n mediese biologiese wetenskaplike en genetiese berader. “Ons weet nou dat die manier waarop jy leef ’n groot verskil kan maak aan jou gesondheid op die lang termyn, want dit verander jou epigenoom.”
Volgens Dr Goliath is een van die interessantste dinge oor epigenetika bewyse uit dierestudies dat sommige van hierdie veranderinge na die volgende geslag oorgedra kan word. Hulle noem dit ‘transgenerasie-epigenetiese oorerwing’. Maar hoe dit presies in mense werk, en hoe groot die uitwerking daarvan is, word nog bestudeer.
“Hoewel die epigenoom grotendeels by bevrugting skoongevee word, kan sekere chemiese veranderinge oor generasies heen blywend wees en siekterisiko in toekomstige geslagte beïnvloed. Dít beklemtoon hoe belangrik dit is om ’n gesonde omgewing te skep, veral tydens vroeë kinderontwikkeling wanneer epigenetiese programmering plaasvind. Dit gee egter ook hoop: al begin jy later in jou lewe gesonder leef, kan dit jou gesondheidsbaan verander en dalk selfs jou kinders en kleinkinders help.”