Back 06 Okt, 2026 - Medihelp

Back

Medihelpers stap sewe keer van Pretoria na Kaapstad en terug – in net ses maande

Medihelpers stap sewe keer van Pretoria na Kaapstad en terug – in net ses maande

Medihelpers stap meer as 21 000 km binne ses maande met Fitt.
Read more

80 miljoen treë, 21 344 kilometer en 44 dae se meditasie wys wat kan gebeur wanneer welstand in die werkplek mense aan die beweeg kry.

As Medihelp se werknemers in Februarie by die Skema se gebou in Pretoria weggespring en die pad Kaapstad toe gevat het, kon hulle teen Julie sewe keer soontoe en terug gestap het.

Gelukkig was dit nie nodig om ses maande se verlof te neem om dit te vermag nie.

Wat Medihelpers wél reggekry het, is indrukwekkend: saam het hulle in net ses maande meer as 80,1 miljoen treë aangeteken en daarmee 21 344 kilometer afgelê met Fitt, Medihelp se digitale welstandsgenoot.

En soos hulle meer treë gegee het, het hulle ook tyd gemaak om rustiger te raak: altesaam 64 271 minute se meditasie. Dit is 44 volle dae wat aan geestelike welstand gewy is.

Vir Medihelp wys dié syfers iets belangriks oor welstand in die werkplek: gee mense die regte ondersteuning, hulpmiddels en motivering, met ’n bietjie vriendelike kompetisie daarby, en gesonde voornemens kan gesonder gewoontes word.

Van weet na doen

Die meeste mense weet dat hulle meer moet beweeg, beter moet slaap, stres beter moet hanteer en gesonder keuses moet maak.

Maar om te weet en om te doen, is twee verskillende dinge.

Dit is een van die redes waarom Medihelp Fitt vir sy werknemers beskikbaar gemaak het. Dié digitale welstandsgenoot moedig gesonder gewoontes op verskillende gebiede aan, soos voeding, slaap, fisieke aktiwiteit, finansiële fiksheid en geestelike welstand.

Spelifiëring (“gamification”) en belonings maak van dié gewoontes uitdagings en doelwitte, en ’n KI-gesigskandering kan binne 40 sekondes ’n oorsig van gebruikers se gesondheid gee.

Dr Shay Ganesh, Hoof van Innovasie by Medihelp, sê die verwagting is nie dat mense hul leefstyl oornag moet verander nie.

“Om gesonder te leef, is eintlik die som van al die klein keuses wat ons oor en oor maak. Om te gaan stap. Om beweging bo stilsit te kies. ’n Paar minute tyd te maak om stres te hanteer. Aandag aan jou slaap te gee. En jou gesondheidsaanwysers te verstaan.

Fitt help mense om rekord te hou van al hierdie goeie gewoontes, te sien hoe hulle verbeter en, baie belangrik, gemotiveerd te bly om die gesonde keuses vol te hou.”

80 miljoen treë later begin klein keuses taamlik groot lyk

Tussen Februarie en Julie 2026 het al dié volgehoue keuses saam ’n groot verskil gemaak.

Medihelpers het die volgende totale aangeteken:

  • 80,1 miljoen treë (gelykstaande aan 21 344 kilometer)
  • 64 271 minute se meditasie (gelykstaande aan 44 volle dae)

Die afstand tussen Pretoria en Kaapstad is ongeveer 1 467 kilometer. Medihelpers het dus saam die ekwivalent van meer as sewe keer van Pretoria na Kaapstad en terug gestap.

Die aantal treë is meer as net ’n indrukwekkende statistiek oor welstand in die werkplek.

Gereelde fisieke aktiwiteit hou verband met beter kardiovaskulêre gesondheid en ’n laer risiko van vroeë dood. Navorsing toon dat selfs betreklik ligte daaglikse aktiwiteit gesondheidsvoordele inhou.

Net so kan meditasie en ander maniere om bewustelikheid te beoefen geestelike welstand ondersteun en mense help om stres en angs te hanteer.

Dit maak saak, want baie van die gesondheidskwessies waarmee Suid-Afrikaners te doene kry – soos hipertensie, hoë bloedglukose, kardiovaskulêre siekte en sommige geestesgesondheidstoestande – word deur ’n komplekse kombinasie van leefstyl-, omgewings-, genetiese en ander faktore beïnvloed.

’n Welstandstoepassing op sigself kan nie hierdie toestande voorkom of behandel nie. Dit kan egter ’n belangrike rol speel om gesondheidsrisiko’s te verminder en bestaande toestande te bestuur deur mense te help om meer aktief te wees, stres beter te hanteer, beter te slaap en meer aandag aan hul gesondheid te gee.

Welstand is nie iets wat een keer per jaar gebeur nie

Een van die belangrikste syfers wat Medihelp se ervaring met Fitt weerspieël, word waarskynlik glad nie in treë of kilometer gemeet nie.

Dié syfer is 63%.

Dit is wat Fitt se huidige deelnamekoers onder Medihelpers is.

Een van die grootste uitdagings met welstandsprogramme in die werkplek is om mense ingeskakel te hou. Die aanvanklike entoesiasme kan vinnig kwyn sodra die nuutjie verby is.

Daarom werk Medihelp doelbewus daaraan om welstand sigbaar en mense betrokke te hou.

Die Monday Morning Club, ’n weeklikse, interaktiewe nuusbulletin vir Medihelpers, kondig elke week nuwe aktiwiteite aan. Digital Therapeutic Pathways bied gestruktureerde maniere om mense te help om aktief te raak en aktief te bly. Vriendelike kompetisie tussen besigheidseenhede skep kameraadskap, en met e-pos-, Microsoft Teams- en WhatsApp-kommunikasie word werknemers op hoogte en gemotiveerd gehou.

Spelifiëring en belonings voeg nog ’n belangrike bestanddeel by: pret.

“Mense gaan nie noodwendig hulle gewoontes verander omdat ’n werkgewer sê hulle moet gesonder leef nie,” sê Ganesh.

“Gesonder keuses moet haalbaar, interessant en lonend gemaak word. En daar moet heeltyd redes wees om dit vol te hou.”

Ons voeg daad by die woord

Vir Medihelp gaan dit oor meer as werknemerwelstand.

As mediese skema beskerm Medihelp sy lede met dekking vir gesondheidsorg wanneer hulle dit nodig het. Maar dit gaan nie net oor dekking nie. Medihelp glo ook daarin om mense te help om gesonder gewoontes aan te leer sodat hulle langer gesond kan leef.

Dieselfde filosofie geld vir die Skema se benadering tot werkplekwelstand vir werkgewergroepe wat by Medihelp is.

Vir Medihelp is welstandsdae nie losstaande gebeurtenisse nie. Sy benadering tot korporatiewe welstand kombineer welstandservarings met gesondheidsinsigte en doelgerigte intervensies om werknemers ook ná hul welstandsifting te ondersteun.

Tog glo Medihelp hy moet eers bereid wees om dieselfde vir sy eie mense te doen voordat ander organisasies aangemoedig word om anders oor welstand in die werkplek te dink.

“Ons is trots daarop dat ons ons werknemers rondom iets wat op individuele én organisasievlak ’n impak het, bymekaarbring en dit met pret volhoubaar maak,” sê Ganesh.

80 miljoen treë later ... en Medihelpers het nog nie die einde van die pad bereik nie.

Maar om sewe keer van Pretoria na Kaapstad en terug te stap, wys beslis dat hulle in die regte rigting beweeg.

*Vanaf 2027 word uitgesoekte voorkomende gesondheidsfunksies van die Fitt‑app met die nuwe Medihelp-app geïntegreer. Dit gee lede ’n gerieflike manier om hulle mediese fonds te bestuur en ’n meer aktiewe rol in hulle gesondheid te speel.


Share this on:
Aanlynklets

Voltooi die velde hieronder om met 'n konsultant te klets.