Wêreld Outismedag word op 2 April herdenk, wanneer ons erkenning gee aan die uniekheid van mense wat met outisme saamleef en die uitdagings wat hulle moet oorkom om dié toestand te hanteer.
Wat is outisme en outisme-spektrumsteuring?
Outisme, of outisme-spektrumsteuring (OSS), is ’n komplekse neurologiese en ontwikkelingsteuring wat wesenlike sosiale, kommunikasie- en gedragsprobleme tot gevolg kan hê. OSS sluit eintlik ’n reeks toestande in, onder andere Asperger-steuring en omvattende ontwikkelingsteurings. Dit affekteer mense op verskillende maniere en tot ’n mindere of meerdere mate, en kan verskeie simptome hê, soos die volgende algemene simptome by kinders:
- Lekkerbekkig
- Snap nie sekere sosiale tekens nie en reageer nie op uitdrukkings soos wanneer mense glimlag nie
- Herhalende gedrag, soos onrustigheid en speelgoed in rye pak
- Uitbarstings
- Vertraagde spraakontwikkeling
- Kyk mense nie in die oë nie
- Sensitief vir sensoriese omgewings, byvoorbeeld verskillende teksture soos sand, warm en koue voorwerpe, of vermy geluide deur hulle ore toe te druk
- Kan nie verbeelding tydens speel gebruik nie, soos om te maak of ’n stuk hout ’n speelgoedkarretjie is nie
- Vertraagde ontwikkeling van motoriese vaardighede soos fyn motoriese vaardighede
Wat veroorsaak outisme en hoe word dit gediagnoseer?
Daar is nie een uitsluitlike faktor wat outisme veroorsaak nie, en volgens navorsing het die toestand ’n genetiese asook omgewingsoorsprong.
Outisme kan gediagnoseer word by kinders van so jonk as drie jaar. ’n Diagnose vereis ’n multidissiplinêre assessering, waar verskeie spesialiste siftingsprosedures, toetse en evaluasies gebruik om ’n persoon se ontwikkelingsgeskiedenis en gedrag te evalueer ten einde ’n diagnose te maak.
Multidissiplinêre spanwerk by outisme
Daar sal waarskynlik verskeie gesondheidsorgverskaffers en praktisyns betrokke wees by die proses om outisme te diagnoseer en die toestand te behandel ná die diagnose.
- Neuroloë kan ’n rol speel in die diagnose van outisme deur te help om ander neurologiese toestande uit te skakel.
- Pediaters speel ’n noodsaaklike rol in die vroeë identifisering van kinders wat moontlik outisme het asook met die behandeling van die toestand deur byvoorbeeld medisyne voor te skryf wanneer nodig vir die behandeling van simptome soos swak slaapgewoontes.
- Spraakterapeute kan help om spraak- en kommunikasieprobleme te behandel.
- Arbeidsterapeute help met die ontwikkeling van sekere vaardighede soos fyn motoriese vaardighede.
- Omdat eet en voeding erg problematies vir mense met outisme kan wees, sal dieetkundiges hulle help om gesonde dieetkeuses te maak sodat hulle al die nodige voedingstowwe inkry.
- Sielkundiges is dikwels betrokke by die diagnose van outisme, terwyl opvoedkundige sielkundiges kan help om hulle leervaardighede te verbeter.
Watter bystand gee Medihelp aan pasiënte met outisme?
“Die toestande in hierdie spektrum het verskeie simptome en diagnoses, daarom is dit belangrik dat pasiënte wat moontlik outisme het deur ’n multidissiplinêre span evalueer word,” sê dr Christo du Preez, senior bestuurder van innoverende gesondheidsorg by Medihelp. “Sommige diagnoses kwalifiseer vir voorgeskrewe minimum voordele (VMV), wat Medihelp ten volle befonds in ooreenstemming met VMV-wetgewing.”
Dienste soos konsultasies en die behandeling van outisme word normaalweg uit lede se dag-tot-dag-voordele betaal.
“Wanneer ’n lid van die gesin gediagnoseer word, betrek dit die hele gesin. Die las van hierdie siektespektrum word nie net gedra deur die persoon wat gediagnoseer word nie, maar deur elke lid van die gesin. Dit beteken ons sal ook help om die las te verlig,” sê dr Du Preez.
Hoe om ’n persoon met outisme te help floreer
Hoewel daar geen “kuur” vir outisme is nie, is daar ’n hele paar dinge wat jy kan doen om die lewe vir mense met outisme makliker te maak:
- Hou by skedules en roetines, en gebruik ’n visuele skedule wat hulle kan help om roetines te volg – probeer die voorbeeld by hierdie skakel: https://www.speciallearninghouse.com/how-to-make-a-visual-schedule-autism/
- Beloon goeie gedrag as ’n manier om positiewe versterking te gee. Prys hulle toepaslik wanneer hulle dit verdien, byvoorbeeld wanneer hulle ’n nuwe vaardigheid aangeleer het of reg optree.
- Wees bewus van hulle sensoriese sensitiwiteit vir byvoorbeeld lid, aanraking, geluide en reuke, aangesien sommige hiervan uitbarstings kan veroorsaak of hulle kan bang maak. Raadpleeg ’n speelterapeut of arbeidsterapeut oor maniere hoe jy hulle aan sensoriese elemente kan bekendstel sodat hulle geleidelik hul hipersensitiwiteit kan oorkom.
- Vra ’n kenner soos ’n arbeidsterapeut om ’n aksieplan op te stel vir die verbetering van hulle leervaardighede en die stimulering van positiewe gedrag.
- Herinner hulle om jou in die oë te kyk wanneer julle met mekaar praat.
- Verduidelik gereeld sosiale tekens aan hulle deur vir hulle prentjies te wys of selfs wanneer so ’n situasie opduik – doen dit op ’n geduldige en liefdevolle manier.
- Baie mense met outisme neem graag risiko’s, maar hulle is nie altyd bewus van hul grense nie. Verduidelik die gevare van riskante gedrag aan hulle, byvoorbeeld dat hulle kan seerkry as hulle van ’n bank of ’n koffietafel afspring.
- Dit is belangrik vir mense met outisme om onafhanklik te wees, daarom moet jy sorg dat jy hulle wys hoe om dinge self te doen, byvoorbeeld aan te trek. Moedig hulle dan aan om dit te doen elke keer wanneer hulle in so ’n situasie is.
- Wees geduldig wanneer hulle ’n uitbarsting het. Anders as neurotipiese kinders wat sal ophou met wangedrag sodra hulle hul sin kry, sal kinders met outisme se uitbarsting nie ophou nadat hulle kry wat hulle wil hê nie. Deur hulle in sulke situasies te dissiplineer en streng met hulle te wees, gaan nie help nie – probeer eerder om hulle te kalmeer en op iets anders te fokus.
Bronne:
Autism Society: https://autismsociety.org/screening-diagnosis/Autism South Africa: https://aut2know.co.za/understanding-autism1/
Autism Speaks: https://www.autismspeaks.org/what-are-symptoms-autism
NWU: https://news.nwu.ac.za/complex-world-autists
Milestones Autism Resources: https://www.milestones.org/get-started/for-community-at-large/interacting-with-autistic-people