Nes geestelike en fisiese gesondheid, is finansiële welstand ’n lewenslange verbintenis wat gereelde aandag moet kry. En daar was nog nooit ’n beter tyd vir Suid-Afrikaanse vroue om beheer van hul finansiële toekoms te neem nie.
Met Vrouemaand in volle swang, is dit bemoedigend om te merk dat vroue nou 65% van Suid-Afrika se jeugverbruikersklas uitmaak, ’n generasie wat aktief die ekonomie hervorm en finansiële onafhanklikheid op hulle eie manier herdefinieer.
Daleen de Bruin, Hoof van Finansies by Medihelp Mediese Skema, merk op:
“Of jy nou ’n loopbaan begin, ’n gesin grootmaak of vir aftrede beplan, jou finansiële strategie moet saam met jou lewe ontwikkel. Verder is jou fisiese, geestelike en finansiële gesondheid diep verweef. Vooruitgang op een gebied kan betekenisvolle winste in die ander dryf.”
Die basis van finansiële fiksheid
“Om finansieel fiks te wees, beteken jy het die geld wat jy nodig het, wanneer jy dit nodig het om die lewe te geniet. Dis om nie angstig of bekommerd oor jou geld te voel nie,” sê gesertifiseerde finansiële beplanner Lachlan Bursle van Creative Financial Solutions. “Soos fisiese en geestelike fiksheid is finansiële fiksheid iets waaraan jy kan werk en mettertyd kan verbeter. Dit gaan oor doelwitte stel, die regte gedrag skep en by die plan hou.”
Hierdie ingesteldheid vind aanklank by baie Suid-Afrikaanse vroue, wat sterk finansiële gewoontes in sleutelareas toon. Hulle is geneig om versigtig te begroot, vooruit te beplan en doelgerig te spandeer terwyl hulle steeds ruimte laat vir emosionele of “beloning”-aankope.
Finansiële welstand is persoonlike welstand
Dié deurdagte geldkeuses gaan nie net oor rande en sente nie – dit weerspieël ’n dieper verbintenis tot holistiese welstand. Wanneer jy in beheer van jou finansies voel, verlig dit geestelike spanning, bou dit selfvertroue en skep dit ruimte vir gesonder keuses in ander areas van die lewe.
Soos De Bruin,wie nie net ’n voorstander van gesonde finansiële praktyke en gewoontes is nie, maar ook ’n ywerige CrossFit-fundi uitwys, is ware welstand die resultaat van klein, opsetlike dade wat konsekwent herhaal word. En dit geld vir jou fisiese, geestelike en finansiële gesondheid.
“Al klink dit eenvoudig”, sê De Bruin, “het ek deur my loopbaan en my persoonlike lewe geleer dat die basiese dinge werklik die sterkste fondasie bou. Net soos in CrossFit, waar klein, gereelde pogings lei tot blywende krag en veerkragtigheid, het ek gevind dat as ek gedissiplineerd is oor genoeg water drink, daagliks beweeg en oefen, en ’n paar minute neem om stil te wees en na te dink, neem ek skerper besluite, hanteer spanning makliker en ek bly op my doelwitte gefokus – insluitend my finansiële doelwitte. Hierdie gewoontes hou my geanker, en met tyd groei hulle waarde net soos ’n goeie belegging.”
Vooruitgang in een gebied het ’n rimpeluitwerking op die ander. Welstand is nie lineêr nie – dis ’n versterkende en diep persoonlike kringloop.
Die verskuilde koste van finansiële angs
Ongelukkig dra baie vroue steeds die swaar las van finansiële bekommernis. Sowat 80% van vroue rapporteer dat hulle finansiële spanning ervaar, met werklike gevolge vir hul gesondheid. Een van die vele gevare van chroniese stres is dat dit kortisolvlakke versteur. Kortisol reguleer gemoedstoestand, metabolisme en slaap. Wanneer ons nie ons finansiële angs bestuur nie, kan dit ons letterlik ons gesondheid kos.
Kortisol reguleer gemoedstoestand, metabolisme en slaap. Wanneer ons nie ons finansiële angs bestuur nie, kan dit ons letterlik ons gesondheid kos.
De Bruin merk op, “Finansiële welstand is ’n belangrike deel van holistiese gesondheid. Vroue prioritiseer dikwels ander se behoeftes, maar wanneer hulle (so te sê) in hul eie finansiële selfvertroue belê, kan hulle hul algehele welstand omvorm.”
Jou geïntegreerde pad na welstand: Ses strategiese stappe
Die goeie nuus? Jy kan jou balans terugkry met hierdie praktiese, bewysgebaseerde stappe:
1. Bemeester jou geldvloei met ’n realistiese begroting wat jou toelaat om goed te leef en aandagtig te spandeer. Dit stel hulpbronne vry vir gesondheid, rus en betekenisvolle ervarings.2. Belê in jouself deur oor geld te leer (met boeke, podsendings of kursusse), slaap te prioritiseer, en ’n fisiese aktiwiteit te kry wat jy geniet. Hierdie gewoontes verminder mediese koste en versterk besluitneming.
3. Bou jou veiligheidsnet met ’n noodfonds. Jy sal minder op duur skuld staat moet maak en jou senuweestelsel kalmeer deur jou asemruimte te gee wanneer die onverwagse gebeur.
4. Pak skuld doelgerig aan met die sneeubalmetode: betaal eers jou kleinste skuld af vir ’n gevoel van vordering. Momentum is kragtig, en skuldverligting is gesondheidsverligting.
5. Verstaan jou stresreaksie. ’n Bietjie stres kan motiverend wees, maar chroniese finansiële bekommernis is giftig. Balanseer jou kortisolvlakke met slaap, gebalanseerde maaltye en moontlik aanvullings (soos ashwagandha of omega-3’s, maar onthou om eers jou dokter te spreek).
6. Soek kundige ondersteuning van ’n gekwalifiseerde finansiële adviseur. Dit kan help om jou welstandsreis te versnel met persoonlike strategieë.
Dis die moeite werd om in jou toekoms te belê
Finansiële fiksheid is nie ’n bestemming nie; dis ’n daaglikse oefening wat selfvertroue bou, stres verminder en drome bemagtig. Suid-Afrikaanse vroue hervorm reeds ons ekonomie met doelgerigtheid en passie. Deur op daardie basis te bou met konsekwente beplanning, ondersteuning en selfsorg, kan jy finansiële stabiliteit en ’n gesonde, vry en vervulde lewe skep.
Of dit nou begin met jou eerste begroting of jou volgende oefensessie, die pad na holistiese welstand begin met een klein, doelbewuste stap.
Geskryf deur Vanessa Rogers met redaksionele verfyning deur Medihelp.