Back 14 Feb, 2022 - Gesondheidsbewustheid

Back

Epilepsie: Ken die feite en weet wat om te doen wanneer iemand ’n toeval kry

Epilepsie: Ken die feite en weet wat om te doen wanneer iemand ’n toeval kry

Internasionale Epilepsiedag op 14 Februarie is daarop gemik om die publiek se bewustheid en kennis van epilepsie te verhoog. Ons verduidelik hierdie algemene neurologiese toestand, wat dikwels misverstaan word, in meer besonderhede.
Read more

Epilepsie is ’n eeueoue mediese toestand, en tog is dit steeds ’n siekte wat mense vrees en waaroor hulle onkundig is en nie wil praat nie. Die vrees is verstaanbaar: Dis traumaties om te sien hoe iemand ’n epileptiese aanval kry, veral as jy nie weet wat om te doen of te verwag nie.

Epileptiese aanvalle gebeur gewoonlik vinnig en onverwags, soos iemand wat so ’n voorval beleef het, vertel: “Ons het die een oomblik nog by die kombuistafel gesit en gesels toe my vriend skielik onsamehangend begin praat het. Kort daarna verstyf elke spier in sy lyf en val hy reg agteroor. Hy het begin om stuiptrekkings te kry en ons het vinnig ’n kussing onder sy kop gesit en gesorg dat hy homself nie beseer nie. Ongeveer ’n minuut later het die stuiptrekkings opgehou, en kort daarna het hy weer normaal begin asemhaal.

“Die aanval het nie langer as ’n minuut geduur nie, maar dit het baie, baie langer gevoel. Ek het egter geweet om paniekerig te raak of beheer te verloor, sou nie help nie,” sê hy.

Tipes aanvalle
Epileptiese aanvalle word veroorsaak deur ’n skielike opwelling in die brein se elektriese aktiwiteite. Afhangende van watter deel van die brein geaffekteer is, kan dit manifesteer as ’n verlies van bewussyn, ongewone gedrag of sensoriese gewaarwordinge, onwillekeurige bewegings of bewusteloosheid. Aanvalle word verder verdeel in gedeeltelike (waar slegs ’n deel van die brein geaffekteer is) en algemene (waar die hele brein geaffekteer is) toevalle.

Die bogenoemde geval was ’n voorbeeld van ’n algemene tonikokloniese toeval. Dit word ook ’n grand mal- of konvulsiewe toeval genoem, en behels ’n verlies van bewussyn en hewige toniese (styfspannende) en kloniese (rukkerige) spiersametrekkings. Hierdie tipe toeval word algemeen met epileptiese aanvalle geassosieer.

Ander tipes toevalle sluit in afwesigheids- (’n kort bewussynsverval), toniese, atoniese (skielike verlies van spiertonus wat veroorsaak dat die persoon val), kloniese en miokloniese (gekenmerk deur kort skokagtige rukke) toevalle.

Oorsake
Epilepsie kan veroorsaak word deur kopbeserings, ontwikkelingsafwykings, genetiese abnormaliteite of infeksies soos meningitis. In byna die helfte van alle gevalle is die oorsaak egter onbekend.

Hoe om iemand te help wat ’n toeval kry
’n Tonikokloniese toeval is die ernstigste soort toeval. Indien dit vir langer as vyf minute duur, moet jy die persoon dadelik by ’n dokter kry vir behandeling.

Doen die volgende:

  1. Bly kalm.
  2. Maak ’n nota van hoe lank die toeval duur.
  3. Kyk of die persoon enige tipe mediese identifikasie het wat die toestand beskryf.
  4. Ondersteun die persoon se kop met iets wat klein en sag is.
  5. Bly by die persoon totdat die toeval verby is en hy of sy wakker is en bewus is van wat om hulle aangaan.
  6. Sodra die toeval verby is, help die persoon om regop te sit in ’n veilige plek. Sê vir die persoon wat gebeur het sodra hy of sy wakker is en kan kommunikeer.

Ontbied ’n ambulans indien –
   -   Die toeval langer as vyf minute duur;
   -   Dit die eerste keer is dat die persoon ’n toeval kry;
   -   Die persoon ’n tweede toeval na die eerste een het;
   -   Die persoon sukkel om asem te haal of wakker te word na die toeval;
   -   Die persoon tydens die toeval beseer is;
   -   Die toeval gebeur terwyl die persoon in diep water is; ofor
   -   Die persoon aan ’n siekte (soos diabetes) ly of swanger is.

Mediese fondse se dekking vir epilepsie
Epilepsie kwalifiseer vir voorgeskrewe minimum voordele (VMV) wat in die Wet op Mediese Skemas gespesifiseer word om te verseker dat lede van mediese skemas toegang het tot sekere minimum gesondheidsdienste, ongeag die voordele-opsie wat hulle gekies het. Mediese skemas moet die koste van die diagnose, behandeling en sorg van VMV-toestande soos epilepsie ten volle betaal sonder om limiete of bybetalings toe te pas.

Bronne:
https://epilepsy.org.za/
https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/epilepsy/symptoms-causes/syc-20350093#:~:text=When%20epilepsy%20is%20diagnosed%20in,epilepsy%2C%20there's%20no%20apparent%20cause.
https://www.youtube.com/watch?v=7N74EFyEhUA&t=178s
https://www.youtube.com/watch?v=RxgZJA625QQ
https://www.cdc.gov/epilepsy/about/first-aid.htm


Share this on: