Die wêreld van moderne geneeskunde ontwikkel voortdurend en die aanpas van behandeling volgens mense se individuele behoeftes het ’n belangrike fokuspunt geword. Een deurbraakmetode wat veld wen, is farmakogenetiese toetsing. Dié soort toetsing ontleed jou genetiese samestelling om persoonlike insigte oor medikasie-reaksies te bied. In hierdie artikel praat ons oor die kernelemente van hierdie metode sodat jy ingeligte besluite oor jou gesondheid kan neem.
Chiara Auwerx en haar kollegas verduidelik in ’n artikel wat in Genetics and Genomic Advances, gepubliseer is dat die oorsprong van farmakogenetika na die 1950's terugdateer. Daar is tóé al vasgestel dat inter-individuele verskille in die reaksie op geneesmiddels gedeeltelik deur genetiese faktore bepaal word. Sedertdien het farmakogenetika tot ’n veld in eie reg ontwikkel om geïdentifiseerde geen-medikasie-interaksies vir terapeutiese toepassings te interpreteer.
Tradisioneel het dokters op die proefmetode staatgemaak deur pasiënte se reaksies waar te neem en medikasie daarvolgens aan te pas. Hierdie benadering het egter dikwels tot uitgerekte lyding vir pasiënte gelei omdat dit tyd kan neem om by die regte voorskrif uit te kom. Farmakogenetiese toetsing stel gesondheidsorgkundiges in staat om raaiwerk te verminder en medikasie meer akkuraat voor te skryf om newe-effekte tot ’n minimum te beperk en maksimum doeltreffendheid te behaal.
BeperkingsAlhoewel farmakogenetiese toetsing waardevolle insigte bied, is dit belangrik om die beperkings in ag te neem. Dit dek nie noodwendig alle geneesmiddels nie en faktore buiten genetika, soos dieet en ander medikasie, kan steeds jou reaksie op behandeling beïnvloed.
Dis ook belangrik om te onthou dat farmakogenetiese toetsing nie dieselfde is as genetiese toetsing nie. Genetiese toetse wat om gesondheidsredes gedoen word, kan help om siektes te diagnoseer. Farmakogenetiese toetsing diagnoseer nie toestande nie en kan nie wys of jy ’n risiko het om toestande te ontwikkel nie.
Jou toetsuitslae sal wys of jy enige mutasies het in die geen wat ondersoek is. Variasies in dié gene kan aandui dat jy moontlik newe-effekte van sekere geneesmiddels kan ervaar. Die geenmutasies sê egter niks oor jou gesondheidstoestand nie.
Wat kan jy met die resultate doen?Jou dokter sal die uitslae van jou farmakogenetiese toets saam met ander inligting oor jou toestand ontleed om ’n pasgemaakte behandelingsplan vir jou uit te wek of ’n bestaande een aan te pas. Dit sluit in die voorskryf van medikasie wat die beste in jou liggaam behoort te werk en die mees geskikte dosis om die beste terapeutiese uitwerking te behaal. Jou toetsresultate sal ook aandui of jy moontlik newe-effekte kan ervaar.
Bronne:
Auwerx C, Sadler MC, Reymond A, Kutalik Z. From pharmacogenetics to pharmaco-omics: Milestones and future directions. HGG Adv. 2022 Mar 16;3(2):100100. doi: 10.1016/j.xhgg.2022.100100. PMID: 35373152; PMCID: PMC8971318.
https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC8971318/
https://medlineplus.gov/lab-tests/pharmacogenetic-tests/#:~:text=Pharmacogenetic%20testing%20provides%20information%20about,cells%20swabbed%20from%20your%20cheek.